SuperSport Schools Plus

Heidelberg Volkies mik om Middies te stuit

By Franco Oberholzer , in Cricket | News , at 2024-02-09 Tags: , , , , , ,

Foto: Ankia Botha

Hoër Volkskool Heidelberg sal mik om Hoërskool Middelburg se puik momentum te stuit wanneer die twee spanne mekaar in die vierde ronde van Finsbury-reeks pak.

Die Volkies self het verlede naweek ‘n waardevolle sege behaal teen Merensky van Tzaneen. Dave Pelzer, die span van Heidelberg se voorste kolwer, is op sy stukke en het reeds twee vyftigtalle op sy Finsbury-kerfstok.

Die openingskolwers, Matthew Wentzel en Marko Hatkopf, is ook mooi op dreef en sal die Volkies vinnig van die merk af wil kry deur die sterk Middie-boulaanval vanuit die staanspoor onder druk te plaas.

Ivan Deale, die Middies se mees ekonomiese bouler tot dusver, sal die gevaarman wees, terwyl Volkies ook moet ligloop vir Gavin Genis . Genis is venynig met die bal, maar vervul ook ‘n sleutelrol in die Middies se middelorde.

Eduan Strydom behoort weer onophoudelik in te hardloop om die Volkie-kolwers te terroriseer.

Daar kan dus na ‘n titaniese stryd tussen die Volkies se sterk kolflys en die Middies se genadelose boulaanval uitgesien word.

Merensky smag nog na hul eerste oorwinning in vanjaar se reeks. Die span van Tzaneen sal Saterdag in Middelburg met HTS Middelburg swaarde kruis.

Die Plasies het verlede naweek so hittete oorwinning gesmaak teen Heidelberg Volkies in ronde drie. JP Botha, die Plasies se hoogs talentvolle kolwer en paaltjiewagter, het ‘n groot taak op hande indien die Tzaneeners hoop om suksesvol te wees.

Voorts sal die aanvangskolwer, Logan Janse van Rensburg, sy belowende vertonings met die kolf in ‘n werklike groot beurt wil omskep. Met die bal sal die aanvangsbouler, Luka Heinlein, se afwesigeheid ‘n groot leemte vir die Plasies laat. Sy plaasvervanger, Kyle Crous, is egter nie te versmaai nie, met sy swaaiboulwerk wat die lewe vir die Middelburgers kan bemoeilik.

Die Middelburgers se kaptein, Toy Engelbrecht, sal oudergewoonte van voor wil lei, vernaam na sy span se nederlaag met ses paaltjies teen Uplands College.

Ethan Dreyer sal saam met sy kaptein goeie waarde met sy knap boulwerk wil toevoeg. Die kolwers Anthoni Smuts en WJ Enslin sal verlede naweek se teleurstelling agter hulle wil sit, en vir Crous onder druk wil plaas om ‘n produktiewe begin vir hul span te verseker.

Hoërskool Dinamika sal hul onoorwonne rekord in vanjaar se reeks wil behou, wanneer hulle teen die gevaarlike Uplands College te staan kom.

Kaptein Dean van Onselen se kolf is huidiglik witwarm, en hy het nog in elke beurt geslaag om meer as vyftig lopies vir sy span op te stapel.

Sy boulers hou egter die grootste gevaar in vir Uplands, met verál Mark van der Berg en Jayden Smith wat skitterende vertonings met die bal gelewer het in die vorige twee rondes.

Vir Uplands sal Kai Naylor beoog om ‘n rat voor die Dinamika-kolwers se oë te draai, na sy uitstekende vertoning teen HTS Middelburg toe hy vyf paaltjies vir 15 lopies laat kantel het.

Marley Waspe behoort die gom in die Uplands-kolflys wees. Die voorslagkolwer sal op sy indrukwekkende spelpeil wil voortbou wanneer hy Saterdag sy verskyning in die middel maak.

 

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.