SuperSport Schools Plus

Hickling gee toon aan tydens die Wildeklawer Super Interhoër Groep 6

By Hannes Nienaber , in Athletics | Featured Athletics | News , at 2026-02-17 Tags: ,

EMMA HICKLEY, middelafstand-atleet van Hans Moore, in aksie tydens haar spogvertonings tydens die jaarlikse Wildeklawer Super Interhoer Groep 6-byeenkoms in die Pilditch-stadion in Pretoria. FOTO: Gerrit van der Linde

Hoërskool Hans Moore se middelaftand-atleet, Emma Hickley, het vir vele hoogtepunte tydens die Wildeklawer Super Interhoër Groep 6 gesorg.

Hickley het in die 800m asook die 1500m vir dogters o.16 die byeenkomsrekords agter haar naam geskryf. Sy het ook in die 3000m ‘n goue medalje verower en haar naaste teenstander met meer as ‘n minuut en 20 sekondes uitgestof.

Hickley het die 800m se rekord tot 2 minute 24.74 sekondes verbeter. Haar naaste teenstander Abigail Brink (Lydenburg) was op 2:34.53 sekondes amper 20 sekondes na haar oor die eindstreep.

In die 1500m het sy die rekord tot 4 minute 58.65 sekondes verbeter. Die 3000m het sy in 10 minute en 50 sekondes klaar gemaak.

‘n Spanmaat van Hickley – Mary-Jane Nel (o.17) – het goud in die 400m en 800m verower. Nel het die 400m in 1 minuut en 4.51 sekondes gewen. Sy het ook ‘n volle nege punte vir haar skool met die sege in 2 minute 23.73 sekondes in die 800m beklink.

Haar wentyd in die 800m het ook die byeenkomsrekord verbeter.

In die 1500m wedloop vir dogters o.19 het Nelly Dhlamini van Birchleigh ook ‘n byeenkomsrekord in ‘n wentyd van 4 minute 55.44 sekondes laat spat.

Gepraat van die spankompetisie. Hoërskool Lydenburg het hier die septer met 927 punte geswaai. Hans Moore van Benoni (784) en Bastion van Krugersdorp (663) moes hier met onderskeidelik die tweede en derde posisie tevrede wees.

Lydenburg sal dus volgende jaar in Groep 5 van die Wildeklawer Super Interhoër deelneem. Die skool vanuit Mpumalanga se dogters het ook koning gekraai in hul afdeling met 448 punte, met Hans Moore (439) en Oosterlig (350) wat kort op hul hakke was.

In die naellope was daar niemand beter as Ashley Robbertse van Hans Moore nie. Sy was die enigste meisie wat die 100m in onder 13 sekondes kon voltooi. Sy het die wedloop vir dogters o.16 in 12.66 afgeblits.

In die 200m het sy 26.53 sekondes die pyp gerook. Daar was egter ‘n sterk wind van 2.9 meter per sekonde van voor tydens dié wedloop.

Lydenburg se Sybone Hanekom het goud in die 100m (13.06) asook die 400m (1:1.42) vir dogters o.19 verower. Hanekom is die enigste ander dogter wat in die korter naeloop amper daarin kon slaag om onder 13 sekondes verby die eindstreep te nael.

In die veld het Kara van Eeden van Bastion die beste vertonings op die dag gelewer. Sy het in die gewigstoot die bal 12.51m ver gestoot vir ‘n goue medalje en 851 punte volgens die puntestelsel.

Van Eeden het ook die diskus 34.57m ver geslinger op geen gelyke op die byeenkoms te hê nie.

Finale Algehele Puntestand

  1. Hoërskool Lydenburg (927); 2. Hans Moore (784); 3. Bastion (663); 4. Oosterlig (653); 5. Hoërskool Roodepoort (501); 6. Birchleigh (377); 7. Springs Boys’ High (327); 8. Potchefstroom Girls’ High (260); 9. Potchefstroom Boys’ High (195); 10. Springs Girls’ High (157).

Finale Puntestand | Dogters

  1. Hoërskool Lydenburg (448); 2. Hans Moore (439); 3. Oosterlig (350); 4. Bastion (318); 5. Potchefstroom Girls’ High (260); 6. Hoërskool Roodepoort (228); 7. Birchleigh (181); 8. Springs Girls’ High (157).
Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.