Grey plettervat Hentie Cilliers
GREY-KOLLEGE se eerste rugbyspan het Saterdag in Virginia nog ‘n rat oorgeskakel deur Hentie Cilliers 60-14 te verslaan. Die span van die Rosestad het al teen rustyd ‘n stewige voorsprong van 38-0 opgebou.
Grey se vleuel, Charl Pretorius het ‘n driekuns aan drieë behaal. Hy spog nou reeds met agt drieë in drie wedstryde vanjaar. Hy het vier keer vir Grey se XV-tal teen Goudveld agter die doellyn gaan kuier en ook teen Potchefstroom Gimnasium vir die eerstespan ‘n drie gedruk.
Grey se slot Kassel Rothman en vaskopstut Callie Janse van Vuuren het blink vertonings voorlangs opgedis. Agterlangs was die senter Julian Jordaan en skrumskakel Dian Badenhorst uitstaande. Jordaan het twee keer gaan druk. Badenhorst het teen sy direkte teenstander wat hoog aangeslaan word, Jaywinn Juries met sy spel beindruk.
Grey het sy spelers op die plaasvervangersbank heelwat speelkans in die wedstryd gegun na hulle reeds rustyd die goeie voorsprong geniet het.
Die span van die Rosestad is vandag om 14:30 teen Hoërskool Klerksdorp op Shimlapark in die vernaamste voorwedstryd van die Varsitybeker-kragmeting tussen Shimlas en die Madibaz. Grey sou aanvanklik teen Witteberg van Bethlehem in die kragmeting sake uitgespook het. Daar word verwag dat Grey meeste van sy spelers wat op die plaasvervangerbank vir die kragmetings teen Potchefstroom Gimnasium en Hentie Cilliers gesit het in die beginspan kans vir vandag se kragmeting sal gee.
Wilgerivier van Frankfort moes hard werk om HTS Carel de Wet 20-18 te klop. Die span se kaptein en flank, Gerrie Muller het twee keer in die sege agter die doellyn ‘n draai gaan maak en ook met ‘n doelskop en ‘n strafdoel geslaag.
Die span se loskopstut, Chris Meyer kan meer as tevrede met sy vertoning voel. Die binnesenter, JJ Bekker het ook met sy spel in sy eerste wedstryd vir die span van Frankfort beindruk.
Paul Erasmus van Senekal het vir Hennenman 33-17 geklop. Die wenspan se losskakel, Edwin Gower het ‘n goeie vertoning gelewer.
Puntemakers:
Grey-kollege 60 (38) – Drieë: Charl Pretorius (3), Julian Jordaan (2), Alex Jonker, Albert Verwey, Niel Stannard, Dwayne Wessels. Doelskoppe: Henry Immelman (3), Jordaan, Louwtjie Steenkamp. Strafdoel: Immelman. Hentie Cilliers 14 (0) – Drieë: Nathan Kemp, Jonathan April. Doelskoppe: Jaywinn Juries.
Wilgerivier 20 (5) – Drieë: Gerrie Muller (2), Chris Meyer. Doelskop: Muller. Strafdoel: Muller. HTS Carel de Wet 18 (11).
- SDC Noordvaal Cup Results – 10 Mei 2025 - 2025-05-10
- School Rugby Results – 10 May 2025 - 2025-05-10
- Markötter Fortress: Unbeaten Gim returns to their second home - 2025-05-09