SuperSport Schools Plus

Hoopstad lig Namgola-beker in Parys

By Willem Louw , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2024-03-26 Tags: , , , , ,

FOTO: Sybil Joubert

Die Parys Namgola-beker het die naweek ‘n nuwe staanplek in Noord-Vrystaat gekry, nadat Hoërskool Hoopstad se eerstes vir die gasheerspan, Hoërskool Parys, met 19-5 kon troef in die eindstryd.

As wenners is Hoopstad vanjaar ook die eerste span wat die Lucien van Zyl Sr-wisseltrofee ontvang.

Beleef al die aksie op SuperSport Schools – Registreer nou

Die Hoopies beskik oor ‘n bulspan vanjaar en het reeds voor die afgelope naweek se aksie indrukwekkende seges oor Hoërskole Ficksburg, Brandfort en Kalahari behaal.

Hulle het daardie momentum oorgedra na die byeenkoms in Parys en vir sowel Hoërskool Ladybrand (48-15) as Heilbron (36-6) kafgedraf om ‘n plek teen die tuisspan in die eindstryd te bespreek.

Parys het die plaaslike gemeenskap heel naweek vermaak met skitterrugby, wat uitgeloop het op spogseges oor Hoërskool Riebeeckstad (34-7) en President Steyn (31-10) gedurende die eerste twee dae.

In die finale kragmeting het Hoopstad egter oor té veel skietgoed vir Parys beskik, met die agterspeler van die toernooi, buitesenter, Hennie Barnard, wat ‘n tweekuns behaal en binnesenter, Abrie van Zyl, wat hul derde drie aangeteken het.

Cyris Bothma het nietemin die skare op hul voete gehad in die tweede helfte toe hy ‘n losbal opgeraap en ore platgetrek het om Parys se agterstand na sewe punte te laat krimp. Hoopstad het egter aanhou druk toepas, en Barnard se tweede drie was die laaste spyker in die tuisspan se kis.

Verlede jaar se Kovsiestreek Colt-liga kampioene lyk inderdaad oorgehaal vir nóg ‘n groot seisoen as hul voorseisoense resultate enigsins ‘n aanduiding bied.

Hoërskool Zastron het in ‘n opwindende stryd met 20-14 teen Hoërskool Bothaville geseëvier om die skild te verower.

Zastron het op die eerste dag vir HTS Carel de Wet oortuigend met 38-7 geklop, maar Retief High School het hulle Saterdag laat sweet vir ‘n oorwinning van 12-3. Bothaville het die stryd ook met ‘n onoorwonne rekord by die toernooi betree, na suksesse teen Hoërskole Panorama (19-5) en Brandfort (43-0).

Na die wegholsege teen Brandfort het Bothaville met heelwat momentum afgeskop en na vyf minute reeds eerste bloed getrek teen Zastron. Kort voor halftyd het Zastron se losskakel, Lechabile Leballo, vinnig gedink en ‘n steekskoppie deurgesit vir Frans Botha om toe te duik, om die rustydagterstand na 10-14 te laat krimp.

Na die breuk was dit eenrigtingverkeer, met Leballo wat eiehandig nog 10 punte bygedra het om sy span te help om die skild omhoog te lig.

FOTO: Marais Nell

Die Anker Skool van Vanderbijlpark se eerstespan het die LSEN-skole se naam hoog gehou teen die plattelandse kompetisie, om die Plaat-trofee weg te stap.

‘n Oortuigende sege van 34-0 oor Hoërskool Zeerust, gevolg deur ‘n klipharde kragmeting Hendrik Potgieter (Reddersburg), wat Die Anker met 15-10 kon wen, het aan die Gautengers ‘n plek in die eindstryd teen Retief besorg.

Die span van Kestell moes met slegs ‘n strafdoel tevrede wees, terwyl Die Anker die enigste drie kon druk vir ‘n welverdiende sege van 8-3.

Puntemakers:

Hoërskool Hoopstad 19 (5) – Drieë: Hennie Barnard (2), Abrie van Zyl. Doelskoppe: Busi Mfebe (2). Hoërskool Parys 5 (0) – Drie: Cyris Bothma.

Hoërskool Zastron 20 (10) – Drieë: Frans Botha, Lechabile Leballo. Doelskoppe: Leballo (2). Strafdoele: Leballo (2). Hoërskool Bothaville 14 (14).

Al die uitslae

Vrydag, 22 Maart: Heilbron 48, Sasolburg 0; Zastron 38, HTS Carel de Wet 7; Bothaville 19, Panorama 5; Die Anker Skool 34, Zeerust 0; Hoopstad 48, Ladybrand 15; Retief 56, Morgenzon 7; Brandfort 49, Balfour 0; President Steyn 37, New Horizon College Bethlehem 10; Hendrik Potgieter (Reddersburg) 32, New Horizon College Harrismith 18; Parys 34, Riebeeckstad 7.

Saterdag, 23 Maart: Ladybrand 14, Sasolburg 3; HTS Carel de Wet 19, Morgenzon 7; Panorama 33, Balfour 0; New Horizon College Harrismith 24, Zeerust 14; Riebeeckstad 43, New Horizon College Bethlehem 0; Hoopstad 36, Heilbron 6; Zastron 12, Retief 3; Bothaville 43, Brandfort 0; Die Anker Skool 15, Hendrik Potgieter (Reddersburg) 10; Parys 31, President Steyn 10.

Maandag, 25 Maart: Beker – Hoopstad 19, Parys 5; Skild – Zastron 20, Bothaville 14; Plaat – Die Anker Skool 8, Retief 3; Beelde – HTS Carel de Wet 13, New Horizon College Harrismith 0; Hendrik Potgieter (Reddersburg) 21, Panorama 0; Ander wedstryde – New Horizon College Bethlehem 21, Balfour 14; President Steyn 20, Heilbron 12; Morgenzon 14, Sasolburg 3; Brandfort 17, Riebeeckstad 5; Ladybrand 28, Zeerust 0.

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.