Hans Coetzee gereed vir nuwe hoofstuk
“Ek het my hele lewe vir Monnas gegee.”
Dit is die woorde van Hans Coetzee wat binnekort vir oulaas sy kantoordeur by die Hoërskool Monument in Krugersdorp agter hom toe sal trek. En Coetzee oordryf nie met hierdie woorde nie. Hy was vir 32 jaar by die skool betrokke, waarvan hy vir 22 jaar die skool se eerstespan, die Wit Bulle gebrei het.
Dit maak die manier hoe die beëindiging van sy kontrak as direkteur van rugby deur die skool se beheerliggaam hanteer is ’n klap in die gesig van die legendariese breier. Die beheerliggaam het tot vandag toe nog nie ’n rede vir die beëindiging van Coetzee se kontrak verskaf nie.
Buiten die manier waarop Coetzee laat gaan is, kon nie een van Monnas se spanne tot die eindronde van die Virseker Beeldtrofee deurdring nie.
‘n Gebeurtenis wat laas in 2006 plaasgevind het. Monnas se trots het in die halfeindronde van die reeks teen Garsfontein met 20-35 vasgeval.
Die Wit Bulle is bekend daarvoor dat hulle nie so storm soos wat hul kan as hul op ’n weeksmiddag speel nie. Buiten die oorwinning van die Tuks-reeks sal 2016 nie as ’n goeie jaar vir Monnas-rugby onthou word nie.
Coetzee het nog nie besluit waar hy volgende jaar die sweep sal klap nie. “Net soos ek my kant by Monnas gebring het, was die skool ook baie goed vir my,” het Coetzee gesê.
Die klubhuis by Monnas, die Varia, waar die lys van Monnas se Springbokke, SA Skole-spelers en Cravenweek-spelers se name teen die muur asook truie en fotos spog is onder andere ook deur Coetzee nagevors en moontlik gemaak.
Sy rekord as afrigter van die Wit Bulle se eerstespan spreek vanself. In sy 22 jaar as afrigter van die eerstespan het die span 522 wedstryde gespeel en was hy in slegs 96 wedstryde aan die verloorkant. In 20 van dié wedstryde het Monnas die louere gedeel. Dit beteken dat die skool se trots onder Coetzee ’n uitstekende wenpersentasie van 77.78 persent gehad het.
Niemand in die geskiedenis van die skool neffens die Paardekraal-monument het die leisels vir solank by die eerstespan gehou nie. Jan Lange het vir 19 jaar vanaf 1935 tot en met 1953 die Wit Bulle laat sweet.
Coetzee het in 1972 aan die Hoërskool Rustenburg gematrikuleer. Hy het vir die skool se eerstespan as agtsteman in 1971 en 1972 uitgedraf. Hy het reeds in 1977 ’n pos as onderwyser by Monnas gekry, maar moes eers sy twee jaar diensplig voltooi voordat hy sy loopbaan as Geskiedenis- and Afrikaans-onderwyser in 1979 by Monument aangesluit het.
Interresant is dat Dok Phil Pretorius, destyds sportverslaggewer van die Beeld, in sy verslag oor die Direkteurstrofee van 1984 in die SA Rugbyskrywers se jaarboek noem dat “Die Krugersdorpers veral sedert 1979 ’n faktor is om mee rekening te hou,” het Coetzee gesê.
Monnas se Rugbykultuur
“Ons seuns is verskriklik vaardig. Ons is ingestel op drieë druk. Veral ons senters moet baie goeie balverspreiders wees. Dit is ook da tons elke jaar goeie senters in ons eerstespan het.” Monnas het in 2004 in 28 wedstryde 179 drieë gedruk. Voor daardie jaar het die 1993-span die rekord met 145 drieë in 24 wedstryde gedruk.
Beker-bielie
Coetzee het in 1984 sy eerste kans gekry om Monnas se eerstespan af te rig. Hy het saam met Frans Grobler die span daardie jaar tot die titel as kampioen van die destydse Direkteurstrofee gebrei wat hul met die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria (10-elk) moes deel. Interresant is dat Monnas ook daardie jaar vir die eerste keer paaie op die rugbyveld met Grey-kollege van Bloemfontein gekruis het. Dié kragmeting het ook 10-elk geëindig.
Die eerste span wat hy by Monnas moes brei was die o.14B-span in 1979. Hy het in 1980 die o.13-span tot kampioen van Transvaal gebrei. Hy het daarna ook in 1982 gesorg dat Monnas die eerste houer van die Piet Krynauw-trofee (vir o.15-spanne) word. “Dit is vir my een van my grootste persoonlike prestasie om die eerste titel te wen.” Monnas se vleuel Vincent Peyper was Monnas se held in die eindstryd op Loftus Versfeld teen Nelspruit na hy feitlik die hele jaar vir die B-span gespeel het. “Vincent het daardie iets gekort om vir ons A-span te speel, maar hy was ’n uitstekende stelskopper. Hy het na ons ’n drie in die hoek gaan druk het die vervyfskop oorgeskop na dit ook op die dwarslat gehop het om aan ons die sege van 10-9 te besorg.”
In 1985 het Coetzee se o.13-span weer die Transvaalse liga gewen met Stefan “Botter” Lourens as sy kaptein. Lourens rig tans Florida se eerstes af en het ook al vir vier jaar saam met Coetzee die Wit Bulle gebrei.
Coetzee het Monnas tot nasionale kampioen in 2003 gebrei met die toekomstige Springbok-stut Heinke van der Merwe as sy kaptien. Die destydse Media24-kompetisie se eindstryd teen Waterkloof met 19-16 gewen. “Ons agtsteman Torrie Meyer het 32 drieë daardie seisoen gedruk.”
“In my oë was 2005 se span die beste wat ek by Monnas afgerig het. Ons het die Beeldtrofee gewen en ook daardie jaar die meeste drieë in die land gedruk. Ons vleuel Hercules Venter het die rekord vir die meeste drieë vir die Wit Bulle na 34 opgestoot.” Coetzee kon nooit ’n span van eerstespan van Monnas deur ’n onoorwonne seisoen neem nie. Die span van 2005 het slegs een nederlaag teen Waterkloof op die lyf geloop.
Rekord teen Grey-kollege
Daar bestaan geen twyfel oor die feit dat Grey van Bloemfontein Suid-Afrika se voorste rugbyfabriek is nie. Die skool se eerstespan se rekord deur die jare spreek vanself. Daar is wel een naam wat . Grey het sedert die ontstaan van die Wildeklawer-toernooi nog net een keer tydens die toernooi die onderspit gedelf. En Coetzee was die argitek van daardie nederlaag toe sy Wit Bulle verlede jaar Grey met 17-7 in Kimberley gegaffel het. “Ek is trots oor my rekord teen Grey.”
Monnas het met Coetzee as breier 11 keer teen Grey te staan gekom en vyf keer as oorwinnaars van die veld gestap. Twee van die wedstryde het gelykop geëindig, terwyl Grey vier keer aan die wenkant was.
Monnas se Middelveld-maestros
Van die agt Springbokke wat die skool van Krugersdorp tot dusver opgelewer het, is slegs Christo Wagenaar, Brendan Venter en Jaco Taute nie deur Coetzee by Monnas gebrei nie. Van dié agt het vyf die Groen-en-Goud as senters oor die kop getrek. Wagenaar, Jorrie Muller, Jaque Fourie en Jaco Taute het almal in hul loopbane die middelveld vir Bokke beman. Die span wat in 1984 se Direkteurstrofee met Affies gedeel het se kaptein en senter, Jacques Nieuwenhuys, het ook die nasionale skolespan verteenwoordig.
Monnas se André Venter, broer van Brendan, is een van slegs vier spelers wat die SA Skole-span drie keer kon haal. Hy het in standerd agt (graad tien) as ’n leerling van Monnas die nasionale span in 1989 die eerste keer gehaal. Hy het daarna ook twee keer as ’n leerling van Grey-kollege (1990-91) die span verteenwoordig.




