Griekwas en Griekwa-platteland pak mekaar in die Diamantstad
BLOEMFONTEIN. – Spelers in die Noord-Kaap kry vandag vir oulaas die geleentheid om ’n plek in die provinsie se twee onderskeie Cravenweek-rugbyspanne te bespreek.
Griekwas se o.18-span kom vandag (11:30) teen Griekwas-Platteland op Diamantveld se veld in Kimberley te staan.
Spelers in die twee unies se ander verteenwoordigende spanne wat ook vandag daar slaags is, kan ook nog die Cravenweek-spanne haal.
Vanjaar se 50ste Cravenweek-toernooi word van 8 tot 13 Julie in Polokwane gehou.
Vir die Plattelanders behoort die lostrio met hul agtsteman, Jasper Wiese, en die flank Junior Burger staatmakers te wees.
Wiese was al verlede jaar in die Cravenweek-toernooi in Port Elizabeth een van die Plattelanders se grootste ysters.
Vir Griekwas se senters, Dimitrio Tieties en Luke Mason, sal sleutelrolle moet speel as hulle ’n oorwinning wil behaal.
Voorlangs sal hul agtsteman, Jacques van Zyl, met sy kragtige lopies sy span oor die voordeellyn moet kry.
Die laaste van die Oos-Vrystaat se ligawedstryde word ook vandag beslis.
Wilgerivier van Frankfort sal op sy tuisveld ’n aanslag van die Hoërskool Reitz moet afweer.
Vrede sal tuis Paul Erasmus van Senekal die stryd aansê.
Dié vier spanne behoort na dié skoolvakansie ook die vier spanne te wees wat dit in die halfeindstryde gaan uitspook.
In nog ’n wedstryd in die Riemland pak Ficksburg en Harrismith mekaar.
Die Vrystaat hou vandag sy laaste ronde proefwedstryde.
Die voorlopige verteenwoordigende spanne sal ná die naweek bekend gemaak word.
Die spanne is:
Griekwas: Ryan de Wee, Leon Becker, Dimitrio Tieties, Luke Mason, Kat Mabaleng, Wentzel Matthys, GM Bruwer, Jacques van Zyl, Nardus Bosman, BJ Muller, JD Fourie, Thulani Njenje, Doctor Booysen, Daniël van Zyl, Obakeng Pholoholo. PLAASVERVANGERS: Willie van Aswegen, DG Brandt, Bradley Leijdekkers, Nico Graaff, Dylan Walsh, Aldro Heyns, Jon-Pierre Abrahams.
Griekwas-Platteland: Romario van Rooyen, Gavian Cloete, Clinton Toua, Brendon-Lee Farao, Josh van Heerden, Cobus van Niekerk, AJ le Roux, Jasper Wiese, Junior Burger, Theunis Visser, Dylan du Plessis, Ryno Nel, Jan-Hendrik van Wyk, Hanro Visagie, Scott Fritz. PLAASVERVANGERS: Morgan Engelbrecht, Henri Nel, Ryno Karsten, Bokang Tshabang, Ruan Venter, Jonathan Steenkamp, Darryl de Wee.