SuperSport Schools Plus

Hans Moore se Shaw-broers herskryf rekordboeke

By Franco Oberholzer , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2025-08-06 Tags: , , ,

Old School
FOTO: Verskaf deur Hoërskool Hans Moore.

Die Shaw-broers van Hoërskool Hans Moore, Kenan en Aiden Shaw, het die afgelope Saterdag, 2 Augustus, hul skool se krieketrekordboeke herskryf.

Dié twee het die eerste stel broers geword wat elk, in dieselfde wedstryd vir die Mories, ‘n honderdtal kon aanteken.

Die span van Benoni het in ‘n opwarmingswedstryd teen Midstream College in Centurion te staan gekom. Die kragmeting was ter voorbereiding van Midstream se promosie-relegasie-wedstryd teen Hoërskool Centurion later in die seisoen, nadat hy vroeër vanjaar bo aan die C-afdeling van die jaarlikse Finsbury-reeks geëindig het.

Indien Midstream die promosie-stryd wen, sal hy na die B-afdeling opskuif, waar hy weer met spanne soos die Mories, Hoërskool Zwartkop, Potchefstroom Gimnasium en Hoërskool Monument sal meeding.

Midstream het verlede Saterdag teen Hans Moore die loot gewen en besluit om eerste te boul. Dit was ‘n besluit wat reeds vroeg dividende gelewer het, danksy Wian de Bruin wat drie vroeë deurbrake met die bal bewerkstellig het.

Sy twee paaltjies in die vierde beurt, insluitende die van die gevaarlike Xavier Coetzee (5), het die Mories op 22/3 laat wankel. De Bruin het sy dag met syfers van 3/63 in nege beurte afgesluit.

Dit het egter vir Shaw-broers oorgehaal om die langsteel behoorlik in te lê. Aiden, ook die Mories se paaltjiewagter, het eerste stelling ingeneem by die kolfkampie en saam met kaptein, Adrian Watson (28), die skade begin herstel, voordat Kenan by hom aangesluit het.

Albei broers het van meet af aan die bal besonder skoon getref en dit was verál Kenan wat die wilgerlat na willekeur geswaai het. Hy het van slegs 102 balle, sewe viere en ses sesse grens toe gejaag vir sy onoorwonne 126*, terwyl Aiden die ankerrol gespeel het met ‘n bestendige 124 vanaf 128 aflewerings. Laasgenoemde se beurt het 11 viere en een ses ingesluit, voordat hy deur Barto Oosthuizen (2/42) terug kleedkamer toe gestuur is.

Die broers se vennootskap van 158 lopies het die Mories in staat gestel om ‘n reuse-totaal van  327/7 in hul toegelate 50 beurte op die telbord te plaas.

Asof die kolfaanslag nie genoeg was nie, het Kyle Wratten met die bal verdere sout in die wonde van Midstream gesmeer. Wratten het in die nege beurte wat hy geboul het, vyf paaltjies laat spat. Die indrukwekkendste feit betreffende Wratten se boulskof is dat hy in 54 balle ‘n merkwaardige 48 leë aflewerings afgestuur het, om met syfers van 5/8 te pronk.

Die jongeling, Keegan Gibson, was die silwerrandjie op die tuisspan se kolflys. As 15-jarige het hy die beurt teen die Fain Noordvaal-reeks se verdedigende kampioen geopen en 53 balle vir 21 lopies trotseer. Dit was ook sy span se hoogste individuele telling, met Midstream wat uiteindelik vir 61 lopies uitgeboender is.

Beknopte telkaart

Hans Moore 327/7 (Kenan Shaw 126*, Aiden Shaw 124, Adrian Watson 28; Wian de Bruin 3/63, Barto Oosthuizen 2/42); Midstream College 61 (Keegan Gibson 21; Kyle Wratten 5/8, Kenan Shaw 2/9). Hans Moore wen met 266 lopies. 

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.