Hou die Tech Tigers dop
Net meer as ’n kilometer van die heiligdom van Blou Bul-rugby, Loftus Versfeld, vind jy ’n rare Suid-Afrikaanse suksesverhaal in die ontwikkeling van jong swart rugbyspelers.
Pretoria Technical High School (PTHS) maak vinnig opgang in die Blou Bulle se skoleligas.
Die skool se eerste span het verlede jaar geskiedenis gemaak deur vir die eerste keer ’n eindstryd van die Beeldtrofee te haal.
Die Tech Tigers het nou wel in die eindstryd vir middelskole met 19-17 teen President van Johannesburg die knie gebuig, maar die skool het reeds reuse-treë in die regte rigting gegee ná hy in 2014 vir die eerste keer in jare ’n span in die veld gestoot het.
Die Blou Bulle Rugby-unie (BBRU) het Francois van Tonder in 2013 by die skool geplaas om die spel te bevorder. Hy het voor sy uittrede klubrugby vir Parma in Italië gespeel.
Onder Van Tonder se breierskap was die eerste span sedert 2014 in 36 wedstryde slegs vyf keer aan die verloorkant. In dié tyd het die span 1 300 punte aangeteken en slegs 340 afgestaan.
Die skool het ook vanaf die kleinskoleliga tot die mediumskoleliga van die Blou Bulle opgeskuif. Pretoria THS het ongeveer 870 kinders in die skool waarvan slegs 120 seuns rugby speel. Slegs 300 of so van die leerlinge se ouers kan skoolgeld betaal.
Maar onder Van Tonder se wakende oog het ál meer kinders by dié skool die ovaalbal begin rondgooi. Waar daar twee spanne in 2013 was, is daar nou vyf – waaronder ook ’n meisiespan.
“Ons grootste uitdaging op die oomblik is finansieel. Ons het byvoorbeeld 43 spelers by ons o.14-proewe gehad, maar kon weens ’n tekort aan geld net een span kies. Dit is veral die koste van vervoer wat ’n uitdaging is,” het Van Tonder gesê.
Die skool het ook nie ’n gimnasium nie.
’n Ander kopseer is die voeding van die meeste spelers, sê die breier.
“Van die outjies kom partykeer by oefeninge aan en het drie dae laas geëet.”
Van Tonder sê rugby is ’n vreemde konsep vir die meeste van Pretoria THS se voeder-laerskole. Die kinders wat in rugby belangstel, kom leer die basiese vaardighede by Van Tonder-hulle.
Toe hy van Parma af by dié skool aangeland het, was rugby daar self in sak en as. THS het in 2002 ’n bydrae tot die SA Skole-span gelewer, toe hul Jerry Sefoko in dié trui gespeel het, saam met toekomstige Springbokke soos Bismarck du Plessis, Ruan Pienaar, Peter Grant en Chiliboy Ralepele.
Destyds was die Hoërskool Zwartkop se hoof van rugby, Fielies Coetzee, nog die afrigter by Pretoria THS gewees.
Maar die spel het in die volgende dekade doodgeloop. Dit het harde werk en passie geverg om die stukke op te tel.
Nou is dit ’n bastion van rugby-transformasie – en gegewe die skool se ligging is dit net hoe dit moet wees.
Van Tonder sê Pretoria THS is ideaal geleë om ’n belangrike rol in die ontwikkeling van swart spelers te speel. Daar is volgens hom 63 skole in Pretoria se middestad waarvan slegs THS en die Hoërskool Langenhoven die nodige rugbygeriewe het.
Die nuwe reëls van die Virseker-Beeldtrofee laat kinders van dié skole toe om vir Pretoria THS te speel.
Hoewel die Tech Tigers vanjaar weer in die Virseker-Beeldtrofee se middelskole-afdeling gaan meeding, is Van Tonder vol vertroue dat die skool in 2017 as ’n volwaardige mediumskool sal deelneem.
En as hul snelle opgang voortduur, is hul toekoms straks vol groot oomblikke.




