Hanekom haal uit en wys vir Middies in Tzaneen

Hoërskool Middelburg het die tog van sowat 314 km na Tzaneen aangepak met die wete dat ‘n sege oor die Buffels geensins maklik sou wees nie.
Kry al die inligting oor die wedstryd op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die kragmeting op die Piet Swart-stadion van Hoërskool Ben Vorster het inderdaad ‘n titaniese stryd afgegee, met die besoekers wat, ná ‘n geswoeg teen hardnekkige verdediging, met 23-17 oor die Bloktruie koning gekraai het.
Die Middies se oopkantflank, CW Hanekom, was straks sy span se grootste uitblinker en het geen kans om balbesit om te keer laat verbygaan nie.
Die voorspelerstryd het soos verwag vuurwerke opgelewer, met die Buffels wat uitmuntend vertoon het in die skrums, maar in die lynstane effens opgekeil is. Daar het die Middies se slot, Jabu Mathebula, uitgetroon, terwyl hy en haker, Roux Grobler, dikwels meters veld gewen het met hul robuuste dryfspel.
Chifu Banda, die Buffels se buitesenter, het vir die tuisspan uithalerspel gelewer, nie nét op die aanval nie, maar ook by die afbreekpunte waar hy soos ‘n wafferse losvoorspeler gewoeker het. Stiaan de Rand was oudergewoonte woelig in die nr 9-trui, het goeie diens aan losskakel, Shelton-Ray Primo, gelewer en is, kort voor rustyd, met sy span se enigste drie beloon. Primo het met vier strafdoele geslaag om die telbord aan die rol te hou.
In Pretoria het die ondersteuners van Hoërskool Montana en Hoërskool Klerksdorp uiteindelik ‘n aksiebelaaide dag beleef, nadat die eindronde van die NWU Prestige-reeks weens reën in Potchefstroom afgelas is.
Die Klerksdorpers het in ‘n vriendskaplike stryd vir die Monties met 33-24 verslaan, met heelagter, Dorian Isaacs, wat weer in ‘n vernietigende bui was en twee keer die Monties se verdediging oopgekloof het vir ‘n welverdiende tweekuns aan drieë.
Voorlangs het ‘n vurige stryd gewoed tussen die besoekers se agsteman, Tiaan Koen, en die Monties se oopkantflank, Aiden Vorster, met Koen, asook steelkantflank, Marnus van der Merwe, wat uiteindelik die grondslag vir hul span se sege gelê het met hul fisieke spel in die los.
Puntemakers:
Hoërskool Middelburg 23 (13) – Drieë: CW Hanekom, Sihle Mkhatswa, Maseko Lungelo. Doelskop: Matthew Abbey. Strafdoele: Abbey (2). Ben Vorster 17 (8) – Drie: Stiaan du Rand. Strafdoele: Shelton-Ray Primo (4).
Hoërskool Klerksdorp 33 (19) – Drieë: Dorian Isaacs (2), Tiaan Koen, Marnus van der Merwe. Strafdoele: Brendin Mathyse (4). Montana 24 (10) – Drieë: Aiden Vorster, Luan Barnard, Marq de Villiers. Doelskoppe: Rubel Bester (3). Strafdoel: Bester.
Ander uitslae:
Zwartkop 74 (29) – Drieë: Reagan Blignaut (2), Luan Wepener (2), Shayden Botha (2), Luan Williams, Tilon Baron, Luan Janse van Rensburg, Ettienne van Niekerk, Brian Smith. Doelskoppe: Baron (2), Janse van Rensburg (3), Kyle Koopman (2). Heidelberg Volkskool 12 (12).
Jeugland 32, Hugenote (Springs) 26.
Wesvalia 22, Hoërskool Lichtenburg 19.
Ander spanne:
o.16: Ben Vorster t. Hoërskool Middelburg (afgelas); Klerksdorp 33, Montana 14.
o.15: Ben Vorster 31, Hoërskool Middelburg 24; Klerksdorp 21, Montana 10.
o.14: Ben Vorster 12, Hoërskool Middelburg 12; Montana 8, Klerksdorp 5.






