Grey-kollege kan soos altyd ‘n strawwe seisoen te wagte wees
Grey-kollege se eerste rugbyspan het nooit ‘n maklike wedstryd en in 2017 sal dit gewis weer die geval wees. Weens die skool se reputasie asook sukses op die rugbyveld is daar nooit ‘n wedstryd waarin die spelers of hul afrigters op hul louere kan rus nie.
Elke span wat teen Grey opdraf weet wat op hom wag en spanne lig ook hulle spelpeil vir stryd teen die ongetwyfelde rugbyfabriek van Suid-Afrika. Grey sal vanjaar soos altyd ‘n gedugte span in die veld stoot.
Grey se drie moeilikste wedstryde vanjaar behoort in sy drie tradisionele wedstryde teen die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria, die Hoër Jongenskool Paarl en Paul Roos Gimnasium te wees.
Affies het verlede jaar die eerste keer in sy trotse geskiedenis 50-punt in ‘n wedstryd afgestaan toe Grey hom met 53-29 gegaffel het. Die span van Pretoria sal dus sake vanjaar in die Rosestad wil regstel.
Boishaai is die afgelope twee seisoene onoorwonne en hul sege in 2015 in Bloemfontein was hul eerste ooit oor Grey in die Rosestad. Dit behoort dus ook een van die span van die Paarl se taaiste wedstryde van die seisoen te wees.
Die span se senterpaar, Rikus Pretorius en Janco van Heyningen, kan die sleutel tot die span van die Rosestad se sukses wees indien hulle op verlede jaar se vertonings op die middelveld kan voortbou. Elke jaar wat Grey se eerste met ‘n onoorwonne rekord sedert 2007 gespog het, het hulle oor ‘n gedugte senterkombinasie beskik.
Spelers soos Robert Ebersohn, Johan van Schalkwyk, Francois Venter, Piet Lindeque, Paul Jordaan, William Small-Smith, Jan Serfontein en Dries Swanepoel het tussen 2007 en 2011 die middelveld vir Grey beman. In die tydperk was die skool se eerstespan slegs een keer in 2009 aan die verloorkant. Grey kon sedertdien nog nie weer daarin slaag om ‘n jaar onoorwonne af te sluit nie.
| Grey-kollege bepalings 2017 | |
| 11 Maart | vs. Waterkloof (T) |
| 16 Maart | Vrystaat-liga wedstryd |
| 25 Maart | vs. Maritzburg College |
| 1 April | Union HS Fees |
| 3 April | Union HS Fees |
| 22 April | Vrystaat-liga wedstryd |
| 29 April | vs. Boland Landbou (WK) |
| 1 Mei | vs. Paarl Gimnasium (WK) |
| 6 Mei | vs. Affies (T) |
| 13 May | vs. HJS Paarl (T) |
| 20 May | vs. Selborne College (W) |
| 5 Augustus | vs. Grey PE (T) |
| 12 Augustus | vs. Glenwood (T) |
| 19 Augustus | vs. Paul Roos Gimnasium (W) |
| 21 Augustus | Moontlike Shimla-liga Halfeindstryd |
| 28 Augustus | Moontlike Shimla-liga Eindstryd |
Pretorius en Van Heyningen het albei reeds die Vrystaatse Cravenweek-span verteenwoordig en dit was reeds verlede jaar op die toernooi in Durban duidelik dat daar nog baie van die spelers verwag kan word. Pretorius het ook reeds vir die Suid-Afrikaanse Skole-span uitgedraf, terwyl van Heyningen vir die SA Skole A-span in aksie was.
Buiten die senterpaar sal die vleuel Henk Cilliers ook vanjaar weer vir die span beskikbaar wees. Die losskakel, Christopher Schreuder, en heelagter, David Kriel, het verlede jaar hul kanse in die eerstespan aangegryp na hul weens beserings in die groep nader getrek is.
Schreuder het verlede jaar die doelskop onder hoe druk teen Paul Roos Gimnasium oorgeskop om aan sy span die sege van 34-32 te besorg. Hy was boonop verlede jaar die voorste lopiemaker op die jaarlikse Coca-Cola Khaya Majola-week in Bloemfontein waarna hy met ‘n plek in die SA Skole-krieketspan beloon is.
Grey sal ‘n “onervare” agttal in die veld stoot met slegs die slot Marcel Theunissen wat oorgebly het van verlede jaar se span.
Grey sal op die Wildeklawer-toernooi in Diamantveld teen Boland Landbou en Paarl Gimnasium sake uitspook. Die wedstryd teen Gimmies beloof om die hoogtepunt van die toernooi in die Diamantstad te wees.
Grey het besluit om vanjaar weer nie aan een van die Paastoernooie deel te neem nie. Die span sal Union High se Fees in Graaff-Reinet bywoon. Hoewel die wedstryde nog nie vir die fees vasgemaak is nie, kan Grey dalk teen spanne wat van die Paastoernooie bywoon te staan kom.




