Hope aksie op Dag 1 van Robday Bersig-fees

Die eerste dag van die nuutgeborgde Robday Bergsig-rugbyfees het soos gebruiklik vir hope aksie en aanskoulike rugby gesorg.
Herleef al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die fees het afgeskop op Werkersdag, 1 Mei, met Hoërskool Witteberg wat hard moes werk om die dag met ‘n welverdiende oorwinning van 17-11 oor Hoërskool Frikkie Meyer af te sluit.
Dit het soos verwag ‘n fisieke stryd afgegee tussen die twee plattelandse spanne, met geen genade wat gegee of gevra is nie. Die konfrontasie voorlangs was verál vurig, met die Wittebergers wat uiteindelik die laaste sê gehad het.
Haker, Rico van Vuuren, het oorgebars vir die span van Bethlehem se eerste drie, na ‘n puik stukkie hardloopwerk deur plaasvervangerslot, Christiaan van Niekerk, wat daarna self ook gedruk het om die sege te beklink. Losskakel, Tshepo Motloung, het altwee drieë verdoel en ook met ‘n strafdoel geslaag.
Afrikaanse Hoër Seunskool se derde en vierde spanne, oftewel die Rooiharte en Geelkobras, het elk ook oorwinnings behaal op die eerste dag.
Die Geel Kobras het met 32-25 oor die gasheerskool, Bergsig Akademie, se eerste span geseëvier, met regtervleuel, Bernu Kleynhans, wat fyn uitgewerkte bewegings deur die Pretorianers skitterend afgerond het vir ‘n tweekuns aan drieë. Die tuisspan se Bradley Stonehouse (senter) het deurentyd hardnekkig verdedig en ook ‘n drie, doelskop en strafdoel aangeteken.
Die Rooiharte het vir Hoërskool Randburg met 33-7 afgestof. Slot, Reubenne Botha en regtervleuel, Khumo Manakana, het elkeen twee keer agter die Randburgers se doellyn gaan kuier.
Hoërskool Rob Ferreira se Bandile Zwane het die eerste driekuns behaal by vanjaar se fees in sy span se oorwinning van 28-22 oor Hoërskool Overkruin. Losskakel, Shapard Khoza, het Rob Ferreira se ander drie gedruk en geslaag met al vier doelskoppe vir ‘n swaarverdiende sege.
Jim Fouché het vir Hoërskool Dinamika met sewe drieë teen twee oorrompel vir ‘n gemaklike sege van 43-13. Losskakel, De Wee Breyten, het die toutjies meesterlik getrek en self Dinamika se doellyn twee keer oorgesteek. Die grondslag vir die oorwinning is egter deur die pak gelê.
Gareth Hofsta het Bergsig se naam hoog gehou met ‘n vertoning, vir die Rustenburgers se tweede span, wat lank onthou sal word. Die buitensenter het vir Hoërskool Koster gelooi met nie minder nie as vier drieë in die Hawks se sege van 48-20 in die openingswedstryd van vanjaar se feestelikheid.
Puntemakers:
Witteberg 17 – Drieë: Rico van Vuuren, Christiaan van Niekerk. Doelskoppe: Tshepo Motloung (2). Strafdoel: Motloung. Hoërskool Frikkie Meyer 11 – Drie: Mare Pieterse. Strafdoele: Barnabas Nyamakupe (2).
Affies Geel Kobras 32 – Drieë: Bernu Kleynhans (2), Lohan Bitzer, Fafa Fourie, Ruan Nagel. Doelskoppe: Conrad Botha (2). Strafdoel: Fourie. Bergrsig Eagles 25 – Drieë: Thatano Bagwase, Stephan Harmse, Carlo de Jager, Bradley Stonehouse. Doelskop: Stonehouse. Strafdoel: Stonehouse.
Affies Rooiharte 33 – Drieë: Reubenne Botha (2), Khumo Manakana (2), Juan Venter, James Pieters, Ruan Nagel. Doelskoppe: Loje Geyser (4). Randburg 7 – Drie: Chrisjan van Niekerk. Doelskop: Jaydon Todd.
Rob Ferreira 28 – Drieë: Bandile Zwane (3), Shapard Khoza. Doelskoppe: Khoza (4). Overkruin 22 – Drieë: V Akin (2), J Jirah. Doelskop: E Klein. Strafdoel: E Klein.
Jim Fouché 43 – Drieë: De Wee Breyten (2), Duardt Bester, JC van Niekerk, Kay-Dinn Langley, Itumeleng Mokate, Franco Greyling. Doelskoppe: Bester (4). Dinamika 13 – Drieë: Hendrik Alberts, Keanu de Sousa. Strafdoel: Nathan Kearns.
Bergsig Hawks 48 – Drieë: Gareth Hofsta (4), Tristan Walters (2), Jacque du Plooy, Inati Kaleni. Doelskoppe: Renaldo Prinsloo (4). Hoërskool Koster 20 – Drieë: Deewan Steyn, Eion Coetzee, Stephen Few. Doelskop: Coetzee. Strafdoel: Coetzee.