SuperSport Schools Plus

Helpies hoop vir ‘n bietjie Peens-magic teen Affies

By Hannes Nienaber , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2024-03-15 Tags: ,

PHOTO: Johan Orton

Die Afrikaanse Hoër Seunskool se Wit Bulle sal na Saterdag presies weet hoeveel slypwerk nog vir hulle vir die Noord/Suid-toernooi voorlê.

Affies reis na Johannesburg waar hy teen Helpmekaar-kollege te staan sal kom. Die wedstryd skop om 12:30 af.

Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools (www.supersportschools.com).

Die twee skole se eerstespanne het mekaar al 66 keer vantevore op die rugbyveld ontmoet. Helpies was slegs in 20 aan die wenkant waarvan die laaste keer in 1998 was.

Albei die spanne kon darem al vanjaar die litte losmaak. Helpies moes sweet in Balgowan om vir Michaelhouse met 10-7 in ‘n klipharde stryd tot oorgawe te dwing. Affies het na Kimberley gereis en Diamantveld met 33-10 die loef af te steek.

Helpies se truie word vir die wedstryd deur die voormalige Italiaanse veelsydige speler Gert Peens uitgedeel. Die oud-Helpie het Italië in 24 toetse verteenwoordig.

Helpies se afrigters sal hoop dat daar ‘n stukkie Peens-magic aan hul span afsmeer. Peens het in ‘n toets teen Ierland met ‘n skepdoel van 58 meter geslaag en is ook bekend vir die duikslag op die All Black makro-vleuel Jonah Lomu.

Affies se skakelpaar, Ruben Pienaar en Hendré Schoeman, is sleutelspelers vir hul span. Pienaar het teen Diamantveld met sy skopvoet sy span op die voorvoet gehou, terwyl Schoeman se seepgladde diens asook sy oog vir ‘n gaping om die afbreekpunte goud werd vir die Wit Bulle was.

Die Wit Bulle se SA Skole-binnesenter, Janco Purchase, sal ook uitsien na sy tweestryd teen Michael Benzien in die middelveld. Benzien was verlede jaar al een van Helpies se staatmakers. Voorlangs sal die span van die Goudstad se vaskopstut, Ulrich van der Merwe, ook ‘n speler wees om dop te hou.

Die spanne is: 

Helpmekaar: 15 Tiaan le Roux, 14 Ty Ax, 13 Clinton Cloete, 12 Michael Benzien, 11 Pieter Möller, 10 Wian Storm, 9 Tristan van Niekerk, 8 Moloi Motlatsi, 7 Darius Haasbroek, 6 Eugene de Lange, 5 JP Lombard, 4 Christiaan Tonkin, 3 Ulrich van der Merwe, 2 Gustav Grotius, 1 Dylan Engelbrecht.

Affies: 15 Ruben Groenewald, 14 Hugo Snyman, 13 Theuns Maritz, 12 Janco Purchase, 11 Nicolaas Grobler, 10 Ruben Pienaar, 9 Hendré Schoeman, 8 Robin Lippold, 7 Albert Smit, 6 Luan Potgieter, 5 JD Hattingh, 4 Muntingh Hamman, 3 Ruan Smuts, 2 Ethan van Dyk, 1 Werner Vrey.

Ander bepalings: 

12:30 – o.19A – Helpmekaar vs Affies
11:10 – o.16A – Helpmekaar vs Affies
10:00 – o.19B – Helpmekaar vs Affies
09:00 – o.15A – Helpmekaar vs Affies
08:00 – o.14A – Helpmekaar vs Affies

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.