Hier is die loting van die o.17-toernooi van die Marius Schoeman 7s vir 2018
Die verdedigende kampioen van die Marius Schoeman Sewes-toernooi, Paul Roos Gimnasium van Stellenbosch, behoort nie veel probleme in sy groepwedstryde te ervaar om sy plek in die uitspeelwedstryde van vanjaar se toernooi op Paarl Gimnasium se velde te verseker nie.
Die span van die Eikestad is saam met Parel Vallei, Vuka Legends, die Hoërskool Tygerberg en Malibu geloot. Tygerberg kan wel ‘n moeilike hekkie vir die span van Paul Roos wees. Tygerberg het in 2010 en 2011 nie sy gelyke op skoolvlak in sewes gehad nie. Die span met sy breier, Gavin Beresford, aan die stuur beskik dus oor die vermoë om vir ‘n verrassing of twee te sorg.
Paul Roos is die nasionale seweskampioen na hy verlede jaar die eerste Hoërskole Sewesreeks se Kampioen van Kampioene-toernooi op Camp Discovery gewen het. Die reeks word in samewerking met Twizza aangebied. Dié span se breier, Ian Campbell-McGeachy, was betrokke by die trekking van die groepe vir die Marius Schoeman-toernooi.
Die gasheer, Paarl Gimnasium, is saam met Brackenfell, Douglas, Primrose RFC en Hugenote van Wellington in Groep A geloot. Die eerste wedstryd van die toernooi sal heel gepas tussen Gimmies en Hugenote wees. Marius Schoeman natuurlik ‘n oud-leerling van Paarl Gimnasium, terwyl Hugenote die Blitsbok Juan de Jongh opgelewer het.
Die grootste aanslag op die titel vanuit noord van die Vaalrivier sal van Monument van Krugersdorp en Garsfontein kom. Die Garsie BlitzBere het verlede week koning op die jaarlikse Sutherland Sewes in die Jakarandastad gekraai. Die span is die naweek ook in die Montana 7s in aksie. Garsfontein is waarskynlik in die moeilikste groep vir die Marius Schoeman 7s geloot.
Garsies is saam met HTS Drostdy, Outeniqua, Namibië en Melkbosstrand in Groep C geloot. Die span van Pretoria se SA Skole-skrumskakel, Jurich Claassens, het met die toekenning as Speler van die Toernooi tydens die Sutherland Sewes weggestap.
Monnas is saam met Overberg, Albert Myburgh, Prieska en Paarl Boishaai in Groep B geloot. Die span van Krugersdorp behoort nie te veel probleme te ondervind om bo-aan die groep te eindig nie. Hy behoort wel sterk teenstand van Boishaai te verwag.
Grey-kollege van Bloemfontein behoort weer vanjaar ‘n sterk aanspraakmaker op die titel te wees. Veral die span se wedstryd teen Boland Landbou behoort vir heelwat vuurwerk te sorg. Boland Landbou het verlede jaar vir Grey in die kwarteindronde op omstrede wyse in die toernooi uitgeskakel. Die span van die Agter-Paarl behoort ook een van die spanne te wees om dop te hou.
Die Groepe is:
Groep A: Paarl Gimnasium, Brackenfell, Douglas, Primrose RFC, Hugenote (Wellington).
Groep B: Monument, Overberg, Albert Myburgh, Prieska, Hoër Jongenskool Paarl.
Groep C: Outeniqua, Namibië, Melkbosstrand, HTS Drostdy, Garsfontein.
Groep D: Paul Roos Gimnasium, Parel Vallei, Vuka Legends, Tygerberg, Malibu.
Groep E: Stellenberg, Hermanus, Western Cape Sport School, Paulus Joubert, Paarl Barbarians.
Groep F: Grey-kollege, Durbanville, Be the Difference, Boland Landbou, Milnerton.




