Jansies verder voor na nóg ‘n voortreflike vertoning
Die kenmerk van ‘n uitstaande span is dat hulle, selfs na ‘n loslootjie, steeds soos ‘n goed geoliede masjien funksioneer.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (wwwsupersportsportschools.com)
Hoërskool Dr. EG Jansen het dié toets met vlieënde vaandels geslaag na sy loslootjie in die vorige ronde van die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling.
Die Jansies het ‘n voortreflike vertoning van hardlooprugby opgedis om Hoërskool Rustenburg met 48-21 in Boksburg te karnuffel.
Die Jansies se gevaarmanne agterlangs kon, danksy ‘n stewige grondslag deur die voorspelers, 24 punte in elk van die twee helftes aanteken.
Die Arende se voorry het hul stempel deeglik afgedruk, met vaskopstut en kaptein, Duwan Potgieter, wat oudergewoonte van voor gelei het. Sy kollegas, Danré Pike (haker) en Zian Marais (loskopstut), het nie alleen soos tiere verdedig nie, maar ook ‘n keer of wat, met die bal in hand, die Rusties laat bontstaan.
Oopkantflank, Zaide-Leigh Rippenaar, het sy terugkeer aangekondig met ‘n aantal begeesterde lopies in gebroke spel en beïndruk met sy bedrieglike systap, terwyl die Jansies se linkervleuel, Keanu van Loggerenberg, weer sy vaart en venynige voetwerk tentoongestel het.
Dit was egter steelkantflank en een van die Jansies se voorste driedrukkers in vanjaar se seisoen, Gerhad van Aswegen, wat uiteindelik die kollig gesteel het. Die veelsydige Van Aswegen, wat sy staal op slot en agtsteman ook al gewys het, het drie keer oorgebars vir ‘n indrukwekkende driekuns aan drieë.
Die Rusties se indrukwekkende heelagter, Lorenzo Snyers, was nietemin meer as opgewasse om die Jansies ‘n paar keer in die stof te laat byt met sy teenaanvalle, terwyl oopkantflank, Wickus Jacobs, waarskynlik sy beste vertoning van die jaar gelewer en dit gevier het met ‘n uitmuntende tweekuns.
In Johannesburg, het Helpmekaar Kollege kwaai beïndruk na twee teleurstellende wedstryde oor die laaste paar weke. Die Helpies het vir die besoekende Hoërskool Marais Viljoen ‘n behoorlike loesing van 62-24 toegedien.
Heelagter, Tiaan le Roux, het weer die veld aan die brand gespeel, met sy teenaanvalle, wat ‘n mens laat dink het aan dié van sy Sprinkbok-naamgenoot, Willie le Roux, vroeër in sy loopbaan. Le Roux is met twee besoeke agter die doellyn beloon.
Senter, Vernon Beyer, het sy geleentheid in die beginspan, weens beserings, aangegryp, die bal met mening opgeneem en, nes Le Roux, die besoekers se verdediging twee keer deurgedring vir drieë.
Michael Benzien, die Helpies se staatmaker in die nr. 10-trui, was dodelik akkuraat met sy korrelwerk pale toe en het ses doelskoppe, asook ‘n drie, aangeteken vir ‘n persoonlike bydrae van 17 punte.
Op sy beurt, was Recce Gerber, die besoekers se loskakel, weer uitstekend. Gerber, waarskynlik die span van Alberton se beste speler vanjaar en een van die top-losskakels in die kompetisie, het met sy goeie visie en uitstaande taktiese skopwerk hard probeer om sy span in die wedloop te hou.
Dit was juis een van sy slinkse steekskoppies wat aan linkervleuel, Weon van der Vyver, een van sy twee drieë besorg het. Van der Vyver was deurgaans ‘n gevaar aan die buitekant, terwyl Devin Raubenheimer uitgeblink het in die middeveld. Van der Vyver en Raubenheimer is elk met ‘n tweekuns beloon.
Puntemakers:
Dr. EG Jansen 48 (24) – Drieë: Gerhardt vs Aswegen (3), Keanu van Loggerenberg, Matthew Bergman, Danre Pike, Zade-Leigh Rippenaar, TK Ngobese. Doelskoppe: Matthew Bergman (5). Jean-Dre Claasen. Hoërskool Rustenburg 21 (7) – Drieë: Wickus Jacobs (2), Lorenzo Snyers. Doelskoppe: Snyers, Awie Alberts.
Helpmekaar Kollege 62 (24) – Drieë: Tiaan le Roux (2), Vernon Beyer (2), Delano Maritz, Pieter Moller, Michael Benzien, Molatsi Moloi, Zandre van der Westhuizen, Darius Haasbroek. Doelskoppe: Michael Benzien (6). Marais Viljoen 24 (7) – Drieë: Weon van der Vyver (2), Devind Raubenheimer (2). Doelskoppe: Recce Gerber (2).
Ander spanne:
o.16: Rustenburg 15, EG Jansen 5; Helpmekaar 93, Marais Viljoen 0.
o.15: Rustenburg 20, EG Jansen 19; Helpmekaar 54, Marais Viljoen 14.
o.14: Rustenburg 26, EG Jansen 0; Helpmekaar 106, Marais Viljoen 5