HTS Drostdy se Donkies het strawwe vakansie oorleef
Dit was waarskynlik die elf taaiste dae in die geskiedenis van HTS Drostdy se rugbygeskiedenis, maar die Donkies het heel aan die anderkant uitgekom. Die Donkies het ses wedstryde oor elf dae gedurende die skoolvakansie gespeel en slegs teen Glenwood met 26-29 die knie gebuig.
Die span het aan die Kearsney College Paastoernooi net buite Durban asook die Noord Suid Derby deelgeneem wat vanjaar as deel van die Hoërskool Middelburg se eeufees-vieringe in Middelburg aangebied is.
HTS Drostdy het sy belangrikste wedstryd van die vakansie teen die Hoërskool Transvalia met 30-21 tydens die laaste dag van die Noord Suid Derby in Middelburg danksy skitterspel deur sy heelagter, Cohen Jasper, en losskakel, Shaun Baxter, gewen. Transvalia het die wedstryd met ‘n onoorwonne status betree.
Transvalia het teen rustyd ‘n voorsprong van 14-8 opgebou. Sy buitesenter, Zeilinga Strydom, se twee drieë sou onder die voorste drieë tydens die toernooi tel. Die besoekers van Worcester het egter in die tweede helfte besluit om met nuwe ywer te speel en Transvalia kon nie al die gate toestop nie.
Veral Jasper en Baxter het met hulle hardlooplyne vir Transvalia probleme besorg. Die feit dat Transvalia Saterdag vir HTS Daniël Pienaar met 106-5 afgeslag het, was ook nie gunstig vir die span van Vanderbijlpark se psige vir die belangrike stryd teen die Donkies nie.
In die hoofwedstryd van die laaste dag het Middelburg net oor te veel skietgoed vir HTS Daniël Pienaar beskik. Die Middies het met 42-3 oortuigend as oorwinnaars van die veld gestap.
Die wenspan se heelagter, Coenraad Visser, het gewys dat hy oor hope vaart en aanvoelling vir die spel beskik. Visser het twee van sy span se bewegings vanuit die laaste vesting afgerond, terwyl hy ook met vyf doelskoppe vir ‘n persoonlike bydrae van 20 punte in die wedstryd oorgeklits het.
Kearsney College se heelagter, Jacques Odendaal, was self op sy stukke. Hy het ‘n driekuns aan drieë in sy span se sege van 50-24 oor Marais Viljoen van Alberton behaal. Marais Viljoen het wel in die tweede helfte terug geveg na hy reeds met 36-7 teen rustyd agter was.
Odendaal het ook vyf van sy span se drieë verdoel om presies die helfte van sy span se punte in die wedstryd aan te teken.
Puntemakers:
HTS Drostdy 30 (8) – Drieë: Cohen Jasper (2), Shaun Baxter (2). Doelskoppe: Baxter (2). Strafdoele: Baxter (2). Transvalia 21 (14) – Drieë: Zeilinga Strydom (2), Divan Meyer. Doelskoppe: Zian de Jager (3).
Hoërskool Middelburg 42 (14) – Drieë: Coenraad Visser (2), Wikus Smit, Kevin Hlupako, Smiley Mosia, Anrich van Wyk. Doelskoppe: Visser (5), Sithembiso Makua. HTS Daniël Pienaar 3 (3) – Strafdoel: Sachin Toring.
Kearsney College 50 (36) – Drieë: Jacques Odendaal (3), K Koenig (2), G Gance (2), Derron Marchall. Doelskoppe: Odendaal (5). Marais Viljoen 24 (7) – Drieë: Luke Jonker, Alewyn Vorster, JJ Kruger, Dhane Dippenaar. Doelskoppe: Jonker (2).
 



