SuperSport Schools Plus

Grobler, Gimmies veg terug om suster te soen met Plasies


FOTO: Potchefstroom Gimnasium op Facebook.

Merensky Landbou Akademie het Saterdag vir Potchefstroom Gimnasium en sy ondersteuners laat naels kou in dié twee spanne se kragmeting in die Bowl-afdeling van die SDC Noordvaal Cup.

Herleef al die Bowl aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

Die uiteindelike gelykopuitslag van 41-41 het as ‘n taamlike skok gekom. Om die waarheid te sê, teen rustyd het die besoekers van Tzaneen reeds met ‘n verrassende buffer van 26-8 voorgeloop.

Haker, Marno Nel, het voorlangs ‘n barshou gespeel om die vuur te stook onder die Plasie-pak, en dit het ‘n soliede platform vir die agterlyn geskep. Heelagter, George Steenkamp, was een van die Ligbloues se groot uitblinkers, vernaam wanneer hy die bal in hand gehad het maar óók as ‘n laaste linie van verdediging. Losskakel, JD Boshoff, het vir die Limpopo Blou Bul-keurders tong uitgesteek deur die toutjies meesterlik te trek met sy visie en besluitneming.

In die tweede skof, het Gimmies se agsteman, De Wet Grobler, egter op dramatiese wyse die momentum teruggeswaai. Grobler, nog ‘n Graad 11-leerder, het oral opgeduik om die Plasies se verdediging te teister en ‘n welverdiende driekuns aan drieë te behaal.

Slot, Rynel Rautenbach, het met sy werkverrigting en rotsvaste verdediging ook ‘n reuse aandeel gehad daarin dat Gimmies na vyf wedstryde steeds onoorwonne is in die Bowl-afdeling.

In Centurion het Porchefstroom Volkskool na die wenpad teruggekeer met ‘n naelbytsege van 36-34 oor Hoërskool Eldoraigne. Die Drake moes weereens probeer inhaal in die tweede helfte, maar die Volkies het verbete vasgebyt met briljante verdediging om die Eldos se aanslag af te weer.

Binnesenter, River Samuel, was uiters effektief daarin om die bal punte toe te skuif, waar die Volkies op hul gevaarlikste gelyk het, en ook vir sy sentermaat, Hennie Pretorius, geleentheid geskep om twee keer agter die Drake se doellyn te gaan draai.

Die Eldos se woelige rooikopflank, Cameron Killian, het deurentyd vir die besoekers hoofbrekens besorg en ook twee keer gaan druk.

Hoërskool Randburg het in ‘n aanskoulike drieëfees in Ermelo met 52-47 teen Hoërskool Ermelo geseëvier.

In dié kragmeting, wat ‘n gesamentlike totaal van 99 punte 13 drieë opgelewer het, het die Randburgers se oopkantflank, Victor van Blerk, uitgetroon met ‘n tweekuns aan drieë, terwyl die tuisspan se binnesenter, Nicolas Steyn, die kollig gedeel het met ‘n uitmuntende driekuns. Francois Homan het ook twee keer gedruk.

Bergsig Akademie se heelagter, Bradley Stonehouse, het 15 van sy span se 20 punte aangeteken, met ‘n drie, twee doelskoppe en ‘n strafdoel, om ‘n begeesterde Hoërskool Dinamika met 20-15 die hoof te bied. Die span van Alberton se held van die vorige week, regtervleuel, Nico Greyling, het weereens sy weg na die doellyn gevind, terwyl heelagter, Zavian Mathys, ook gedruk het.

Puntemakers: 

Potchefstroom Gimnasium 41 (8) – Drieë: De Wet Grobler (3), MJ Viljoen, Bolt Koena, Rynel Reutenbach. Doelskoppe: Zandré da Silva (4). Strafdoel: Da Silva. Merensky Landbou Akademie 41 (26) – Drieë: Marno nel, Matthew Mockford, Henru Venter, Maritz Meintjies, Jens Bezuidenhout, Meshack Mohala. Doelskoppe: JD Boshoff (4). Penalty: Boshoff

Potchefstroom Volkskool 36 (24) – Drieë: Hennie Pretorius (2), River Samuel, Wian Victor, Marlu du Preez. Doelskoppe: Juhan Geldenhuys (5). Strafdoel: Geldenhuys. Eldoraigne 34 (15) -Drieë: Cameron Killian(2),Hugo Theron, Hanno Jacobs, Kevin Earle. Doelskoppe: Darren Bruwer, Damian Elferink. Strafdoel: Elferink.

Hoërskool Randburg 52 () – Drieë: Victor van Blerk (2), Chrisjan van Niekerk, Bradley Butcher, Eduan Bakkes, Josh Wigget, Josef van den Berg. Doelskoppe: Wigget (3), Jayden Todd (2), Van den Berg. Hoërskool Ermelo 47 () – Drieë: Nicolas Steyn (3), Francois Homan (2), JW Pretorius. Doelskoppe: WJ Pretorius (4). Strafdoele: Pretorius (3).

Bergsig Akademie 20 (10) – Drieë: Bradley Stonehouse, Kea Daile. Doelskoppe: Stonehouse (2). Strafdoele: Stonehouse (2). Dinamika 15 (0) – Drieë: Zavian Mathys, Nico Greyling. Doelskop: Mathys. Strafdoel: Caiden van der Merwe.

Ander spanne: 

o.16: Ermelo 30, Randburg 26; Merensky 50, Potch Gimmies 10; Dinamika 19, Bergsig 10; Eldoraigne 27, Potch Volkies 10.

o.15: Ermelo 37, Randburg 0; Potch Gimmies 30, Merensky 17; Bergsig 13, Dinamika 12; Eldoraigne 33, Potch Volkies 0.

o.14: Randburg 14, Ermelo 5; Potch Gimmies 24, Merensky 13; Dinamika 24, Bergsig 5; Potch Volkies 14, Eldoraigne 7.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.