SuperSport Schools Plus

Grey-kollege waarsku vroeg en Trio maak sy debuut

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2022-02-27 Tags:

NewsG Grey College rugbyDie eerste skote van die skolerugbyseisoen het vanjaar vroeër as gewoonlik geklap.

Grey-kollege van Bloemfontein het sommer ook vanuit die wegspringblokke ‘n waarskuwing aan hul teenstanders gerig. Die span van die Rosestad het ‘n oortuigende sege van 64-15 oor Welkom Gimnasium tydens die Hoërskool President Steyn se sportdag op Bainsvlei behaal.

Grey se haker, Juanré Breitenbach, was uitstaande en sy span se beste speler in die sege. Hy was verlede jaar saam met Caleb Abrahams (skrumskakel) en Alfondso Isaacs (buitesenter) in die Suid-Afrikaanse o.18-span wat na Georgië sou toer.

Buiten Breitenbach het die loskopstut en kaptein van Grey, Tat Botha, ook ‘n uitmuntende vertoning voorlangs gelewer. Hy was rotsvas in die skrums sowel as op die verdediging.

Isaacs het agterlangs ook vir Gimmies hoofbrekens besorg. Abrahams het self ‘n goeie dag op kantoor beleef en twee keer agter die besoekers van Welkom se doellyn gaan kuier.

Gimmies was vroeg in die moeilikheid toe Grey teen rustyd reeds ‘n voorsprong van 38-0 opgebou het. Die span van Welkom het wel daarin geslaag om met drie mooi drieë deur Ronaldo Kiewiet (losskakel), Tristan Appollis (stut) en Naven Goeda (buitesenter) meer aansien aan hul vertoning te gee.

Daar was ook ‘n geskiedkundige oomblik tydens die Steyners se sportdag. Die Hoërskool Trio van Kroonstad het sy eerste wedstryd van die skool se bestaan gespeel. Hy moes egter die knie met 20-3 teen Jim Fouchê buig.

Trio het einde verlede jaar ontstaan toe die twee aartsvyande van Kroonstad, Hoërskool Kroonstad (Blouskool) en die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad (Rooiskool) saamgesmelt het.

Hoërskool Kroonstad het aan die einde van 1993 ook saam met HTS De Wet Nel en Kroonstad Landbou gesmelt, wat albei ook met trotse rugbygeskiedenisse spog.

Trio se direkteur van rugby, Quintin Geldenhuys, het op sy dag Italië aangevoer en sy aangenome land in 67 toetse verteenwoordig.

Dit was ‘n fisieke wedstryd voorlangs. JF se losskopstut, MJ Meyer, het die bal goed gedra en ook in die skrums die oorhand gehad. Saam met hom het die agtsteman, Henco Coetzee, en die haker, Stefan Venter, ook goeie vertonings gelewer.

Fichardtpark sal ook meer as tevrede met hul sege van 29-3 oor Wesvalia van Klerksdorp wees. Dit sal aan die span ‘n goeie fondasie gee vir volgende week se hoofwedstryd tydens sy sportdag teen Marlow Landbou se Wolramme.

In die eerste ronde van die NWU 16-reeks was daar ook ‘n paar verrassings. Die Hoërskool Piet Retief het op sy tuisveld in die Jack Botes-stadion die verdedigende kampioen van die reeks, Pionier van Vryheid, met 17-10 uitoorlê.

Pionier was vanjaar opsoek na hul derde titel op ‘n streep. Die span van Vryheid het boonop nog elke jaar sedert hy by die reeks in 2015 aangesluit het die eindstryd gehaal.

FOTO: Marnus van Wyk

Al die uitslae:

President Steyn Sportdag: Grey-kollege 64, Welkom Gimnasium 15; President Steyn 15, Bultfontein 5; Jim Fouché 20, Trio 3; Fichardtpark 29, Wesvalia 3; Brandfort 31, Wessel Maree 7; Sand du Plessis 17, Riebeeckstad 12; Ladybrand 34, Reddersburg 12; Marquard 13, St. Andrews (Bloemfontein) 7.

NWU 16-reeks: Leeuwenhof Akademie 20, Bekker 7; Piet Retief 17, Pionier 10; Ferrum 16, Volksrust 12; Pretoria-Noord 15, Delmas 10.

Vriendskaplik: HTS Middelburg 20, Secunda 11; Ermelo 34, Oosterlig 19; Potchefstroom Volkskool 15, Heidelberg Volkskool 0; Landboudal 33, Aliwal-Noord 17.

[powr-comments id=”a32b8c98_1645946000254″]

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.