SuperSport Schools Plus

Hugenote van Springs het na 32 jaar weer rede om fees te vier

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2019-08-18 Tags: ,

NewsGHugenote‘n Droogte van 32 jaar is Saterdag in die eindstryd van die Virsekerbeker se Skild-afdeling deur Hugenote van Springs beëindig.

Hugenote is vir die eerste keer sedert 1987 as kampioen van die kompetisie gekroon na hy die Hoërskool Middelburg met 57-34 in die eindstryd op Marais Viljoen se hoofveld in Alberton omgedop het. 

Destyds het Hugenote vir FH Odendaal met 18-14 in die eindstryd verslaan. Twee spelers wat later roem as lede van die seëvierende Springbok-span by die Wêreldbeker van 1995 sou verwerf was op daardie dag in die Pam Brink-stadion in Springs in aksie.

Chris Rossouw het vanaf agtsteman Hugenote se span aangevoer, terwyl Joost van der Westhuizen die oond vir FH Odendaal skoon gemaak het. Nog ‘n lid van die Bok-span van 1995 Japie Mulder (Hugenote) het die eindstryd weens ‘n blindedermoperasie misgeloop.  

Vir Hugenote op buitesenter was Hennie Meadon die pa van die huidige SA Skole-losskakel, Kian Meadon (Hoër Jongenskool Paarl). 

Terug na die hede – dit was van die begin af duidelik dat Hugenote met net een doel voor oë vir die eindstryd opgedaag het. Die span het teen rustyd met die telling op 31-10 in sy guns reeds een hand op die trofee gehad. 

Hugenote se losskakel, Derik Bierman, het op sy skitterende vertoningslys van die seisoen voortgebou en soos ‘n ware generaal spel dikteer. Bierman het self ‘n onskatbare bydra van 22 punte tot die sege bygedra. Hy het een van sy span se agt drieë gedruk, sewe daarvan verdoel en ook een strafdoel tussen deur die pale gejaag. 

Die kampioen se agtsteman, Edward Evans, het ook die veld vol gespeel en was ‘n belangrike skakel tussen voor- en agterspelers. Evans het ook nie net dubbelle driedruk-plesier ervaar nie, maar is ook na afloop van die wedstryd as die Speler van die Wedstryd aangewys. 

Hugenote se binnesenter, Nico Potgieter, asook die slot Rowan Wheller het ook blink vertonings in die eindstryd opgedis. Wheller se rankwerk in die lynstane het die Middies deurgans probleme besorg. Potgieter het met sy verdediging in die middelveld ‘n hele paar manne met sy plettervatte na asem laat snak. 

Die Hoërskool Middelburg het die ligawedstryd tussen die twee spanne vroeër vanjaar redelik gemaklik met 35-17 gewen. Die kampioen se verdediging was so rotsvas in die eindstryd dat die Middies se loskopstut, Sipho Nzotho, die span se eerste drie in die 33ste minuut gedruk het. 

Nzotho is ‘n speler om dop te hou vir die toekoms. Hugenote kon maklik nog ‘n groter sege behaal het, as dit nie vir Nzotho se ongelooflike dekverdediging was nie. Hy kan homself ongelukkig ag dat hy nie vir een van die twee SA Skole-spanne na afloop van die Cravenweek in Bloemfontein verkies is nie.

Buiten Nzotho kan die losskakel, Ricardo Schonfeldt, asook die senter Jan Joubert tevrede met hul vertonings in die tweede helfte voel. Middies se afrigters, Sarel Bosman en Christo van Niekerk, moes harde woorde rustyd gehad het, want die span van Middelburg se vertoning in die tweede helfte was strate beter as die in die eerste helfte. 

FOTO: Frans Lombard/Actionpix

Puntemakers: 

Hugenote 57 (31) – Drieë: Edward Evans (2), Lean Harmse, Derik Bierman, Ryan du Toit, Liam Brooks, David Kruger, Nico Grobler. Doelskoppe: Bierman (7). Strafdoel: Bierman. Hoërskool Middelburg 34 (10) – Drieë: Sipho Nzotho, Quryn van Wyk, Sanele Zungu, Teboho Mosia, Jan Joubert. Doelskoppe: Ricardo Schonfeldt (2). Strafdoel: Schonfeldt.

Ander spanne: 

o.16: Heidelberg Volkskool 37, Hoërskool Middelburg 14. 

o.15: Hoërskool Middelburg 24, Oos-Moot 15. 

o.14: Jeugland 17, Hoërskool Middelburg 0.

[powr-comments id=”ee52b672_1566120080112″]

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.