SuperSport Schools Plus

Grey sluit 2018 as voorste span af; Monnas behou sy titel in Virsekerbeker

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2018-08-18 Tags:

NewsGMonnasKampDit was sewe maer jare, maar Grey-kollege van Bloemfontein is vandag weer die voorste skolespan in Suid-Afrika. Grey kon laas in 2011 daarin slaag om sy seisoen onoorwonne af te sluit.

Grey het op sy tuisveld in die Rosestad vir Paul Roos Gimnasium met 28-26 verslaan. Albei spanne het die wedstryd met hul onoorwonne statusse nog in plek betree.

Soos verwag was die wedstryd om te bepaal wie 2018 as Suid-Afrika se voorste skolespan sou afsluit soos ‘n Wêreldbeker-eindstryd tussen die Springbokke en die All Blacks.

Die gasheer het boonop in al 24 rugbywedstryde tussen die twee skole op die dag as oorwinnaars van die veld gestap.

Dit was ‘n wipplankstryd waarin die voortou ‘n hele paar keer hande verwissel het. In die eerste helfte het Paul Roos danksy sy losskakel, Kade Wolhuter, se skopskoen en die wind in die blaaie ‘n voorspong van 12-11 teen lemoentyd geniet. Dit sou ‘n voorsprong van 12-6 gewees het, indien Grey se agtsteman, Werner Gouws, nie kort voor rustyd vir die eerste drie van die kragmeting oorgeval het nie.

Grey het die aanslag vanuit die Eikestad in die eerste helfte meestal danksy inklimspel deur die loskopstut, Jan-Hendrik Wessels, afgeweer.

Grey se skakelpaar, Ross Braude en Zander du Plessis, verdien ook lof vir hulle vertoning. Vir Paul Roos het sy voorrymanne, Mink Scharink en Robbie Rodgers, asook Wolhuter met hul spel beïndruk.

Dié Witbulle is Virseker-stoetbulle

Daar kan vandag geen twyfel bestaan dat Monument van Krugersdorp die voorste rugbyspan noord van die Vaalrivier is nie. Monnas se Witbulle het Helpmekaar-kollege met 57-11 in die eindstryd van die Virsekerbeker in die LC de Villiers-stadion verslaan om sy titel as kampioen van die reeks te behou.

Helpies het twee weke gelede die einste Monnas met 30-15 verslaan, maar gister was daar slegs een span op die veld. Die span van Krugersdorp het voorlangs die botoon gevoer met veral die agtsteman, Izan Esterhuizen, kaptein en haker, Morné Brandon, en die loskopstut, Brendan Pawson, wat ingeklim het.

Agterlangs het die senterpaar, Douw Scheepers en Henco van Wyk, met die hope balbesit baljaar. Monnas se trofeekas loop oor met die feit dat hy die afgelope twee jaar die Tuks-reeks en Virsekerbeker se kampioen is.

Vir Helpies het sy twee slotte, Michael Amiras en Brink Marx, nooit moed opgegee nie.

Bolton draai Noordheuwel se skroewe vas

Eldoraigne het sy eerste titel van die Virsekerbeker verower deur Noordheuwel met 40-29 in die eindstryd van die Plaat-afdeling te verslaan. Sy heelagter, Shayne Bolton, was die groot held in sy skool se tweede groot trofee in sy geskiedenis. Eldos is in 2007 as kampioen van die Tuks-reeks gekroon.

Bolton het twee skitterende drieë gedruk en ook met sy skopskoen ‘n hele paar belangrike stelskoppe deur die pale gejaag.

Eldoraigne se losskakel, Marvin Pietersen, het met sy spel ook ‘n beduidende rol in sy span se oorwinning gespeel.

Vir Nories was sy skrumskakel, Justin Lambert, uitstaande.

Vorster proe weer die geluk van 1982 

Oos-Moot het vir die eerste keer sedert 1982 daarin geslaag om as kampioen van een van die Virsekerbeker se liga gekroon te word. Oos-Moot het Ben Vorster van Tzaneen met 29-20 in die eindstryd van die Skild-afdeling van die reeks verslaan.

Die span van Pretoria het destyds die eerste houer van die Direkteurstrofee, voorganger van die Beeldtrofee en later Virsekerbeker, geword. Die span van 2018 se afrigter Kobus Vorster was in 1982 ‘n lid van Oos-Moot se kampioenspan.

Boonop is Vorster se seun en skrumskakel, Marco Vorster, as Speler van die Wedstryd, in die sege oor Ben Vorster aangewys. Oos-Moot se haker, Jason Swanevelder, was ook op sy stukke, terwyl die Vossies se heelagter, Jason Mulder, sy beste speler op die dag was.

Ben Vorster het vroeër vanjaar vir Oos-Moot danksy ‘n strafdoel in die doodsnikke met 52-50 getroef.

Boland Landbou ploeg met Oakdale

Boland Landbou het die beste vir laaste gelos en sy grootste sege nog ooit oor Oakdale Landbou in hul jaarlikse interskole in die Agter-Paarl behaal. Boland Landbou het met 56-19 die Bulle van Riversdal op hok gejaag.

Die vorige grootste oorwinning was in 1996 behaal toe Boland Landbou met 26-0 as oorwinnaars van die interskole van die veld gestap het.

Boland Landbou se buitesenter, Sebastian de Klerk, en linkervleuel, Bertus Baard, het elk dubbelle driedruk-plesier ervaar.

Gimmies en Velties deur tot Shimla-eindstryd

Dit gaan keer kos om Welkom-Gimnasium van die titel as kampioen van die Kovsiestreek-kompetisie se Shimla-liga te weerhou. Gimmies het Louis Botha met 61-0 in die halfeindronde van die kompetisie oorrompel.

Die span van Welkom sal volgende week in die eindstryd van die liga teen Duineveld van Upington te staan kom. Die Velties het in die ander halfeindstryd vir Sentraal van Bloemfontein met 39-36 verslaan. Die wenspan se flank en kaptein, SJ Oberholzer, was in ‘n klas van sy eie. Tralies het op ‘n stadium met 36-22 voorgeloop, maar Duineveld het nooit gaan lê nie.

Bruwer gee afrigters gryshare en ‘n breë glimlag

In die nuwe Wesgrow Sentrale-reeks sal Diamantveld en Goudveld-Hoërskool mekaar volgende week pak om te bepaal wie die eerste houer van die trofee sal wees.

Diamonds het op dramatiese wyse sy aartsvyand, Noord-Kaap, met 6-5 in hulle halfeindstryd verslaan. Dit was waarskynlik die naelskraapste sege ooit tussen die twee spanne.

Diamantveld se binnesenter, Handré Bruwer, het die sege met ‘n woer-woer skepdoel in die doodsnikke beklink. Die skepdoel het twee keer op die dwarslat gehop voordat dit vir die wenpunt oorgegaan het. Bruwer het vier strafdoele skeef gekorrel voordat hy die skepdoel oorgeklits het. In die ander halfeindstryd was Goudveld-Hoërskool met 33-14 te sterk vir Wittberg van Bethlehem.

AL DIE UITSLAE: 

VIRSEKERBEKER-EINDSTRYDE

Afdeling 1 – Beker: Monument 57, Helpmekaar 11. Plaat: Eldoraigne 40, Noordheuwel 29. Skild: Oos-Moot 29, Ben Vorster 20.

Afdeling 2: Secunda 20, Frikkie Meyer 14.

Afdeling 3: Brandwag (Benoni) 29, Leeuwenhof 20.

Afdeling 4: Morgenzon Landbou 37, Stella 15

KOVSIESTREEK-KOMPETISIE HALFEINDRONDE

Shimla-liga: Duineveld 39, Sentraal 36; Welkom Gimnasium 61, Louis Botha 0. Irawa-liga: Bothaville 74, St Andrew 5; De Aar 70, Sand du Plessis 0. Colts-liga: Prieska 60, Hendrik Potgieter (Reddersburg) 0; Hoopstad 22, Brandfort 17.

WESGROW-H ALFEINDRONDE

Diamantveld 6, Noord-Kaap 5; Goudveld-Hoërskool 33, Witteberg 14.

KAMPIOENSKAP-REEKS EINDSTRYD

Zeerust 35, Wolmaransstad 24.

VRIENDSKAPLIK

Grey-kollege 28, Paul Roos Gimnasium 26; Boland Landbou 56, Oakdale Landbou 19; Rondebosch Boys’ High 29, SACS 24; Wynberg Boys’ High 22, Bishops 20; Stellenberg 36, Durbanville 7; Strand 38, Hottentots-Holland 14; Hugenote (Wellington) 36, Swartland 14; DF Malan 20, Hoërskool Bellville 5; Brackenfell 50, Parel Vallei 0.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.