Itec-span kraai koning in Engeland
DIE rugbyspan wat na afloop van die VKB-week in Reitz gekies is, het in die onlangse skoolvakansie twee goeie seges op sy toer deur Engeland behaal.
In die span se eerste kragmeting teen die Bishops Stortford van Oxford was die Suid-Afrikaners oortuigend met 66-14 baas. Die span se losskakel, Henco “Rambo” de Wet van Brandfort, het drie keer agter Stortford se doellyn gaan kuier en ook die enigste twee stelskoppe wat hy op die toer skeef gekorrel het, in dié wedstryd misgeskop.
Hy het agt van die span se tien drieë in die kragmeting verdoel vir ’n persoonlike bydrae van 31 punte.
De Wet was een van die Suid-Afrikaners se uitstaande spelers op die toer. Hy en die skrumskakel van Zastron, Ruan Goosen, was saam met Suid-Natal se kantman, Brendon Rademeyer, die beste spelers op die toer.
Teen Bishops Stortford het Rademeyer, Vlam Groenewald, Danie Muller, Lee-hane Ontong, JP Fourie, CJ van Heerden en WJ Crous die Suid-Afrikaners se ander drieë gedruk.
In die tweede wedstryd in Cambridge teen Chinnor-rugbyklub se o.18-span het die toerspan met 38-5 as oorwinnaar van die veld gestap. Met die omdraaislag was die telling 17-5 in die Suid-Afrikaanse plattelandse span se guns.
Die skrumskakel, Goosen, het egter twee keer ná rustyd gaan druk om die wedstryd buite bereik van die tuisspan te plaas. De Wet het met al vyf doelskoppe en ’n strafdoel geslaag.
Dié span se ander drieë is deur Rayn van der Westhuizen, Danie Muller en CJ van Heerden gedruk.
In die laaste kragmeting van die toer het dié Suid-Afrikaners egter teen Hampton Grammar se eerste span met 26-7 die knie gebuig.
Dié skoolspan word glo vanjaar as die vyfde beste span in Engeland gereken. Zastron se Stefan Nel het sy span se drie gedruk wat deur De Wet se getroue skopskoen verdoel is.
Die seuns het ook Twickenham en die internasionale rugbymuseum daar besoek wat een van die hoogtepunte van die toer was.
Die toergroep het ook die dorpie Rugby besoek.




