Jansies se Jones Brakkies se baas, Klerksdorp se Matthyse laat vyf spat
Hoërskool Dr. EG Jansen het ‘n ware lopiefees geniet op die tweede dag van die Izintaba Gimmies-Krieketfees.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Jansies se Jazz Jones was grotendeels verantwoordelik vir die Jansies se jolyt na ‘n reuse oorwinning van 275 lopies oor Hoërskool Brackenfell.
Die voorslagkolwer was in ‘n omgekrapte bui en het die Brackenfell-boulers van meet af kwaai gekasty. Sy 113 lopies van slegs 62 aflewerings het 20 viere en ‘n ses, teen ‘n gesonde treftempo van 182.26, ingesluit. Dus het hy 86 van sy lopies met grenshoue aangeteken.
Jaco Engelbrecht het ook gelyk of hy haastig êrens heen op pad was vir sy 61 lopies van slegs 44 balle, terwyl Jayden Barnes (47) en Jayden Marcus (32) verder bygedra het tot die Jansies se allemintige totaal van 344, almal uit, in slegs 39 beurte.
Die lopie-neerslag is uiteindelik danksy ‘n merkwaardige boulvertoning deur Brackenfell se aanvangsbouler, Jean Oosthuizen, gestuit. Hoewel Oosthuizen ietwat aan die duur kant was, het hy, onder taamlike druk, steeds daarin geslaag om vyf paaltjies te laat kantel.
Jansies se Adrian Ristow het sy vyf paaltjies van die vorige dag opgevolg met ‘n verdere vier paaltjies, vir slegs vyf lopies, in sy ses beurte. Tesame met Jayden Marcus se 3/10, het dit die span van die Wes-Kaap tot ‘n teleurstellende 69 lopies beperk.
Hoërskool Klerksdorp se Brendan Matthyse kan uiters tevrede voel met sy boulvertoning. Matthyse het, met die nuwe bal, korte mette gemaak met Hoërskool Trio se kolflys om te verseker dat sy span op ‘n drafstap met 112 lopies seëvier. Die aanvangsbouler het vyf Trio-kolwers teruggestuur pawiljoen toe.
Klerksdorp se voorslagkolwer, Tiaan Koen (66*) en Stephan Janse van Rensburg (62) het daarna met die kolf bygedra tot hul span se totaal van 222 .
Trio se Bokany Mohasa en Gabriel Mokoabe het nietemin goed gevaar met die bal deur elkeen drie paaltjies plat te trek en gesamentlik slegs 34 lopies af te staan.
Beknopte telkaarte:
Dr. EG Jansen 344 (Jazz Jones 113, Jaco Engelbrecht 61, Jayden Barns 47, Jayden Marcus 32; Jean Oosthuizen 5/70); Brackenfell 69 (Jean Oosthuizen 38; Adrian Ristow 4/5, Jayden Marcus 3/10). EG Jansen wen met 275 lopies.
Hoërskool Klerksdorp 222 (Tiaan Koen 66*, Stephan Janse van Rensburg 62, Raykie van Rooyen 22; Bokany Mohasa 3/15, Gabriel Mokoabe 3/19, Danie Fourie 2/10); Hoërskool Trio 110 (Bokany Mohasa 33*, Danie Fourie 23; Brendan Matthyse 5/17). Klerksdorp wen met 112 lopies.