SuperSport Schools Plus

Grey-tweedes is Motheo T20-konings

By Willem Louw , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2024-02-28 Tags: ,

Grey-kollege 2de XI | FOTO: Rikus van Wyk (Weekend Photography)

Grey-kollege se tweede krieketspan het Dinsdag die bordjies verhang teen Hoërskool Diamantveld om die Motheo o. 19 T20 Superliga-trofee ‘n staanplek in die Rosestad te gee.

Die wedstryd is beskikbaar op SuperSport Schools – Registreer nou

Na die Diamonds hul vorige ontmoeting ‘n maand gelede met 43 lopies gewen het, het die Bloemfonteiners saamgespan om hul ritme te vind toe dit werklik saakgemaak het in die eindstryd.

Die span van Kimberley het eerste gekolf, maar net toe Benjamin Potgieter en Danie van der Merwe aan die gang begin kom het, het Grey die eerste deurbraak bewerkstellig danksy puik veldwerk deur Muso Mokomela om vir Potgieter uit te hardloop.

Simon Liversage het weer uitgeblink vir Diamantveld en Grey kopsere besorg deur vyf grenshoue te moker. Hy het net 28 balle nodig gehad om 38 lopies by sy span se totaal te voeg, maar Otto Krause en Marx van Wyk het gekombineer om die Diamonds se gevaarman te tem voordat hy verdere skade kon aanrig.

Dit het inderdaad ‘n spanpoging deur die tuisspan geverg om Diamantveld tot 135/7 te beperk. Vyf verskillende boulers kon elkeen ‘n paaltjie neem, terwyl twee van die besoekers se kolwers uitgehardloop is.

‘n Stewige aanvangvennootskap deur Dale Williams (23) en Alwyn Smith (47) van 71 lopies het vir Grey-kollege die fondasie gelê.

Luhan de la Rey het die verdedigingspoging vir sy span gelei deur van albei die Grey-kolwers ontslae te raak, maar Makomela (24*) en Lamla Mgedezi (26*) kon ‘n onoorwonne vennootskap van 39 daarstel om die Bloemfonteiners in die 19de beurt tot oorwinning en die titel te dryf.

Beknopte telkaart:

Hoërskool Diamantveld: 135/7 (Simon Liversage 38, Danie van der Merwe 25, Hanru Rademeyer 21; Otto Krause 1/18). Grey-kollege II: 136/4 (Alwyn Smith 47, Lamla Mgedezi 26*, Muso Mokomela 24*, Dale Williams 23; Luhan de la Rey 2/9). Grey-kollege II wen met ses paaltjies.

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.