Hoërskool Durbanville soek laaste groot sege vir die jaar teen hul bure, Stellenberg
Die spogregte in Durbanville word Saterdag verdien waneer Hoërskool Durbanville en Stellenberg mekaar aanvat.
Al speel die twee skole nie in dieselfde liga nie, met Stellenberg wat in die liga bo Durbies kompeteer, het hierdie kragmeting tussen die twee trotse buurtskole nuwe vuur gekry toe Hoërskool Durbanville in 2019 vir die eerste keer in 13 jaar daarin kon slaag om vir Stellenberg te pootjie met 46-39 danksy vier drieë deur sy senter, Corné Oliphant.
Verlede jaar kon Stellenberg weer die bordjies verhang met ‘n 29-20 oorwinning op eie bodem, maar met Durbies wat vanjaar weer ‘n sterk span bymekaar het en die tuisveldvoordeel geniet mag 2023 dalk weer Hoërskool Durbanville se jaar wees.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – Registreer nou
Hoërskool Durbanville kan reeds met trots terug kyk na ‘n paar groot seges hierdie seisoen.
Hulle het vroeg al ‘n stelling gemaak deur om vir Paarl Boys’ High met 26-25 te ontstel, na dit kon die Durbies ook teen onder andere Rondebosch Boys’ High (35-19), HTS Drostdy (61-3) en Bellville (72-12) seëvier.
Onlangs het hulle hul ander groot vyande in die omgewing, Brackenfell, met 45-10 verslaan en ‘n wen teen Stellenberg sal die perfekte einde vir ‘n merkwaardige seisoen wees.
Die Jade Brigade beleef ‘n moeilike seisoen, maar hulle kon self ook al ‘n paar sterk vertonings lewer. Dit lyk asof hulle hul ritme gevind het met vier goeie oorwinnings in hul laaste vyf wedstryde en ‘n wen teen hul bure sal die seisoen op ‘n hoë noot afsluit.
Stellenberg het vroeg in die seisoen naelskraaps met 24-23 teen Paarl Gimnasium verloor, na dit kon hulle vir Helpmekaar met 22-20 by die Noord/Suid toernooi in Pretoria verslaan.
Na daardie toernooi het Stellenberg gesukkel om hul volle potensiaal te besef, maar in die laaste vyf wedstryde lyk hulle baie beter.
Vroeg in Junie kon hulle vir Parel Vallei met 60-5 pak gee en teen ‘n sterk Rondebosch Boys’ High span in ‘n riller met 20-17 wen.
Hulle het in George, danksy ‘n strafdoel in die laaste oomblikke van die wedstryd, met 10-8 teen Hoërskool Outeniqua verloor, maar kon dadelik weer momentum bou met seges oor Hoërskool Bellville (43-21) en Milnerton (24-7).
Saterdag behoort weer ‘n rugby skouspel te wees tussen twee spanne met uiteenlopende benaderings tot die spel.
Die Durbies maak staat op hul spelers se vermoëns in gebroke spel, en probeer die bal soveel as moontlik deur hul agterlyn te laat beweeg, terwyl Stellenberg fokus op die vaste fassette.
Mens kan dit ook sien waneer jy kyk na hoe hulle punte aanteken.
James Nero, die tuisspan se haastige binnesenter, is een van hul toppresteerders hierdie jaar. Hy is gekies as deel van die SA o.18 Sewes span wat ‘n brons-medalje verwerf het by die Statebond Jeugspele in Trinidad en Tobago. Hy was ook die Suid Afrikaanse span se voorste driedrukker by die byeenkoms.
Die res van sy agterlyn is net so gevaarlik waneer hulle die spasie gegun word om hul spoed ten toon te stel. Die agsteman, Jayden Nell, het vroeër die jaar al ‘n kontrak van SARU Sewes ontvang om volgende jaar sy vaardighede in die vinniger weergawe van die spel te verfyn.
Sy losskakel, Shaun Kleyn, is ook ‘n speler om dop te hou Saterdag. Hy en sy skrumskakel, Monray Daars, het al menigde verdedigings deur die seisoen oopgesluit, en aangesien dit vir meeste van hierdie leerders hul laaste wedstryd in ‘n Durbie-trui gaan wees kan ons verwag dat hulle hul harte sal uitspeel om 2019 se sukses te herhaal.
Spoed is belangrik, maar waneer manne soos Stellenberg se groot flank, Marco Ferreira, op jou afstorm het mens meer as spoed nodig om hom te keer.
Ferreira is Stellenberg se voorste driedrukker hierdie seisoen met 18 drieë. Dit is drie keer soveel soos enige iemand anders in sy span met Estian Steyn (senter) en Herman Lubbe (stut) wat altwee tweede is met ses drieë elk.
Fereirra was ses keer agter die doellyn toe sy span vir Parel Vallei met 60-5 kon kaf draf.
Sy binnesenter, Ruben Thompson, wie ook die doelskop verantwoordelikhede behartig is nog ‘n speler om dop te hou. Thomspon kon hierdie seisoen 126 van sy span se 405 punte aanteken en is seker om Saterdag vir oulaas nog ‘n paar by te sit.
Die spanne is:
Hoërskool Durbanville t. Stellenberg om 13:40:
Hoërskool Durbanville: 15 Valrhino Olckers, 14 Damian Hendricks, 13 Lian Jordaan, 12 James Nero, 11 Cayden Louw, 10 Shaun Kleyn, 9 Monray Daars, 8 Jayden Nell, 7 Evert Brouwer, 6 William Goldswain, 5 Liam Baird, 4 Rikus Saaiman, 3 Anru van Rhyn, 2 Devon Strydom, 1 Wian Koen.
Stellenberg: 15 Dehan Neethling, 14 Liam Smith, 13 Estian Steyn, 12 Ruben Thompson, 11 Luc Cilliers, 10 Tyron Labuschagne, 9 Heinro Swart, 8 Dale du Toit, 7 Marco Ferreira, 6 Alex Schoeman, 5 Corne Bruwer, 4 Zian Erasmus, 3 Herman Lubbe, 2 Almero Keizer, 1 Niel de Beer.
Ander bepalings:
o.19 B – 11:00
o.16 A – 12:10
o.15 A – 10:00
o.14 A – 09:00




