Jade Brigade kom op Noord/Suid voor sy grootste toets tot nog te staan
Die Hoërskool Stellenberg het sedert sy rugbyprogram ‘n herlewing beleef het al groot tree gegee om saam met die groot honde op gereelde basis te blaf en sommer ook te byt. 
Die Jade Brigade kom egter Vrydag tydens die eerste dag van die NMI Toyota Menlyn Noord/Suid-toernooi teen ‘n perd van ‘n ander kleur, Grey-kollege, te staan. Dié hoofwedstryd van die eerste dag sal die eerste keer in die geskiedenis wees dat die twee skole se eerstespanne mekaar op die rugbyveld ontmoet.
Grey was tot dusver vanjaar vernietigend en dit was veral die tempo waarmee die span van Bloemfontein gespeel het, wat kenners regop laat sit het. Die span van die Rosestad het tot dusver vir Welkom Gimnasium (64-15) en Duineveld (86-0) kaf gedraf.
Grey is sonder twyfel vanjaar omgesukkel en sal vanjaar weer onder die voorste drie spanne in Suid-Afrika tel. In sy geledere is Caleb Abrahams (skrumskakel), Alfondso Isaacs (senter) en Juanré Breitenbach (haker) wie se name nog baie vanjaar gehoor sal word. Veral Abrahams speel met sy flinke diens ‘n belangrike rol in sy span se hoë tempo spelpatroon.
Stellenberg was ook vanjaar al twee keer in aksie met ‘n sege oor HTS Drostdy (33-27) tydens Boland Landbou se jaarlikse rugbydag, terwyl hy ook die knie met 12-6 teen Paarl Gimnasium verlede week moes buig.
Dié nederlaag teen Paarl Gimnasium is egter die wedstryd waaruit die span so bietjie selfvertroue vir die uitdaging teen Grey sal put. Op papier voor die seisoen sou meeste skolerugby-kenners en -entoesiaste hul geld op Paarl Gimnasium of Grey-kollege gesit het om die seisoen as die voorste skolespan af te sluit. So die Jade Brigade se afrigters, Divan Batt en Corné Kannenmeyer, sou waarskynlik vooraf baie tevrede gewees het indien hul dié telling van 12-6 aangebied was.
Dit beteken dat Stellenberg gewis nie onderskat kan word deur Grey vir die kragmeting nie. Stellenberg se flank Wessel Joubert sal wel soos teen Gimmies weer die veld vol moet speel indien hy wil sorg dat sy span ‘n teenvoeter vir Grey se tempo-rugby het.
Die wedstryd word regstreeks deur SuperSport Schools gebeeldsend op YouTube, DStv Now asook via hul toepassing – die direkte skakel na die wedstryd is – https://bit.ly/SoRNoordSuid1.
 
Die spanne is:
Grey-kollege: 15 Gunter van Rensburg, 14 Martin Botha, 13 Alfondso Isaacs, 12 Ulrich Wahl, 11 Janco Scheepers, 10 Bradley Giddy, 9 Caleb Abrahams, 8 Jean-Henri Smit, 7 Lukas Meyer, 6 Marno Stopforth, 5 JF van Heerden, 4 Ranon Fouché, 3 Casper Badenhorst, 2 Juanré Breitenbach, 1 Tat Botha. Plaasvervangers: 16 Nick Greyling, 17 AJ Burger, 18 Jean Erasmus, 19 Keegan Scholtz, 20 Morné Diederichs, 21 Christiaan van der Westhuizen, 22 Ian van der Merwe, 23 Benito Goeda, 24 Hayden Tolmay.
Stellenberg: 15 Jayson January, 14 Chad van Wyk, 13 Gideon Anderson, 12 Damian Markus, 11 Ughan Africa, 10 Tommie Smook, 9 Aiden Muller, 8 Franco Roux, 7 Wessel Joubert, 6 Kobus Verster, 5 Corné Bruwer, 4 Daniel Kennon, 3 Herman Lubbe, 2 Josh Lilistone, 1 Skye Watkins. Plaasvervangers: 16 Damian Labuschagne, 17 Niel de Beer, 18 Stiaan Grobbelaar, 19 Joshua Hugo, 20 Damon Pereira, 21 Bambo Mngomeni, 22 Ruben Thompson, 23 Tyrone Labuschagne.
[powr-comments id=”6e002448_1648141485618″]
 



