Jansies en Garsies steeds onoorwonne, Monnas en Klofies in stryd vir plek in halfeindronde

BOKSBURG. – Die tafel is gedek vir ‘n opwindende laaste ronde groepwedstryde in die Beker-afdeling van die SDC Noordvaal Cup.
Die enigste twee onoorwonne spanne in die kompetisie, EG Jansen en Garsfontein, sal mekaar in Boksburg pak om te besluit wie bo-aan die puntelys sal eindig.
Die Jansies was amper hul onoorwonne status kwyt toe hul Saterdag danksy ‘n drie in die doodsnikke deur sy buitesenter, Jeandré Jacobs, ‘n sege van 31-29 teen Noordheuwel kon deurskraap.
Jacobs is tot dusver die voorste driedrukker in die reeks. Hy het al 12 keer vanjaar in sy span se sewe wedstryde agter die doellyn gaan kuier.
Nories se afrigtingspan onder leiding van Stefan “Botter” Lourens sal na die seisoen terugkyk as een van wat kon gewees het. Lourens sou ongetwyfeld so paar gryshare deur die jaar bygekry het.
Dit was Saterdag die derde week in ‘n ry wat Noordheuwel se Blues in die doodsnikke van ‘n sege ontneem is. Boonop was die twee laaste wedstryde moontlike seges oor die twee voorlopers in die reeks, EG Jansen en Garsfontein (28-30).
Drie weke gelede het die Nories met 42-elk gelykop teen Waterkloof gespeel na hulle ook vir die grootste deel van die wedstryd voorgeloop het voordat Klofies in die doodsnikke sake gelyk getrek het.
Buiten Jacobs wat met sy twee drieë op die aanval vir EG Jansen uitmuntend was, het sy agtsteman, Storm Labuschagne, asook die flank Zaide-Leigh Rippenaar goeie vertonings gelewer. Die plaasvervanger-vleuel, Jeandré Claassens, het ook ‘n waardevolle bydra tot die sege gelewer.
Nories se twee losvoorspelers Ludie Schutte en Marco Maree was hul span se beste spelers op die dag. Veral Schutte was by die afbreekpunte asook op die verdediging vir sy span goud werd. Die tuisspan het meeste van die balbesit asook gebiedsvoordeel in die eerste helfte geniet, maar danksy die twee se spel kon Nories ‘n voorsprong van 19-0 geniet.
Indien ons dit nog nie vanjaar gesê het nie – Noordheuwel se buitesenter, Cheswill Jooste, is ‘n spesiale rugbyspeler. Of hy op heelagter of die middelveld diens doen het geen impak op sy spel nie. Sy sentermaat, Marshall de Vos, het ook in die eerste helfte amper soos nog ‘n baljagter vir Schutte en Maree by die afbreekpunte bygestaan.
Waterkloof het sy kanse om tot die halfeindronde deur te dring lewend gehou deur vir Marais Viljoen van Alberton met 38-34 te klop. Die bonuspunt-sege beteken dat Klofies se kragmeting volgende week op sy tuisveld teen die verdedigende kampioen, Monument, nou as ‘n kwarteindstryd gesien kan word.
Klofies het teen rustyd ‘n voorsprong van 24-14 teen Marais Viljoen opgebou. Die span van Alberton het in die tweede helfte nie gaan lê nie en Waterkloof se Blou Tornado moes vasbyt vir hul sege.
Garsfontein was in ‘n vernietigende bui op Bere-park in Pretoria teen die Hoërskool Nelspruit. Die span se Cravenweek-losskakel, Nicallen Gabrielsen, het 23 van sy span se punte in hul wegholsege van 89-10 oor die Rhinos aangeteken.
De Wet Lottering (haker), Cassie Prinsloo (vleuel), Heinrich Cloete (binnesenter) en Ruan Enslin (vleuel) het elk dubbelle-driedrukplesier ervaar terwyl die Bere 13 drieë ingeryg het.
Monument se Wit Bulle was soos ‘n stoomtrein en het Menlopark met 111-7 in Pretoria afgeransel. Die span van Krugersdorp was teen rustyd met die telling op 52-7 reeds stewig in die saal.
Monnas se Jody Schambreel (buitesenter) en Ceano Everson (skrumskakel) het behoorlik baljaar en elk vier keer ‘n draai agter die doellyn gemaak. Die linkervleuel, Ernesto Oersen, het self ‘n driekuns aan drieë voltooi, terwyl die regtervleuel, Hanu Fourie, self twee keer die doellyn oorgesteek het.
Die Wit Bulle het 18 drieë ingeryg, waarvan die losskakel, Daylon Myners, elf vir ‘n persoonlike bydra van 22 punte verdoel het.
Puntemakers:
EG Jansen 31 (0) – Drieë: Jeandré Jacobs (2), Danré Pike, R-Jay Pietersen, Gordon Smith. Doelskoppe: David Twala (3). Noordheuwel 29 (19) – Drieë: Cheswill Jooste, Jenemo Luiters, Jade Muller, Keaton van Deventer. Doelskop: JT Kapank (3). Strafdoel: Kapank.
Waterkloof 38 (24) – Drieë: Francois Viljoen (2), Stephan Jacobsz, Sjaan Steyn, Hernus Marais. Doelskoppe: Franco Cronjé (4). Marais Viljoen 34 (14) – Drieë: Dian Scheepers (2), Phillip Jonker, Cephas van Biljon, Caydinn Fredericks. Doelskoppe: Recce Gerber (3). Strafdoel: Gerber.
Garsfontein 89 (47) – Drieë: De Wet Lottering (2), Cassie Prinsloo (2), Heinrich Cloete (2), Ruan Enslin (2), Aiden King, Zian Cilliers, Nicallen Gabrielsen, Demitri Erasmus, Jason Hugo. Doelskoppe: Nicallen Gabrielsen (9), Handré Maree (2), Cilliers. Hoërskool Nelspruit 10 (10) – Drie: Hughwinn Heyman. Doelskop: Theuns Meyer. Strafdoel: Meyer.
Monument 111 (52) – Drieë: Jody Schambreel (4), Ceano Everson (4), Ernesto Oersen (3), Hanu Fourie (2), Tristan da Costa, Roelf Jacobs, RJ Barnard, Jamaal Feldman, Geoffrey French. Doelskoppe: Daylon Myners (11), Justin Viljoen (2). Menlopark 7 (7) – Drie: Jayden Fortuin. Doelskop: Fortuin.
Ander spanne:
o.16: Noordheuwel 26, EG Jansen 23; Marais Viljoen 19, Waterkloof 18; Garsfontein 31, Nelspruit 24; Menlopark 32, Monument 24.
o.15: Noordheuwel 21, EG Jansen 13; Waterkloof 53, Marais Viljoen 0; Nelspruit 7, Garsfontein 6; Monument 36, Menlopark 7.
o.14: EG Jansen 5, Noordheuwel 0; Waterkloof 32, Marais Viljoen 0; Garsfontein 15, Nelspruit 7; Monument 52, Menlopark 22.




