Helpies klinies in Vanderbijl, dapper duikslae kry Rusties oor die lyn


Helpmekaar Kollege het sy veldtog as een van die sterk kandidate om die Beker-eindstryd van vanjaar se SDC Noordvaal Cup te haal, met ‘n kliniese vertoning teen Hoërskool Transvalia voortgesit.
Herleef al die Noordvaal Beker-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschool.com)
Helpies was met die omdraaislag reeds gemaklik voor met 21-0 en het voet in die hoek gehou om uiteindelik met 36-10 koning te kraai.
Die grondslag vir dié wegsege is oudergewoonte deur die agttal gelê. Die span van Johannesburg se voorspelers was deur die loop van die jaar ‘n sterkpunt en die pak gaan eenvoudig van krag tot krag. Dit was vernaam in die vaste fasette waar hulle die botoon gevoer het.
Slot, Diandro Botha, het sy indrukwekkende spelpeil tydens die onlangse Akademieweek voortgesit om die vuur onder sy sewe mede-voorspelers aan te steek. Agterlangs het die manne mekaar sat geduik, en dus was die Helpies se oorheersing voorlangs die vernaamste verskil, terwyl losskakel, Wian Storm, ‘n belangrike bydrae gelewer het met vier doelskoppe en ‘n strafdoel.
Hoërskool Rustenburg se Xavier Steenkamp het soos gebruiklik van voor gelei in sy span se soet sege van 34-28 oor die dokter van Boksburg, Hoërskool Dr EG Jansen. Steenkamp het vir die soveelste keer vanjaar ‘n barshou gespeel en is met ‘n welverdiende tweekuns aan drieë beloon.
In ‘n uiters fisieke stryd het die pakke voorspelers mekaar met mening aangevat. Die Jansies se Craig Lightfoot was weer woelig, vernaam by die afbreekpunte, en het een van sy span se vier drieë gedruk, terwyl regtervleuel, Otlatleng Zulu, die Boksburgers binne trefafstand gehou het met ‘n tweekuns van sy eie.
Dit was egter nie genoeg om ‘n oorwinning te verseker nie, met die Rusties se brawe verdediging, vernaam laat in die wedstryd, wat uiteindelik die deurslag gegee het.
Puntemakers:
Helpmekaar Kollege 36 (21) – Drieë: Dylan Engelbrecht, Diandro Botha, Jandré Botha, Michael Herbst, Daylon Greyling. Doelskoppe: Wian Storm (4). Strafdoel: Storm Transvalia 10 (0) – Drieë: Tumi Moloi, GJ Rossouw.
Hoërskool Rustenburg 34 (15) – Drieë: Xavier Steenkamp (2), Zack Swanepoel, Dartanyan van Rhyn, Ayden Willemse. Doelskoppe: Ricardo Enos (3). Strafdoel: Enos. EG Jansen 28 (7) – Drieë: Otlatleng Zulu (2), Jordan van der Westhuizen, Craig Lightfoot. Doelskoppe: 22 (3). Juan van Aswegen.
Ander spanne:
o.16: Transvalia 32, Helpmekaar Kollege 20; Hoërskool Rustenburg 31, EG Jansen 12.
o.15: Helpmekaar Kollege 35, Transvalia 0; EG Jansen 21, Hoërskool Rustenburg 19.
o.14: Helpmekaar Kollege 58, Transvalia 5; Hoërskool Rustenburg 80, EG Jansen 7.

Click here for everything you need to know about the SDC Noordvaal Cup




