Cheetahs vang groot vis – Goosen tot 2012 in Bloemfontein
Een van die groot sterre op vanjaar se Cravenweek-toernooi vir hoërskole hier in die Noordwes-stadion, Johan Goosen, het besluit om ’n kontrak met die Cheetahs te sluit.
Die Suid-Afrikaanse skole-losskakel sal volgens sy agent, Jan-Harm van Wyk, minstens tot aan die einde van 2012 sy rugby in Bloemfontein speel.
Goosen het die nasionale o.18-span reeds verlede jaar verteenwoordig en het in die Vrystaat se eerste wedstryd hier teen Grens gewys dat hy as ’n betroubare stelskopper ewe opwindend op die aanval is.
Goosen se besluit is uitstekende nuus vir die Cheetahs wat die afgelope drie jaar losskakels van gehalte soos Willem de Waal, Lionel Cronjé (albei Westelike Provinsie) en Jacques-Louis Potgieter (Blou Bulle) verloor het.
Van Wyk sê nog ’n Vrystaatse uitblinker op die Cravenweek, Niell Jordaan (agtsteman), is vir langer vir die Cheetahs beskikbaar.
“Niell is soos Johan vir die volgende twee jaar beskikbaar. Beseerdes soos Henco Venter (flank) en Ruwellyn Isbell (vleuel) het vir dieselfde termyn kontrakte met die Cheetahs gesluit,” sê Van Wyk.
Niel Marais (heelagter), wat nie beskikbaar vir die Cravenweek was nie aangesien hy saam met Grey-kollege se krieketspan oorsee toer, is nog ’n groot vis wat die Cheetahs gevang het.
Ongelukkig vir die Cheetahs is dit bekend dat hul belowende binnesenter van die Vrystaatse Cravenweek-span, Paul Jordaan, ’n kontrak met die Sharks gesluit het.
Die vurige slot van die Vrystaatse Cravenweekspan, Cobus Nel, het op sy beurt reeds besluit om sy rugby voortaan in die Kaap te gaan speel en hopelik in die toekoms die trui van die Westelike Provinsie oor die kop te trek.
- Western Province teams for the FNB Youth Weeks of 2025 - 2025-06-18
- GIRLS | School Hockey Results – 14 June 2025 - 2025-06-14
- BOYS | School Hockey Results – 14 June 2025 - 2025-06-14