Grey skop seisoen Saterdag op Steyners se Sportdag af
Soos die gebruik die afgelope paar seisoene sal Grey-kollege van Bloemfontein sy seisoen teen die Hoërskool Trio van Kroonstad op President Steyn se jaarlikse Hester van der Walt-sportdag net buite die Rosestad afskop.
Vanjaar sal die kragmeting die hoofwedstryd op Gonval Store-park wees. Dit sal die 32ste keer wees dat die Steyners hierdie sportdag in Bainsvlei aanbied.
Die gasheer, President Steyn, sal vanjaar reeds om 11:35 uitdraf om teen Wessel Maree van Odendaalsrus kragte te meet. Dit sal die derde agtereenvolgende keer wees dat die twee spanne sake tydens die sportdag uitspook.
Die Steyners was verlede jaar met 13-0 baas in die kragmeting, terwyl Wessel Maree in 2023 die tuisspan se partytjie met ‘n sege van 17-0 bederf het.
Baie van die kragmetings tydens die sportdag is besig om ‘n jaarlikse instelling te raak. Die Hoërskool Bultfontein en Wolmaransstad sal soos verlede jaar weer koppe stamp. Wollies was verlede jaar met 20-7 baas.
Welkom Gimnasium en Jim Fouché pak mekaar in die vernaamste voorwedstryd vir die hoofmaal. Die Gimmies het verlede jaar met 31-13 die pyp in die kragmeting gerook.
Die Hoërskool Sentraal begin sy seisoen teen die Cherries, Grey-kollege se tweedespan. Die Tralies wil duidelik vanjaar reeds in die voorseisoen seker maak dat hulle nie vanjaar met hul broeke om die enkels gevang word nie.
Dié kragmeting sal aan die span ‘n goeie aanduiding kan gee oor hoeveel slypwerk nog vir hul voorlê voordat die besigheidskant van seisoen aanbreek.
Die Hoërskool Staatspresident Swart van Brandfort se Foxies sal vanjaar teen Hoopstad te staan kom.
Lichtenburg sal ‘n goeie opwarmingswedstryd hê voordat hul die NWU Prestige-reeks betree. Die Liggies kon teen Postmasburg vanuit die Noord-Kaap te staan.
Die bepalings:
GONVAL STORE-PARK (almal o.19-spanne)
17:30 – Grey College vs Hoërskool Trio
16:20 – Jim Fouché vs Welkom Gimnasium
15:10 – Sentraal vs Cherries (Grey College II)
13:55 – Staatspresident Swart vs Hoopstad
12:45 – Lichtenburg vs Postmasburg
11:35 – President Steyn vs Wessel Maree
10:20 – Louis Botha vs Zastron
09:10 – Wolmaransstad vs Bultfontein
08:00 – Sand du Plessis vs Hennenman
- Grey College favourites once again to be crowned Champion of Champions - 2025-09-19
- RUGBY | Grey College – 2025 - 2025-09-18
- Witwarm Wilgies sal Prieska se Gadeija moet hokslaan - 2025-08-30