Grey se nr. 15 van toeka tussen 2 vure
BLOEMFONTEIN. – Die heelagter van Grey-kollege van 1986, Ruan van der Merwe, bevind hom vandag opnuut tussen twee vure wanneer sy alma mater hier teen die Hoër Jongenskool Paarl uitdraf.
Van der Merwe se seun, Dante, draf ook soos sy pa in die laaste vesting uit. Hy speel egter vir die HJS en was ook verlede jaar in dié span wat Grey met 28-18 getroef het. In die Rosestad behoort sake heelwat anders te verloop.
Grey het die afgelope 20 jaar nog nie op sy tuisveld teen die span van die Paarl verloor nie. Sedert die instelling van die interskole-rugbykompetisie tussen die twee spanne, in 1993, was die span van die Paarl se beste vertoning in die Rosestad tydens daardie eerste jaar. Boishaai se kaptein en later ’n Springbok-kaptein, Corné Krige, het sy span tot ’n gelykop-stryd (0-0) gelei.
Voor verlede jaar kon Boishaai Grey nog net in 1996 (16-9) en 2000 (17-10) ore aansit.
Albei die wedstryde was op die “posseël” wat na Boishaai se veld se grootte verwys.
Grey het laas in 2010 teen die span van die Paarl gewen. Die wedstryd in 2011 het gelykop (15-elk) geëindig. Grey se kaptein en flank, Marius Louw, heelagter, EW Viljoen en voorrymanne, Ruan Kramer en Andrew du Plessis, kan die deurslag gee.
Die Vrystaatse A-ligawedstryd tussen Jim Fouché en Louis Botha is een van vele bepalende wedstryde in die streek. Nog so ’n stryd is dié tussen Landboudal en Kathu op Landboupark. Die wedstryd in Kroonstad in die Leeuhok tussen die Rooies (AHS) en Witteberg van Bethlehem behoort ook vuurwerk op te lewer.
Vandag se wedstryde (tuisspanne eerste) is: 10:30: Reitz t. Ladybrand; 11:00: Paul Erasmus (Senekal) t. Wilgerivier; 11:10: Bothaville t. Hennenman; 11:30: Marlow Landbou t. Diamantveld; 11:30: Vrede t. Harrismith; 11:30: Hentie Cilliers t. Hoërskool Kroonstad; 11:45: HTS Welkom t. Goudveld; 12:00: AHS Kroonstad t. Witteberg; 12:15: Welkom Gimnasium t. Voortrekker; 12:30: Zastron t. President Steyn; 12:40: Jim Fouché t. Louis Botha; 13:00: Grey-kollege t. Hoër Jongenskool Paarl; 15:00: Landboudal t. Kathu.




