Griffon- en Griekwa-kampioene sal dit uitveg vir Colt-titel

Postmasburg en Hoopstad sal volgende naweek mekaar die stryd aansê om te bepaal wie die 2023 Kovsiereeks Colt-liga kampioene gaan wees.
Verlede naweek het Postmasburg vir Hendrik Potgieter met 43-24 in Kimberley verslaan, terwyl Zastron in Welkom die knie moes buig teen Hoopstad met 31-20.
Kyk die wedstryde weer op SuperSport Schools – Registreer nou
Bradley Clark, Postmasburg se regtervleuel, was ‘n doring in die Hendrik Potgieter verdediging se vlees.
Clark kon twee keer agter die span van Reddersburg se doellyn kuier in die halfeindstryd.
Sy losskakel, Emmanuel van der Merwe, het self ‘n barshou gespeel en kon 18 punte bylas met ‘n drie, vyf doelskoppe en ‘n strafdoel.
Hendrik Potgieter se vleuel, Tumi Pholoane, het ook twee drieë agter sy naam gekry.
Postmasbusrg het verlede naweek reeds die Griekwa Kleinskole-titel verower deur om vir Namakwaland te verslaan met 22-14.
Hulle reis volgende al die pad Bloemfontein toe om vir Hoopstad in die eindstryd te ontmoet.
Hoopstad lyk op die oomblik onstuitbaar, sy opwindende senterpaar Abrie van Zyl en Hennie Barnard, het die pas gestel in die wedstryd deur om vyf drieë tussen die twee van hulle aan te teken.
Zastron het nie antwoord gehad vir Van Zyl nie, hy kon ‘n driekuns aanteken om sy span te help om ‘n plek in die eindstryd te boek.
Hulle het net so gesukkel om vir Barnard vas te vat, en hy was self twee keer oor die doellyn om seker te maak dat daar geen Vrystaatse verteenwoordiger in die eindstryd in Bloemfontein sal wees nie.
Die kragmeting tussen Hoopstad en Postmasburg belowe dan vuurwerk in volgende naweek se eindstryd. Albei spanne lyk asof hulle op ritme is en dra die momentum van groot seges in hul onderskeie ligas deur na die groot finale wedstryd van die seisoen toe.
Puntemakers:
Postmasburg 43 – Drieë: Bradley Clark (2), Mandre Maritz, Warren Chitima, Carlo de Beer, Emmanuel van der Merwe. Doelksoppe: Van der Merwe (5). Strafdoel: Van der Merwe. Hendrik Potgieter 24 – Drieë: Tumi Pholoane (2), Attie Melato. Doelskoppe: Sterling Batties (3). Strafdoel: Batties.
Hoopstad 31 – Drieë: Abrie van Zyl (3), Hennie Barnard (2). Doelskoppe: Arrie Ferreira (3). Zastron 20.
Ander tellings:
o.16 – Brandfort 14, Hoopstad 12; St Andrews 35, Curro Kathu 12.