SuperSport Schools News

Grey-kollege voor moeilikste vraestel in Eikestad sedert 2009

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2022-08-20

Social Media Grey vs Paul RoosDie moeilikste vraestel in Stellenbosch sedert 2009 wag Saterdag op Grey-kollege wanneer hy op ‘n sopnat Markotter-veld teen Paul Roos Gimnasium op die veld draf.

Soos in 2009 is Grey se span weer sonder meer as ‘n handvol van sy staatmakers weens hul betrokkendheid by die Suid-Afrikaanse o.18-span se reeks wedstryde teen Engeland en Frankryk.

Grey sal sonder ses van sy eerstekeuse spelers moet klaarkom wat vir die twee nasionale o.18-spanne tydens die reeks diens doen. Boonop sal die weer in die Eikestad nie Grey se spelpatroon pas nie.

Dan sal dit ook die groep spelers se eerste wedstryd op Markotter vir die eerstespan wees nadat die vorige twee jaar se interskole nie kon plaasvind weens die Coronavirus-pandemie nie. Vanjaar se span het wel afgevlieg, terwyl die span van 2009 nog met die trein moes reis na Stellenbosch.

Grey se Caleb Abrahams (skrumskakel), Alfondso Isaacs (senter/vleuel), Lukas Meyer (flank), JF van Heerden (slot) en Casper Badenhorst (stut) was almal in die SA o.18-beginspan vir die sege van 40-24 oor sy eweknie van Engeland in die Paarl.

Die span van die Rosestad se losskakel, Bradley Giddy, was op die plaasvervangersbank vir die SA o.18A-span in hul nederlaag van 23-26 teen Frankryk se o.18-span.

Paul Roos sal wel ook sonder sy twee voorrymanne, Reno Hirst en Wilbur Loubser, moet klaarkom. Asook die buitesenter, Jurenzo Julius, wat vanjaar wêreldwyd met sy spel opslae gemaak het. Die drie is ook deel van die Suid-Afrikaanse o.18-groepe.

In 2009 het Pieter Rademan (skrumskakel), Riaan Britz (heelagter), Johan Goosen (losskakel), Piet Lindeque (senter), Jean Cook, Carl Wegner (albei slotte), Baksteen van Heerden (haker) en Stephan Kotze (stut) die wedstryd teen Paul Roos weens hul betrokkenheid by die SA o.18 hoë-prestasiespan misgeloop.

Destyds moet die senter Francois Venter, wat ook later vir die Springbokke gespeel het, noodgedwonge na losskakel skuif. Paul Roos was met 9-3 in die kragmeting baas en het Grey se segetog van 45 wedstryde op ‘n streep daardie dag in die Eikestad beëindig.

Paul Roos kon laas in 2015 daarin slaag om die span van die Rosestad te verslaan. Voor dit was dit die sege van 2009. Die span in Maroen staan vandag weer ‘n goeie kans om ‘n sege oor Grey te behaal.

Die span se regervleuel, Luke Graham, is moeilik om plat te trek en hy het vanjaar al gewys hy ken die pad doellyn toe goed. Voorlangs sal die tuisspan se kaptein en agtsteman, Herman Lourens, asook die slot Sampie Joubert en loskopstut, Cameron Miell, ‘n belangrike rol speel.

Grey se losskakel, Ian van der Merwe, kan indien hy gehalte besit ontvang die sneller trek om die senterpaar, Alec McIntyre en Ulrich Wahl, los te laat.

Dit is veral die teenwoordigheid van die skrumskakel, Caleb Abrahams, wat ‘n leemte gaan laat. Roux Heyns sal Abrahams se tokse moet volstaan. Voorlangs sal die agtsteman, JJ Theron, flank Jean-Henri Smit en die kaptein en loskopstut, Tat Botha, hard moet werk om Heyns genoegsame beskerming te verskaf.

Die spanne is: 

Paul Roos Gimnasium: 15 Christoff de Bruyn, 14 Luke Graham, 13 Luca Reuter, 12 Philip Groenewald, 11 Justin Levine, 10 Reuben Noble, 9 Liam Stander, 8 Herman Lourens (kaptein), 7 Hugo Radley, 6 Andreas Oosthuizen, 5 Wyatt Strydom, 4 Sampie Joubert, 3 Ryan Jack, 2 Seth Haddad, 1 Cameron Miell.

Grey-kollege: 15 Gunter van Rensburg, 14 Janco Scheepers, 13 Ulrich Wahl, 12 Alec McIntyre, 11 Martin Botha, 10 Ian van der Merwe, 9 Roux Heyns, 8 JJ Theron, 7 Jean-Henri Smit, 6 Morne Diederichs, 5 Marno Stopforth, 4 Ranon Fouche, 3 Jean Erasmus, 2 Nick Greyling, 1 Tat Botha (kaptein).

Afskop: 14:00

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.