Grey verdedig homself tot sege oor Kwaggas, Garsies wys verlede jaar was nie vloekskoot

PRETORIA. – Grey-kollege moes verwoed vir die laaste 20 minute van sy kragmeting teen die Hoërskool Outeniqua wal gooi om uiteindelik met 19-17 in ‘n titaniese stryd van die veld te stap.
Die span van die Rosestad is bekend dat hulle span in die laaste 20 minute met aanvallende rugby tot oorgawe dwing. Die span het egter gewys dat hy ook die teenoorgestelde kan doen.
Grey het teen rustyd ‘n skrale voorsprong van 12-10 geniet, maar dit was die Kwaggas se hoofseun en senter, Ashwin Damons, wat net na lemoentyd met ‘n drie sy span laat voorloop het.
Grey se buitesenter, Benito Goeda, het met sy tweede drie in die 39ste minuut sake weer gelyk getrek. Die losskakel, Ian van der Merwe, het die moeilike doelskop oorgeklits wat op die ou einde deurslaggewend was.
Van der Merwe, Goeda asook die heelagter, Vincent Wolhuter het agterlangs goed vir die wenspan vertoon. Voorlangs was die flank Jean-Henri Smit, sy kaptein en agtsteman, JJ Theron, en die haker, Liam van Wyk, ysters.
Die Kwaggas se heelagter, JT Strydom was gevaarlik elke keer wat hy in besit geplaas was.
Verlede jaar was nie ‘n vloekskoot nie.
Garsfontein se Bere het vir Affies se Wit Bulle in nog ‘n vertoonvenster van Suid-Afrikaanse skolerugby vir die tweede jaar in ‘n ry verslaan. Garsies was met 45-38 op Affies se tuiste baas.
Die Bere het verlede jaar met ‘n sege van 20-19 op sy tuisveld die eerste keer daarin geslaag om die Wit Bulle om te dop. Die wenspan het Saterdag reeds teen rustyd ‘n stewige voorsprong van 33-10 opgebou.
Dit was veral die skrumskakel, Zian Cilliers, was uitmuntend agter die agttal vertoon het. Hy het met sy dartellopies asook op verdediging die Wit Bulle onder druk geplaas.
Garsies se kaptein en flank, Abri van der Westhuizen, was ook uitstaande en het veral voorlangs fisiek ingeklim. Ander uitblinkers sluit in Jason Hugo (heelagter) en Ruan Enslin (linkervleuel).
Enslin het vier keer Affies se doellyn oorgesteek, terwyl Hugo twee keer soos ‘n warm mes deur botter deur Affies se verdediging vir twee drieë gesny het.
Affies se binnesenter, Janco Puchase, het met sy direkte spel beindruk, terwyl die agtsteman, Dieter Schubert, asook die slot Johnathan Eloff harde werk voorlangs verrig het om die Wit Bulle terug in die wedstryd te kry.
Oakdale Landbou het op sy tuisveld, De Eike, net buite Riversdal vir ‘n opskudding gesorg deur vir die Hoër Jongenskool Paarl met 20-17 af te stof.
Die tuisspan se lynstane was uitstekend op die dag en die slot Roy Viljoen verdien hier lof. Agterlangs het Therlow Prins (vleuel) en Kurt Coetzee (senter) blink vertonings vir Oakdale gelewer.
Jeppe het op sy tuisveld vir nog ‘n opskudding gesorg deur die eerste keer in sy geskiedenis daarin te slaag om vir Monument van Krugersdorp te verslaan.
Jeppe was met 30-24 baas. Monnas moes wel sonder sy kaptein en flank, Morné Venter, asook die skrumskakel, Ceano Everson, klaarkom – maar die afrigter Tjaart van der Walt sal dit nie as ‘n verskoning gebruik nie.
Paul Roos Gimnasium het vir die vierde keer op ‘n streep vir Grey High School van Gqeberha verslaan. Die span van die Eikestad het op sy tuisveld met 39-24 koning gekraai.
Die span van Gqeberha was laas in 2017 oor Paul Roos (22-20) baas danksy ‘n stelskop deur ‘n ene Curwin Bosch.
Paarl Gimnasium was vroeg onder druk teen Wynberg Boys’ High. Die span van Kaapstad het ‘n voorsprong van 11-0 geniet voordat Gimmies uiteindelik gemaklik met 33-11 as oorwinnaars van die veld gestap het.
Boland Landbou het sy onoorwonne status vanjaar met ‘n sege van 17-10 oor Stellenberg behou, terwyl Durbanville sy stem ook al dikker gemaak het met ‘n skitterende sege van 35-19 oor Rondebosch Boys’ High.
In die NWU Skole-reeks sal EG Jansen van Boksburg teen Kempton Park in die uitspeelwedstryd om die titel te staan kom. Die Kempies moes sy wedstryd Saterdag teen Eldoraigne wen en het dit toe oortuigend met 49-26 gedoen.
Menlopark se ondersteuners sal ‘n sug van verligting slaak na hy die Hoërskool Nelspruit met 63-0 gekarnuffel het. Die Parkies se haker, Mocke Balt, het ‘n driekuns aan drieë in die sege behaal.
In die NWU 16-reeks sal Piet Retief en die Hoërskool Vryburg sake uitspook om die titel as kampioen. Piet Retief het sy plek met ‘n klinkende sege van 47-12 bespreek, terwyl Vryburg sy halfeindstryd teen Riebeeckrand met 33-19 gewen het.
In die eerste ontmoeting ooit tussen Pearson en Selborne College het eersgenoemde sy stempel met ‘n oorwinning van 25-22 afgedruk.
In die Wesgrow-reeks het Fichardtpark se Leeus gewys dat hul gewis nie as welpies misgis kan word nie. Die Fichie Leeus het vir Jim Fouché met 39-33 in ‘n opwindende kragmeting afgestof.
Voortrekker van Bethlehem sal ook meer as tevrede wees met hul sege van 24-18 oor Hoërskool Trio van Kroonstad. Die span van Kroonstad is die verdedigende Griffon-kampioen.
Feitlik al hierdie wedstryde kan weer gekyk word op SuperSport Schools (www.supersportschools.com). SuperSport Schools spog nou ook met sy eie kanaal op DStv – SuperSport 216.
Al die uitslae:
NWU SKOLE-REEKS
Menlopark 64, Hoërskool Nelspruit 0; EG Jansen 45, Transvalia 20; Kempton Park 49, Eldoraigne 26; Hoërskool Klerksdorp 22, HTS Middelburg 17.
NWU PRESTIGE-REEKS
Montana 46, Oosterlig 10; Noordheuwel 69, Die Anker 22; Oos-Moot 37, Hoërskool Rustenburg 30; Heidelberg Volkskool 30, Wesvalia 29; Hoërskool Middelburg 24, Marais Viljoen 11; Hugenote (Springs) 35, Potchefstroom Volkskool 5; Potchefstroom Gimnasium 32, Jeugland 24; Lichtenburg 34, Zwartkop 21.
NWU SPORT-REEKS
Hans Moore 35, Bergsig Akademie 11; Randburg 50, Dr. Malan 5; Overkruin 33, Standerton 12; Dinamika 32, Hoërskool Alberton 10; Florida 12, Wonderboom 7.
NWU 16-REEKS
Vryburg 33, Riebeeckrand 19; Piet Retief 47, Delmas 12; Leeuwenhof 31, Fochville 19; Hans Strijdom 22, Wolmaransstad 12; Bekker 17, Schoonspruit 15; Ferrum 29, Oosterland 10; Pretoria-Noord 36, Volksrust 19.
KWAZULU-NATAL/OOS-KAAP
Nico Malan 40, Langenhoven Gimnasium 5; Marlow Landbou 35, Die Brandwag (Uitenhage) 14; Pearson 25, Selborne College 22; Despatch 34, Victoria Park 3; Queen’s College 75, Stirling 14; Northwood 29, Glenwood 22; Maritzburg College 32, Clifton 5; Durban High School 24, Westville Boys’ High 13.
NOORDVAAL
Garsfontein 45, Affies 38; King Edward VII 28, Pretoria Boys’ High 19; Jeppe 30, Monument 24; Parktown Boys’ High 19, Ellisras 17; Secunda 57, HTS John Vorster 10; Hoërskool Pietersburg 19 HTS Tom Naudé 0; Centurion 38, HTS Witbank 31; Ben Vorster 11, Frikkie Meyer 7; Midstream College 84, Brits 0; Northcliff 29, Sutherland 12; Curro Roodeplaat 50, Hercules 0; Die Wilge 29, Roodepoort 17; Springs Boys’ High 46, Alberton High 5; Curro Nelspruit 32, Ermelo 22; Steelcrest 59, Hendrina 21; Driehoek 24, Hoogenhout 23.
VRYSTAAT/GRIEKWAS
Grey-kollege 19, Outenqua 17; Voortrekker (Bethlehem) 24, Hoërskool Trio 18; Welkom Gimnasium 59, Hentie Cilliers 7; Fichardtprk 39, Jim Fouché 33; Witteberg 23, Goudveld-Hoërskool 19; Hoërskool Upington 43, Diamantveld 31; Duineveld 86, Kalahari 8; Wildeklawer 14, Douglas 12; Wilgerivier 66, HTS Welkom 0; Landboudal 43, Sentraal 22; Vrede 26, Harrismith 0; Bothaville 35, Wessel Maree 12; Salomon Senekal 52, St Annes 0; Hoopstad 29, Hennenman 20; Curro Kathu 57, Martin Oosthuizen 12.
WES-KAAP
Paul Roos Gimnasium 39, Grey High School 24; Oakdale Landbou 20, Hoër Jongenskool Paarl 17; Boland Landbou 17, Stellenberg 10; Durbanville 35, Rondebosch Boys’ High 19; Paarl Gimnasium 33, Wynberg Boys’ High 11; SACS 38, Brackenfell 27; DF Malan 47, Parel Vallei 31; Strand 17, Charlie Hofmeyr 17; Melkbosstrand 22, De Kuilen 7; Vishoek 17, Jan van Riebeeck 12; Hoërskool Punt 64, Hoërskool Langenhoven 12; Monumentpark 42, Fairmont 32, Robertson 10, Montagu 6; Bosmansdam 24, Bergvliet 3; Hoërskool Oudtshoorn 29, Sao Bras 22; Curro Langebaan 14, Piketberg 13.




