Groot tellings op die eerste dag van die Francois Swart Rugbyweek
Groot tellings was aan die orde van die eerste dag van die jaarlikse Francois Swart o.15-rugbyweek op die hoofveld van die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria. Garsfontein van die Jakarandastad het in die hoofwedstryd van dié dag vir Welkom Gimnasium met 54-0 afgestof.
Vanjaar se week is die 15de keer wat die fees van rugby aangebied word.
Welkom Gimnasium neem vir die eerste keer aan die week deel na Lichtenburg kort voor die aanvang van die week onttrek het. Gimmies kom op die tweede dag teen Kempton Park te staan.
Die gasheer, Affies, het Kempies met 56-0 gekarnuffel. Nog ‘n span van die Jakarandastad, die Hoërskool Waterkloof, was met ‘n oorwinning van 57-10 te sterk vir die Hoërskool Nelspruit.
Affies kom Donderdag teen Dr. EG Jansen van Boksburg te staan. Die Boksburgers het Woensdag vir Westville Boys’ High met 41-5 verslaan. Klofies kom teen Zwartkop op die tweede dag te staan.
Daar kan verwag word dat die spanne op die tweede dag beter teen mekaar sal opweeg.
Swart het Affies se eerstespan in 53 wedstryde verteenwoordig en het 447 punte vir die Wit Bulle in die wedstryde aangeteken. Swart se skakelmaat in 51 van sy 53 wedstryde vir Affies was die Springbok-skrumskakel, Fourie du Preez.
Swart het na skool in 2002 en 2003 vir die Suid-Afrikaanse o.21-span gespeel. Hy het ook tussen 2001 en 2003 die Luiperds, Westelike Provinsie en die Blou Bulle in die Vodacombeker-reeks verteenwoordig.
Uitslae van Dag 1:
| Affies | 56 | Kempton Park | 0 |
|---|---|---|---|
| Waterkloof | 57 | Hoërskool Nelspruit | 10 |
| Garsfontein | 54 | Welkom Gimnasium | 0 |
| Zwartkop | 25 | Klerksdorp | 10 |
| Dr. EG Jansen | 41 | Westville Boys’ High | 5 |
| Maritzburg College | 27 | Helpmekaar-kollege | 21 |
[powr-comments id=”e30abc8f_1553100631056″]




