SuperSport Schools Plus

Grey vat vlam teen Boishaai, terwyl Gimmies vir Paul Roos ore aansit

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2021-05-08 Tags: , , ,

NewsGBoishaaiGreySlegte nuus vir die skole wat nog vir Grey-kollege die jaar op die rugbyveld moet pak. Dié skool se eerstespan het vandag vlam gevat en die Hoër Jongenskool Paarl met 37-3 in die Brugstraat-stadion in die Paarl ‘n drag slae toegedien.

Dit was Grey se grootste sege oor Boishaai in die Paarl sedert 2004. Destyds het die Bloemfonteiners met 38-3 koning gekraai. Die grootste sege nog tussen die twee spanne is in 2009 behaal toe Grey in die Rosestad vir Boishaai met 50-8 verniel het.

Grey se skakelpaar, Caleb Abrahams en Jean Smith, was op hulle stukke. Smith, die seun van die gewese Bok-losskakel Franco Smith, het die eerste punte van die kragmeting met ‘n strafdoel in die 19de minuut aangeteken.

Smith het op die ou einde 17 punte tot sy span se sege bygedra. Hy is ook beloon vir sy goeie spel met die toekenning as speler van die wedstryd.

Hy het drie strafdoele in die eerste helfte oorgeklits en met die sirene wat reeds vir rustyd geloei het ‘n lynskop vanaf ‘n strafskop van ongeveer 70 meter losgetrek en die bal vyf meter van Boishaai se doellyn uitgejaag.

Die haker, Juanré Breitenbach, is kort daarna oor die doellyn om aan Grey ‘n voorsprong van 16-0 teen rustyd te besorg. Die twee drieë deur onderskeidelik Alfondso Isaacs (vleuel) en Banie Britz (senter) sal nog lank in verskeie hoogtepunte van skolerugby opduik.

Grey se slotpaar, Merwe Olivier en JF van Heerden, het ook reuse werk in die enjinkamer verrig. Die kaptein en agtsteman, Nelius Volschenk, kan ook saam met die bestes op skoolvlak in sy posisie saam gesels.

Vir Boishaai verdien sy flank Ruan Venter ‘n reuse klop op die skouer. Hy het nooit moed opgegee nie. Venter het hope durf getoon en was ‘n hele paar keer die laaste verdediger wat verhoed het dat Grey die telling nog verder gerek het.

Paarl Gimnasium het sy onoorwonne status behou deur Paul Roos Gimnasium met 25-10 op sy agterplaas in die Paarl af te stof. Gimmies se losskakel, Liam Koen, het nog ‘n indrukwekkende vertoning gelewer en die jong man groei met elke wedstryd.

Gimmies se haker, Luca Bakkes, is self ‘n meneer nes sy pa Luther Bakkes op sy dag vir Diamantveld was. Die loskopstut, Corné Lavagna, gaan vanjaar ook nog ‘n hele paar spanne probleme in die skrums besorg.

Paul Roos se heelagter, Jurenzo Julius, het ‘n pragtige individuele drie gedruk. Hy kan ook meer as tevrede met sy vertoning vir die verloorspan voel.

FOTO: Poppie Terblanche

Puntemakers: 

Grey-kollege 37 (16) – Drieë: Juanré Breitenbach, Alfondso Isaacs, Caleb Abrahams, Banie Britz. Doelskoppe: Jean Smith (4). Strafdoele: Smith (3). Hoër Jongenskool Paarl 3 (3) – Strafdoel: Cobus Louw. 

Paarl Gimnasium 25 (15) – Drieë: Logan Opperman, Corné Lavagna, Liam Koen. Doelskoppe: Koen (2). Strafdoele: Koen (2). Paul Roos Gimnasium 10 (7) – Drie: Jurenzo Julius. Doelskop: Christoff de Bruyn. Strafdoel: De Bruyn.

[powr-comments id=”32486f88_1620493491090″]

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.