SuperSport Schools Plus

Hansieweek-eindstryd ’n Limpopo affêre


FOTO: Marius Nortjé.

Dit gaan ‘n Limpopo affêre afgee wanneer die eindstryd van die 31ste Mauritz Hansen Rugbyweek Saterdagmiddag in Naboomspruit plaasvind.

Volg al die aksie regstreeks op Supersport Schools(www.supersportschools.com)

Die tuisspan, Hoërskool Hans Strijdom, bevind hom vir ‘n tweede agtereenvolgende jaar in die eindstryd, danksy ‘n naelskraapse sege Woensdag van 17-16 oor Hoërskool Kalahari.

Die Hansies het verlede jaar met 10-26 teen ‘n sterk Hoërskool Hugenote-span, van Springs, in die eindstryd vasgeval.

Vanjaar se eindstryd bied ‘n nuwe uitdaging vir die gasheerspan in die vorm van Hoërskool Frikkie Meyer van Thabazimbi. Die Frikkies moes self spook om ‘n begeesterde span van Northcliff High School te tem, maar het uiteindelik met 15-14 die pyp gerook.

Saterdag se stryd tussen die twee spanne van Limpopo beloof om soos gebruiklik uiters fisiek te wees, vernaam onder die groot manne voorlangs in die nat toestande.

Juis daarom het die Leeus van die Noorde se afrigtingspan ‘n taktiese skuif in die pak aangebring, met staatmaker-slot, Ruvan Kruger, wat ingespan word om die lewe vir die Frikkies voorlangs moeilik te maak. Kruger vervang vir Paul de Beer, wat na die plaasvervangerbank skuif.

Die Frikkies sal heelwat staatmaak op steelkantflank, Keanu Visser, wat in die span van Thabazimbi se vorige twee wedstryde uitgeblink het met sy hoë werkverrigting en fisieke teenwoordigheid.

Die voorwedstryd tussen Hoërskool Kalahari van Kuruman en Nortcliff High School behoort ook vir vuurwerke te sorg. Die span van Randburg se losskakel, Matthew Hunt, sal fyn dopgehou moet word, aangesien hy verantwoordelik was vir bykans ál sy span se punte in hul vorige twee wedstryde.

Kalahari sal op agsteman, SW van Heerden, se knoppie druk om die nodige vuur voorlangs te verskaf en vir Northcliff onder druk te plaas. Van Heerden het tydens verlede jaar se Hansieweek op binnesenter uitgedraf, wat sy veelsydigheid, wat betref brute kragspel en ondernemende hardlooprugby, uitlig.

Hoërskool Marais Viljoen se o.16-span, wat deur die vermaarde Hans Coetzee afgerig word, kom in hul eindstryd te staan teen Hoërskool Hugenote van Springs. In die o.15-eindstryd wag ‘n opwindende kragmeting tussen Hoërskool Brandwag en Kalahari, terwyl die skool van Kuruman se o.14’s ook in die eindstryd van hul ouderdomsgroep met Hoërskool Frikkie Meyer swaarde kruis.

Uitslae – Dag 2: Eerste spanne:

Hans Strijdom 17 (10), Hoërskool Kalahari 16 (6).
Frikkie Meyer 15 (7), Northcliff High School 14 (8).
Hugenote (Springs) 24 (5), Hoërskool Alberton 8 (3).
Hoërskool Belville 22 (15), Hoërskool Brits 3 (3).
Jeugland 24 (19), Hoërskool Piet Retief 22 (10).
HTS Middelburg XV 29 (12), Frans du Toit 7 (7).
Hoërskool Fochville 15 (0), Empangeni 10 (3).

Bepalings – Dag 3:

07:00 – Empangeni t. Brits
08:00 – Hoërskool Belville t. Jeugland
09:00 – Hoërskool Frikkie Meyer t. Hoërskool Kalahari – (o.14).
10:00 – Hoërskool Brandwag t. Hoërskool Kalahari – (o.15).
11:00 – Hoërskool Marais Viljoen t. Hugenote (Springs) – (o.16).
12:00 – Hoërskool Zwartkop t. Hans Strijdom – (Tweede spanne)
13:00 – HTS Middelburg t. Hugenote (Springs)
14:00 – Hoërskool Fochville t. Hoërskool Alberton
15:00 – Hoërskool Kalahari t. Northcliff High School
16:00 – Hans Strijdom t. Frikkie Meyer

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.