SuperSport Schools Plus

Jannie Geldenhuys sal Vrystaat by Cravenweek brei

By Franco Oberholzer , in Featured | Main Rugby | Featured Rugby | News , at 2026-02-12 Tags: , , ,

FOTO: Verskaf.

Jannie Geldenhuys, Adjunk-hoof en hoofbreier van die Springbok-rugbyfabriek in Bloemfontein, Grey Kollege, is Woensdagmiddag, 11 Februarie verkies as die nuwe hoofafrigter van Vrystaat se Cravenweek-span.

Geldenhuys dien sedert Mei 2025 as dié rugbyreus se adjunkhoof, maar is sedert 2013 in diens van die skool as Ingenieursgrafika en Ontwerp-onderwyser.

Hy het in 2021 by Wessel du Plessis as hoofafrigter van die Grey Kollege-eerstespan oorgeneem. Tydens sy 13 jaar as afrigter in die Rosestad het Geldenhuys goeie ondervinding opgedoen.

Sy voetspore in “Cheetah-land”, soos daar gereeld na die Vrystaat verwys word, het begin toe hy in 2016 deel van die Vrystaatse o.19 Curriebeker-span se breinstrust uitgemaak het.

Dié is gevolg deur twee jaar in die provinsie se junior strukture waar hy in, onderskeidelik 2018 en 2019, die Grant Khomo-span gebrei het.

Geldenhuys het selfs met huidige Springbok-breier Rassie Erasmus en voormalige Springbok-breier Jacques Nienaber, asook die voormalige SA o.20-afrigter Dawie Theron, skouers geskuur.

Sý geleentheid het gekom met sy insluiting by die afrigtingspan van die o.16 hoëprestasiegroepe wat deur SA Rugby gekies word om diepte op junior vlak te vergroot.

As speler het hy, natuurlik, vir Grey uitgedraf en self in 2007 vir die Vrystaat by die Cravenweek verskyn. Hy het sy loopbaan voortgesit deur vir dieselfde unie in die o.19 Curriebeker te speel. Betrokkenheid by die Vrystaatse o.19 span het ook beteken dat hy vir die Universiteit van die Vrystaat op o.19-, o.21- en eerstespanvlak uitgedraf het.

Die Vrystaters het verlede jaar in Middelburg, met slegs een nederlaag teen Suidwestelike Distrikte (35–34) op die eerste dag, ‘n vleklose rekord verbrou. Dit is egter spoedig reggestel. Die Blou Bulle was die slagoffer van die terugslag, gevolg deur die Haaie wat op die laaste dag onder die Vrystaters se hardlooprugby deurgeloop het.

Meyer van Tonder, ook van Grey Kollege, sal as Geldenhuys se hulpafrigter dien. Van Tonder het self in die Varsitybeker vir die Sentrale Universiteit van Tegnologie se Ixias uitgedraf. Njola Ntwa sal die Grey-duo as spanbestuurder ondersteun.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.