Hier is die SA Skole-span van 2018
Die SA Skole-keurders kon vir twee van verlede jaar se nasionale skolespelers, Morné Brandon (Monument, haker) en Diego Appollis (Garsfontein, senter), nie plek in 2018 se SA Skole-span vind nie.
Brandon is deur Grens se haker, Jacques Goosen, asook WP se haker, JJ Kotze, uit die span gehou. Daar is vooraf verwag dat Kotze ‘n sterk aanspraakmaker op een van die plekke wat beskikbaar vir hakers sou wees. Goosen van Selborne College is vir ‘n uitstekende week beloon.
Appollis en die Blou Bulle het glad nie ‘n goeie week in die Paarl beleef nie. Grey-kollege se Wyclef Clitoor en Jeppe se hoofseun, Muzi Manyike, is as die twee buitesenters in die span ingesluit. Hoewel Selborne College se Sibabalwe Xamlashe vir Grens in die laaste vesting tydens die week diens gedoen het, draf hy op senter vir sy skoolspan uit.
Selborne College het met vyf spelers die grootste verteenwoordiging in die span. Die vyftal is Sibabalwe Xamlashe, Thomas Bursey, Jarrod Taylor, Zwelendaba Mnomba en Jacques Goosen. Paul Roos wat die boonste posisie op School of Rugby se nuutste ranglys beklee het vier spelers JJ Kotze, Hanru Jacobs, Juan Mostert en Brendan Venter in die span.
Venter se pa ook Brendan het in 1987 die SA Skole-span gehaal. Toevallig die vorige keer wat die gesogte Cravenweek in die Paarl aangebied is. Venter sr. was natuurlik ook ‘n lid van die Springbok-span wat in 1995 as wêreldkampioen gekroon is. Nog ‘n oud-Bok Fritz van Heerden se seun, Emile van Heerden, het vanuit die Westelike Provinsie se XV-tal die nasionale span gehaal.
Die SA Skole-span sal in ‘n reeks van drie wedstryde teen Wallies, Engeland en Frankryk kragte meet.
Die span sal deur Boishaai se afrigter, Sean Erasmus gebrei word. Mzikwakhe Nkosi (King Edward VII) sal die hulpafrigter wees. Ofentse Moeng van Southdowns College is die spanbestuurder.
Die SA Skole-span is:
Voorspelers: Evan Roos (Hoër Jongenskool Paarl), Keke Morabe (Welkom Gimnasium), Celimpilo Gumede (Durban High School), Jarrod Taylor (Selborne College), De Wet Marais (Grey-kollege), Sibusiso Sangweni (Glenwood), Mihlali Mgolodela (Rondebosch Boys’ High), Tristan Dullisear (Monument), Adrian Alberts (Hoër Jongenskool Paarl), Emile van Heerden (Hoër Jongenskool Paarl), Lunga Ncube (Glenwood), Uzile Tele (Hudson Park), Hanru Jacobs (Paul Roos Gimnasium), Herman Aggenbag (Grey-kollege), Dewald Donald (Affies), Banele Mthenjane (Nelspruit), Jacques Goosen (Selborne College, JJ Kotze (Paul Roos Gimnasium).
Agterspelers: Sibabalwe Xamlashe (Selborne College), Darren Hendricks (Boland Landbou), Stravino Jacobs (Paarl Gimnasium), Zwelendaba Mnomba (Selborne College), Wyclef Vlitoor (Grey-kollege), Muzi Manyike (Jeppe High School), Brendan Venter (Paul Roos Gimnasium), Rynhardt Jonker (Glenwood), Juan Mostert (Paul Roos Gimnasium), Lionel April (Hermanus), Jurich Claassens (Garsfontein), Thomas Bursey (Selborne College).




