SuperSport Schools Plus

Grey bobaas teen Hoër Jongenskool Paarl

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2013-05-27 Tags:

GREY-KOLLEGE se eerste rugbyspan het sy onoorwonne rekord sedert 1983 teen die Hoër Jongen-skool Paarl (HJS) op sy tuisveld behou toe hy Saterdag met 35-28 as oorwinnaar van die veld gestap het.

Die wenspan se heelagter, EW Viljoen, het sekerlik sy beste vertoning nog vir sy skoolspan gelewer.

Viljoen het telkens wanneer hy aan die bal gevat het, die besoekers van die Paarl se verdediging aan flarde gehardloop. Hy moes die veld ’n paar keer verlaat weens ’n kopbesering wat kort-kort gebloei het.

Elke keer as hy van die veld was, het Grey se aanvalle minder gevaar vir die besoekers ingehou.

Grey het vroeg ’n voorsprong van 20-0 opgebou met die kaptein en flank Marius Louw en vleuel Henry Immelman wat goeie bewegings afgerond het.

Die buitesenter en stelskopper Stephen Rautenbach het albei drieë verdoel en ook twee strafdoele deur die pale gejaag.

Ná Immelman se drie het dit gelyk asof Grey die besoekers ’n hewige drag slae sou toedien.

HJS se kaptein en voorryman, Thomas du Toit, het sy span aangevuur en ook gaan druk om sy span se gemoedere te lig.

Die spanne het gaan rus met die telling op 27-12.

In die tweede helfte het Stefan Gouws met sy skopskoen en met die hulp van ’n drie deur die slot Hein Kritzinger vir Paarl die telling na 27-25 laat krimp.

Die tuisspan se loskopstut, Andrew du Plessis, het kort voor die einde in die linkerkantse hoek oorgeduik om die wedstryd se uitslag te beklink. Hy en die vaskopstut, Ruan Kramer, het die bal goed in die kragmeting gedra.

Die kaptein, Louw, het ook uitmuntend vertoon.
) 
Grey het Dinsdag ook teen Fichardtpark met 41-7 koning gekraai. Die wedstryd is egter ná slegs 30 minute se spel in die eerste helfte gestaak nadat Grey se agtsteman, Reinhardt Arndt, sy arm gebreek het.

Viljoen het ’n driekuns van drieë behaal, terwyl Rautenbach ook twee keer agter Fichies se doellyn gaan kuier het.

Puntemakers: 

Grey-kollege 35 (27) – Drieë: Marius Louw, Henry Immelman, Andrew du Plessis, Carel Durow. Doelskoppe: Stephen Rautenbach (3). Strafdoele: Rautenbach (3). Hoër Jongenskool Paarl 28 (12) – Drieë: Thomas du Toit, Hein Kritzinger, Charlton Jonas. Doelskop: Stefan Gouws (2). Strafdoele: Gouws (3).

 

 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.