SuperSport Schools Plus

Grey-wedstryd kan Boishaai se seisoen bepaal

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2018-05-05 Tags: ,

NewsGCullenvdMerweKan Grey-kollege sy drie jaar lange droogte teen die Hoër Jongenskool Paarl Saterdag op Brugstraat verbreek? 

Die span van die Rosestad het sover beter vanjaar op die rugbyveld as Boishaai vertoon, maar die tuisspan is altyd ‘n harde neut om op sy tuisveld in die Paarl te kraak. Boishaai spog boonop met ‘n onoorwonne rekord teen Suid-Afrikaanse spanne sedert die begin van 2015.

Die span van die Paarl het die laaste drie seisoene as die land se voorste skolespan afgesluit en gaan nie net van sy kroon afstand doen nie. Grey se laaste oorwinning oor Boishaai was in 2014 toe hy met 15-5 as oorwinnaars van Brugstraat se veld gestap het. 

Daar bestaan geen twyfel dat Saterdag se kragmeting Boishaai se seisoen kan maak of breek. Die span kan of ritme vir die seisoen van 2018 vind wat hy benodig om nog ‘n seisoen onoorwonne af te sluit of hy kan sy onoorwinlikheid teen Suid-Afrikaanse spanne prys gee. Daar is baie druk op Boishaai se span van 2018 omdat dit vanjaar die skool se 150ste verjaarsdag is. 

‘n Sege oor Grey sal die span die nodige selfvertroue gee om aan die hoë verwagtinge te voldoen. Grey het egter vanjaar weer ‘n span wat sonder twyfel ‘n goeie kans staan om die seisoen as die land se voorste span af te sluit. 

Boishaai se kaptein en slot, Adrian Alberts, sal voorlangs die vonk moet verskaf om sy agttal aan die gang te kry. Hy sal ondersteuning van die flanke Evan Roos en Louwan Horn en die haker, Cullen van der Merwe moet kry indien hulle voorlangs die oorhand wil kry. Van der Merwe is die seun van die gewese Griekwa-heelagter

Daaar sal nie minder as vier oud-Springbokke se seuns vandag op die veld wees wanneer die twee spanne uitdraf nie. Alberts se slotmaat, Emile van Heerden, is die seun van die gewese Bok Fritz van Heerden, terwyl die heelagter, Riis du Plessis, die Prins van Vleuels – Carel du Plessis se jongste is.

In Grey se span is die haker, André-Hugo Venter, die seun van die Ysterman André Venter, terwyl die binnesenter, Franco Smith se pa met dieselfde naam nog verlede jaar die Bokke se hulpafrigter was. Smith sr. is tans die Cheetahs se breier en het op losskakel en binnesener vir die Bokke gespeel. 

Grey se aanslag is wel ‘n groot slag toegedien met sy uitmuntende agtsteman, Werner Gouws, wat ‘n besering in sy laaste wedstryd van Wildeklawer teen Monument opgedoen het. Gouws se fisieke teenwoordigheid sal gemis word. WJ Steenkamp wat self ‘n goeie wedstryd teen Monnas op slot beleef het, sal as in Gouws se plek op agtsteman uitdraf. 

Grey se aanslag word wel versterk met die skrumskakel, Ross Braude, en voorryman Herman Aggenbag wat weer beskikbaar is. Aggenbag het wel van die plaasvervangersbank noodgedwonge ‘n verskyning teen Monnas gemaak. Boishaai sal die senter Wyclef Vlitoor en vleuel Ian Small-Smith met valkoë moet dophou albei beskik oor vinnige voete en kan ‘n wedstryd in ‘n oogwink swaai. 

Die spanne is: 

Hoër Jongenskool Paarl: 15 Riis du Plessis, 14 Carlo Uys, 13 Trent Sivertsen, 12 Noegh Hayward, 11 Quan Horn, 10 Kian Meadon, 9 Estiaan van Rensburg, 8 Gideon van Wyk, 7 Evan Roos, 6 Louwan Horn, 5 Adrian Alberts (kaptein), 4 Emile van Heerden, 3 Rhynardt Rijnsburger, 2 Cullen van der Merwe, 1 De Wet Wolhuter. 

Grey-kollege: 15 Richard Kriel, 14 Ian Small-Smith, 13 Wyclef Vlitoor, 12 Franco Smith, 11 Lesley Botha, 10 Zander du Plessis, 9 Ross Braude, 8 WJ Steenkamp, 7 De Wet Marais, 6 Raynard Gouveia, 5 George Cronjé, 4 Danwich Beukes, 3 Herman Aggenbag, 2 André-Hugo Venter, 1 Jan-Hendrik Wessels. 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.