Griffons te vurig vir die Blou Bulle XV
Griffons het vuur gespoeg tydens sy eerste vertoning op vanjaar se 55ste Coca-Cola Cravenweek vir hoërskole teen die Blou Bulle se XV-tal in die Paarl. Die Perses het die toernooi met ‘n klinkende sege van 51-17 oor die Ligbloues se naasbestes afgeskop.
Dit was veral die wenspan se losskakel, Ruben Liebenberg, wat met sy besluitneming die span op die voorvoet gehou het. Hy het die bal seepglad langs die agterlyn afgestuur. Sy vleuels, Leonard Jacobs en JP de Kock, het baljaar op die punte danksy al die gehalte balbesit.
Die balbesit was natuurlik nie moontlik sonder die harde werk deur die agttal nie. Die Perses se aanslag voorlangs is deur die slot Hussayn Banzi gelei. Die haker, Valie Wiggens se ingooiwerk in die lynstane was ook van hoogstaande gehalte.
Die Perses se skrumskakel, Georgen Kiewiet, asook die senter Keith van Aswegen het elk twee keer die Ligbloues se doellyn oorgesteek. Die Blou Bulle se beste speler was sonder twyfel sy haker, Eduan Swart, wat behoorlik in die los gewoel het. Hy is vir sy uitstaande spel met twee drieë beloon.
Puntemakers:
Griffons 51 (15) – Drieë: Georgen Kiewiet (2), Keith van Aswegen (2), Ruben Liebenberg, Leonard Jacobs, JP de Kock, FC du Plessis. Doelskoppe: Liebenberg (4). Strafdoel: Liebenberg. Blou Bulle XV 17 (5) – Drieë: Eduan Swart (2), Boipelo Kgatlhanye. Doelskop: Kenan Wessels.