SuperSport Schools Plus

Helpies “Storm” die eindstryd binne

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-08-24 Tags: , , , ,

EUGENE DE LANGE, steelkantflank van Helpmekaar Kollege, beur oor vir een van sy span se vyf drieë in die sege van 39-36 oor Hoërskool Noordheuwel. FOTO: Marius Nortjé.

‘n Strafdoel deur Wian Storm, met slegs twee minute speeltyd oor, het vir Helpmekaar Kollege vir die eerste keer sedert 2019 ‘n plek in die eindstryd van die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling bespreek.

Herleef al die SDC Noordvaal Beker-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)

Storm se strafdoel was die beslissende faktor in ‘n naelbytstryd tussen die Helpies en Hoërskool Noordheuwel, wat deurentyd wipplank gery en die toeskouers in Johannesburg op die punte van hul stoele gehou het. Dit was tot op daardie stadium nie duidelik wie eerskomende Saterdag teen Hoërskool Garsfontein in die eindstryd te staan sou kom nie, maar Storm se suksesvolle poging vanaf die skopkegel het ‘n naelskraapse sege van 39-36 vir die tuisspan beklink.

Storm het boonop ook vier van sy span se vyf drieë verdoel en met nóg ‘n strafdoel vroeër geslaag.

Storm se skakelmaat, Shaye Lourens, se diens agter die Helpies se woelige pak was uitstekend, terwyl sy afstormdrie in die laaste 10 minute ook ‘n reuse-aandeel in die uiteindelike oorwinning gehad het. In die middeveld, was senters, Ethan Lourens en Clinton Cloete, weer op hul stukke met uitstekende aanvalslyne.

Voorlangs het die stryd tussen die twee pak onverpoos voortgewoed.

Die Nories se agttal het vir die besoekers die grondslag gelê vir ‘n verbete terugvegpoging in die tweede helfte, nadat hulle met die omdraaislag ‘n agterstand van 10-24 in die gesig gestaar het. Loskopstut, Ruben Botes, wat vir kaptein, Skuttie Bezuidenhout, vervang het, het sy kans aangegryp en danksy die Nories se effektiewe dryfmaal oorgebars vir ‘n tweekuns aan drieë.

Slot, Robert Hurn, en oopkantflank, Andrew Lambert, het ook verwoed te werk gegaan in die vastelos, met Hurn wat een van die besoekers se vyf drieë gedruk. Dié aanslag in die tweede skof was oplaas egter net-net nie genoeg nie, met die tuisspan se vaardigehede en vermoëns om in kontak af te laai, wat uiteindelik die deurslag gegee het.

Puntemakers: 

Helpmekaar Kollege 39 (24) – Drieë: Clinton Cloete, Eugene de Lange, Gustav Grotius, Kean Butler, Shaye Lourens. Doelskoppe: Wian Storm (4). Strafdoele: Storm (2). Noordheuwel 36 (10) – Drieë: Ruben Botes (2), Aiden Bester, Tidi Moeketsane, Robert Hurn. Doelskoppe: Jeandré Uithaler (4). Strafdoel: Uithaler.

Ander spanne: 

o.16: Monument 39, Noordheuwel 33.

o.15: Noordheuwel 15, Helpmekaar 14.

o.14: Noordheuwel 22, Monument 10.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.