SuperSport Schools Plus

Grey steeds onoorwonne na sege oor Affies

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2018-05-20 Tags: ,

NewsGWernerGouwsGrey-kollege het onoorwonne vanuit Pretoria na Bloemfontein teruggekeer, maar nie sonder ‘n paar kneusplekke nie. 

Grey moes hard werk om die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria met 39-28 op sy tuisveld in die Jakarandastad te troef. Affies het met slegs agt minute se speeltyd oor in die kragmeting vir die eerste keer die voorsprong met 28-27 na ‘n drie deur sy agsteman, Jan Dagutat, geneem. 

Die besoekers van die Rosestad het soos verwag uit die staanspoor beheer van die kragmeting geneem. Die span was woerts warts met 22-0 voor na AJ Bezuidenhout, Jan-Hendrik Wessels en Wyclef Vlitoor vir drieë oorgegaan het. Vlitoor se drie was ‘n juweel. 

Boonop het die losskakel, Zander du Plessis, die wind van agter gebruik en met ‘n reuse-strafdoel van 60 meter geslaag. 

Dit sou meeste geharde Affie-ondersteuners se moed in hul skoene laat sak het. Grey het reeds met sy vorige besoek aan die Jakarandstad in 2016 geskiedenis gemaak toe hy die eerste span geword het om 50 punte verby Affies te sit. Grey het daardie dag met 53-29 as oorwinnaars van die veld gestap. 

Hoewel die span van Affies vanjaar nie te waffers gevaar het nie. Het hy gister teen Grey weer met die durf vorendag gekom, waarvan daar in sy twee wedstryde tydens die Wildeklawer-toernooi in Kimberley te bespeur was. 

Grey se haker, André-Hugo Venter, is koelkas toe gestuur kort voor rustyd. Affies se voorryman Dewald Donald het kort daarna welverdiend oor die doellyn gebars vir sy span se eerste punte. Venter is die seun van die Bok-Ysterman André Venter. Venter jr. se ingooiwerk is gewis deur sy span gemis, terwyl hy in die koelkas was.

Toe Venter sy terugkeer tot die veld maak het Affies die gaping tot ‘n enkele punt op 22-21 laat krimp. Die tuisspan se agtsteman, Jan Dagutat, het in die 62ste minuut gaan druk om sy span met 28-27 te laat voorloop. Affies se losskakel, Regardt Roets, het sy skopstewels aangehad en al vier sy span se drieë verdoel.

Grey het daarna na ‘n hoër rat oorgeskakel om die sege te beklink. Die span van die Rosestad se agtsteman, Werner Gouws, asook die vleuel Ian Small-Smith en heelagter, Richard Kriel, het uitstaande vertonings opgedis. Kriel het met sy teenaanvalle gewys dat dit nie die beste plan sal wees om die bal in sy keelgat af te skop nie. 

Vir Affies was Donald, Roets, die flank George Oosthuizen asook die buitesenter, Stephin Alberts, staatmakers. 

Puntemakers: 

Grey-kollege 39 (22) – Drieë: AJ Bezuidenhout, Jan-Hendrik Wessels, Wyclef Vlitoor, Ian Small-Smith, Werner Gouws, Lesley Botha. Doelskoppe: Zander du Plessis (3). Strafdoel: Du Plessis. Affies 28 (7) – Drieë: Dewald Donald, George Oosthuizen, Dieter Crafford, Jan Dagutat. Doelskoppe: Regardt Roets (4).

Ander spanne: 

o.16: Affies 38, Grey-kollege 24.

o.15: Grey-kollege 17, Affies 13.

o.14: Affies 24, Grey-kollege 8.

FOTO: William Brown

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.