Groenewald, ’n man vir die groot oomblik, vat vyf

Ruben Groenewald van Afrikaanse Hoër Seunskool se oes van vyf paaltjies Saterdag in Pretoria is sy derde groot oomblik van die jaar.
Lees en herleef al die Titans Platinum Liga-aksie net hier op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Groenewald se vorige twee uithaaloomblikke vanjaar het albei op die rugbyveld plaasgevind, naamlik ‘n doelskop teen Paarl Gimnasium om ‘n gelykopuitslag af te dwing en toe ‘n strafdoel teen Jeppe High School for Boys vir ‘n naelskraapse sege in die doodsnikke.
Die veelsydige Groenewald het die afgelope Saterdag soos dit ‘n kaptein betaam, in die grootste stryd tot dusver vanjaar in die Titans-liga, van voor gelei. Hy het uiteindelik ‘n merkwaardige boulskof van 8.1 beurte afgesluit met syfers van 5/27 wat vir Affies ‘n sege van 51 lopies oor Hoërskool Waterkloof verseker het. Dit neem sy se bydrae met die bal, oor die laaste twee wedstryde, na ‘n allemintige nege paaltjies.
Dié nederlaag was slegs Klofies, die krieketreus van Pretoria, se tweede in soveel jaar in die Titans-liga, nadat Affies in 2023, ook op hul tuisveld, met vyf paaltjies koning gekraai het. Dit beteken natuurlik dat Affies nou die enigste onoorwonne span onder die groot Titans is.
Die jongeling, Christian Linde, wat slegs in Graad 9 is vanjaar, was die voorbok op die Affies se kolflys. Die groentjie het met 79 lopies gespog, waarvan hy 46 met grenshoue aangeteken het.
Vier van die ander Affie-kolwers het elk meer as 40 lopies bygedra. Paaltjiewagter, Daniel Murray, self nog jonk, het voet in die hoek gesit vir 56 lopies van 51 aflewerings. Die gesamentlike poging van die tuisspan het vir ‘n totaal van 297/7 in sy toegelate 50 beurte gesorg.
Klofies se Darius Maritz het sy staal tydens die laaste gedeelte van die beurt tentoongestel en met syfers van 3/57 in agt beurte afgesluit. Sy span se kolfbeurt het egter nie na wense begin nie. Zian Labuschagne (1/41) en Vihan Pretorius (1/45) het vroeg toegeslaan om die Klofies onder druk te plaas.
Dit was Franco Schmidt (48) en Rico van der Walt (41) wat die orde herstel het. Die twee het netjies saam gekolf vir ‘n belangrike venootskap van 72 lopies. Toe Johan Feuth boonop 85 lopies van net 57 balle gemoker het, in ‘n beurt wat sewe viere en ses sesse ingesluit het, was Klofies nog op koers na ‘n stewige totaal.
Die draaipunt het egter gekom toe Feuth deur Labuschagne uitgehardloop is. Dit was toe Groenewald die druk dramaties verplaas het. Sy knaende boulwerk het ‘n ineenstorting tot gevolg gehad, met vier paaltjies wat vir slegs 23 lopies gekantel het.
Hierdie uitslag maak die wedloop vir die trofee weer wawyd oop. Affies het nog drie wedstryde oor, waarvan een teen Hoërskool Garsfontein. Die Ysbere het na hul sege oor Die Hoërskool Menlopark vroeër die dag, na eerste op die puntelys opgeskuif.
Die onlangse twee uitslae maak die ontmoeting tussen Affies en Garsfontein van kardinale belang. Die Klofies sal ook hul twee oorblywende wedstryde met bonuspunte moet wen indien hulle ‘n kans wil staan om hul titel van die afgelope vier jaar suksesvol te verdedig.
Beknopte telkaart
Affies 297/7 (Christian Linde 79, Daniel Murray 57, Adriaan Nel 42, Vihan Pretorius 41, JP Botha 37; Darius Maritz 3/57); Waterkloof 246 (Johan Feuth 85, Franco Schmidt 48, Rico van der Walt 41, Ekstras 23; Ruben Groenewald 5/27). Affies wen met 51 lopies.





