Hoërskool Upington is Noord-Kaapse liga-kampioene na sege oor Kalahari
Hoërskool Upington het in Kuruman by Hoërskool Kalahari gaan draai en keer terug huis toe as die Noord-Kaap liga kampioene na ‘n 34-19 sege.
Uppies beleef ‘n sterk seisoen en die titel is hul verdiende loon vir al die harde werk wat hulle hierdie jaar ingesit het.
Onder andere sluit hul resultate hierdie jaar ‘n groot 43-31 sege teen Diamantveld in, en net voor die vakansie kon hulle ‘n sterk Noord-Kaap span in toom hou om 26-elk gelykop te speel.
Saterdag was hul opwindende heelagter, Ruwin Isaks, weer deel van die aksie vir sy span. Hy kon ‘n drie druk en twee verdoel om sy span te help.
Sy binnesenter, Siphe Msebenzi, is aangewys as die speler aan die wedstryd vir sy nimmer-eindige werk op verdediging. Msebenzi het verlede naweek ook uitgestaan toe Upington vir Landboudal op Jakobsdal met 17-13 kon troef.
Die tuisspan kan trots wees op hul vertoning, en hul agsteman, SW van Heerden, het uitgeblink.
Kathu is weer blou hierdie jaar na Curro Kathu se 41-10 sege oor hul bure, Hoërskool Kathu.
Hul buitesenter, Julius Muzaza, en agsteman, Ruben Wessels, kon elkeen twee keer agter die doellyn gaan kuier om vir hul span te help na ‘n omvattende sege oor hul teenstanders.
Verlede jaar het die twee skole sussies gesoen nadat Curro in die doodsnikke ‘n strafskop kon verdoel om die tellings gelyk te trek op 32-elk.
Duineveld kon die besoekende Hoërskool Bellville in toom hou danksy sy senter, DJ Wandrag, se betroubare skopskoen en taktiese besluitneming.
Die twee slotte, Arno Luttig en Gert White Grobbelaar, het ‘n goeie wedstryd beleef en altwee kon ‘n drie vir doe tuisspan druk. Luttig het ook vir die Griekwas by die Craven Week in George uitgedraf gedurende die skoolvakansie.
Hopetown het hul groot interskole teen Prieska met 44-5 gewen.
Die puntemakers:
Hoërskool Upington 34 – Drieë: Jaco Fourie, Siphe Msebenzi, Sylvester Hoffman, Khayalenkosi Maganga, Ruwin Isaks, Nathan Manyora. Doelskoppe: Isaks (2). Hoërskool Kalahari 19 – Drieë: Pietsie Tikane, Tshepo Makatonjane, Robert Blaauw. Doelskoppe: Tshepi Makatonjane (2).
Curro Kathu 41 – Drieë: Julius Muzaza (2), Ruben Wessels (2), Rehaden van Wyk, Boichoko Tlhopele, Xavier Magerman. Doelskoppe: Muzaza (3). Hoërskool Kathu 10 – TBC
Duineveld 47 – Drieë: Arno Luttig, Franco Erasmus, Ethan Prince, Wyndham Bouwer, Alek Andrianatos, Gert-White Grobbelaar. Doelskoppe: DJ Wandrag (5). Strafdoelle: Wandrag (2). Hoërskool Bellville 21.
Ander tellings:
o.19 A – Hopetown 44, Prieska 5.
o.19 B – Hoërskool Upington II 29, Hoërskool Kalahari 14; Duineveld II 36, Hoërskool Bellville II 5.
o.16 – Hoërskool Upington 57, Hoërskool Kalahari 0; Hoërskool Bellville 21, Duineveld 8.
o.15 – Hoërskool Upington 36, Hoërskool Kalahari 5; Duineveld 17 Hoërskool Bellville 16.
o.14 – Hoërskool Upington 38, Hoërskool Kalahari 5; Hoërskool Bellville 20, Duineveld 7.




