Geen keer aan Grey-span
HA-OOH! Ha-ooh! Ha-ooh! Soos die krygers van Sparta kan Grey-kollege daarop aanspraak maak om feitlik onstuitbaar op hul gebied te wees. Grey se eerste rugbyspan het met sy oorwinning van 59-5 oor Louis Botha gewys dat hy nie maklik vanjaar gestuit gaan word nie.
Die verloorspan het egter met eer uit die stryd getree. Hy het self op ’n tyd 5-0 voorgeloop en rustyd ’n agterstand van 5-19 gehad. Die wenspan was egter net te fisiek en het nader aan die einde van die wedstryd die krane behoorlik oopgedraai. Grey se twee beste spelers op die dag was Pieter Rademan (kaptein en skrumskakel) en Chejane Mallane (vleuel). Mallane het met sy kraglopies beïndruk. Die pak voorspelers met Niel Jordaan (agtsteman) aan die spits verdien ook almal ’n klop op die skouer.
Vir Louis Botha het sy kaptein en kantman, Oscar Lemane, soos gewoontlik van voor gelei. Hy het nooit vir die teenstanders ’n tree teruggestaan nie. Louis Botha se buitesenter, Mveleli Nduku, het op die aanval uitgemunt en was ook rotsvas op die verdediging. Die heelagter, Nkululeka Mthethwa, het ook ’n stewige vertoning gelewer.
Die Hoërskool Sand du Plessis het korte mette van Heatherdale gemaak in die twee spanne se ligawedstryd Dinsdag op Grey-kollege se veld.
Sannies het die wedstryd 56-10 beklink, nadat die wenspan teen rustyd 22-10 voorgeloop het.
Heatherdale het in die eerste helfte die bal baie rondgegooi en met tye gevaarlik gelyk.
Die span kon meer drieë behaal het as verskeie aangeë nie verlore gegaan het nie.
Sannies was egter kookwater en het veral in die tweede helfte amok gemaak.
Die wenspan se flank, JP Coetzee, het ’n uitsonderlike vertoning gelewer en nie minder nie as vier keer agter Heatherdale se doellyn gaan kuier. ) Die Hoërskool Jim Fouché se eerste rugbyspan het ’n moeilike week agter die rug.
Die span het eers Saterdag 57-6 teen Grey-kollege vasgeval en Dinsdag in sy ligawedstryd teen Cherries ook 52-0 op sy neus gekyk.
Cherries het geen doekies omgedraai nie en teen die vervroegde rustyd reeds 35-0 voorgeloop.
JF het moedig probeer verdedig en self goeie aanvalle van stapel gestuur, maar Cherries het al die gate toegestop en die besoekers met leë hande huis toe gestuur.
Hanro Oosthuizen, senter van Cherries, het ’n driekuns aan drieë behaal, terwyl Niel Marais (heelagter) self 17 punte tot Cherries se totaal bygedra het. ) Die Hoërskool Sentraal moes hard werk vir sy sege van 29-5 oor die Hoërskool Fichardtpark in die twee spanne se ligawedstryd Dinsdag.
Tralies het teen rustyd 12-5 voorgeloop, maar in die tweede helfte met goeie verdediging vorendag gekom om Fichies tot net vyf punte te beperk.
Daarmee saam het die wenspan nog drie drieë in die tweede helfte by hul totaal gevoeg om die wedstryd buite Fichardtpark se bereik te plaas.
Sentraal kon heelwat meer drieë behaal het, maar ondgedwonge hanteerfoute in veral die tweede helfte het hulle gekortwiek. ) President Steyn het St. Andrew 32-26 in hul kragmeting geklop. Die Steyners was egter rustyd reeds 27-0 voor en moes in die tweede helfte behoorlik wal gooi om ’n oorwinning te verseker.
Vir Steyners het Dimitri Ontong (vleuel), Nickus van Rensburg (senter) en Franco Nel (heelagter en kaptein) goed vertoon.
Die verloorspan se generaal Bokang Mosena (losskakel) het met sy skitterspel die terugveg-poging aangevuur.
Matthew Lamont kan ook tevrede met sy vertoning in die enjinkamer voel. ) Die Hoërskool Staatspresident Swart van Brandfort het nou wel daarin geslaag om die Hoërskool Bloemfontein 39-7 te klop, maar die span se breier, Pieter Swanepoel, sal glad nie met sy span se vertoning tevrede wees nie.
Die span van Brandfort het heeltemal te veel hanteerfoute begaan. Die verloorspan het egter ’n begeesterde vertoning gelewer, met JP Brewis (senter), Gunther Booysen (skrumskakel) en De Wet Davis (slot) aan die spits. Vir die wenspan het Sarel Kruger (haker) en Kosie Wessels (vleuel) goeie spel gelewer.
Puntemakers:
Grey-kollege 59 (19) – Drieë: Chejane Mallane 2, Schalk van der Merwe, Marcel van der Merwe, William Small-Smith, Jean Cook, Vlooi Kotze, Baksteen van Heerden, Inus Keyser. Doelskoppe: Johan Goosen 7. Louis Botha 5 (5) – Drie: Nkululeka Mthethwa
Sand du Plessis 56 (22) – Drieë: JP Coetzee 4, Clinton la Cock 2, Stefan Bester 2, Wimpie Mouton, Neil Kotze. Doelskoppe: Jaco Ackerman 3. Heatherdale 10 (10) – Drie: Jacques Borman. Doelskop: Bradley Davids. Strafdoel: Davids.
Cherries 52 (35) – Drieë: Hanro Oosthuizen 3, Niel Marais, Sethu Thom, GF Bondisio, Johan Meintjies, Van Zyl Botha. Doelskoppe: Marais 6. Jim Fouché 0.
Sentraal 29 (12) – Drieë: Francois Harvey, Hanko Smith, Hanno Ferreira, Brian Malakoane, Gouché Gouws. Doelskoppe: DJ Vermaak 2. Fichardtpark 5 (5) – Drie: Dewald Nel.
President Steyn 32 (27) – Drieë: Dimitri Ontong 2, Chester Bouwer, Raymond Charles, Franco Nel. Doelskoppe: MJ van Rensburg 2. Strafdoel: Van Rensburg. St. Andrew 26 (0) – Drieë: Bokang Mosena, Thomas Wood, Matthew Lamont, Kabelo Motshabi. Doelskoppe: Matthew Hall 2, Jonathan le Riche.
Brandfort 39 (17) – Drieë: Kosie Wessels 2, Henk Lourens, Hennie Smit, Sep Smith, Christopher Jacobs, Nelis Maritz. Doelskoppe: Smit 2. Hoërskool Bloemfontein 7 (0) – Drie: JP Brewis. Doelskop: Donovan Young.




