SuperSport Schools Plus

Grey lok Norie-rugbybrein na Rosestad

By Franco Oberholzer , in Featured | Main Rugby | Featured Rugby | News , at 2026-02-11 Tags: , ,

IAN JOUBERT

Grey Kollege van Bloemfontein het op die vooraand van die 2026-rugbyseisoen ’n groot aanwins tot sy nuwe afrigtingspan gemaak.

Die Springbokfabriek van die Rosestad het die baasbrein agter Hoërskool Noordheuwel se voorspelerspak oor die afgelope paar jaar, Ian Joubert, na Bloemfontein gelok om vanjaar die voorhoede in Bloem te brei.

Joubert het vir homself ‘n goeie naam gemaak deur eerstens die Goue Leeus se Akademie-span na twee agtereenvolgende titels tydens die Suid-Afrikaanse Akademie-week, albei jare in Johannesburg by Jeppe High School for Boys, te brei.

Daarna het sy goeie werk met dié span se voorspelers gehelp dat hy saam met Tjaart van der Walt (hoofafrigter) by die Leeus se Cravenweekspan as voorspelerafrigter verlede jaar betrokke was.

Joubert, afkomstig van Standerton in Mpumalanga, was self ’n kranige rugbyspeler in sy dae. Hy het in 2014 self vir die Pumas se Cravenweekspan in Middelburg uitgedraf. Die voormalige slot van die klein dorpie in Mpumalanga was een van slegs twee spelers van Standerton wat dié span kon haal.

Dit was ook ’n spesiale oomblik toe Joubert verlede jaar, vir die eerste keer as deel van ’n Cravenweek-afrigtingspan, na die gesogte week in Middelburg kon terugkeer, waar hy 11 jaar vantevore sy voetspore as speler gelos het.

Na sy universiteitsdae, waartydens hy met trots vir twee jaar, een as onder-primarius, op Caput-koshuis se huiskomitee gedien het, het sy loopbaan as afrigter in 2019 by die Nories in Krugersdorp begin.

Sy uitstaande rugbybrein, veral rakende die vaste fasette en meer spesifiek die lynstane, het hom vinnig die leer na sukses laat klim, moontlik omdat hy self destyds in die lynstane uitgetoring het.

Joubert het, so entoesiasties soos altyd, gesê dat hy baie opgewonde is oor die skuif na die Rosestad en dat hy daarna uitsien om van meet af ’n verskil by die rugbyreus in Bloemfontein te maak.

“Dit is ‘n reuse geleentheid en een waarna ek uitsien. Om by ‘n skool soos Grey betrokke te kan wees is ‘n groot eer en seëning. Ek is opgewonde,” het Joubert ter aflsuiting gesê.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.