Grey-kollege kou klippe in die Kaap

Grey-kollege se eerste krieketspan het die afgelope naweek, op sy jaarlikse toer na die Wes-Kaap, klippe gekou in die Paarl en Stellenbosch.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die span van Bloemfontein het op Vrydag, 21 Februarie, en Saterdag, 22 Februarie, teen die groot honde van die Boland, Paarl Gimnasium en Hoër Jongenskool Paarl, te staan gekom, waarna hy op Sondag, 23 Februarie, in Stellenbosch met Paul Roos Gimnasium swaarde gekruis het.
Die eerste twee dae het vir naelbytstryde gesorg. Grey moes aan die einde van die eerste dag, in ‘n 30-beurt wedstryd, met ‘n nege-lopie nederlaag teen Paarl Gim die aftog blaas.
Die silwerrandjie was egter dat die gevaarlike Daniel Hattingh sy ritme met die kolf gevind het. Hattingh het die Bloemfonteiners se jaagtog van 174 gelei met sy eerste vyftigtal van die naweek.
Gim se Franco Boonzaaier (47) en Waldo de Jager (41*) het die tuisspan tot 173/7 gehelp. Die besoekers se aanvangsbouler, Otto Krause, het oudergewoonte leiding geneem met die bal om met 2/28 uit te staan. Ongelukkig vir Hattingh en Krause het die res van die Grey-kolwers gesukkel om aan die gang te kom.
Naas Hattingh se 59 lopies, was Albert Liebenberg (28) en Divan Bezuidenhout (27) die enigste kolwers wat ‘n noemenswaardige brydrae kon lewer. Boonop was Gimnasium se Louis Koen uitstekend met die bal en het sy 3/37 die platform gelê vir die res van die boulers om die besoekers uiteindelik, in die 29ste beurt, vir 164 uit te boender.
Die wedstryd teen Die Hoër Jongenskool Paarl het meer van dieselfde opgelewer, met die Bloemfonteiners wat weer gekies om te jaag, eerder as om eerste te kolf. Edrich Hanekom se swaaiboulwerk het die meeste skade aangerig en het hy uiteindelik met ‘n welverdiende 3/27 gespog, terwyl Krause ook weer gewoeker het om twee paaltjies vir 29 op te raap.
Ulrich Drotchie en Gideon du Toit was Boishaai se uitblinkers met die kolf. Drotchie het die kitaar geslaan met 34 lopies, terwyl Du Toit, kort op sy hakke met 31 terug pawiljoen toe is om die tuisspan uiteindelik tot 160/8, onder moeilike kolftoestande, in die toegelate 50 beurte te lei.
Hattingh was weer op sy stukke. Hierdie keer het hy met 76, 17 lopies meer as die vorige dag, gepronk. Bezuidenhout het ook, met twee lopies meer, na 29 verbeter, maar was dit steeds nie genoeg om Boishaai se Raeez Isaacs (3/40) en AB Jacobs (2/28) te stuit nie. Die besoekers het uiteindelik naelskraaps met ses lopies vasgeval.
Sondag, 23 Februarie, het Grey na Stellenbosch vertrek vir sy grootste stryd van die naweek, teen Paul Roos Gimnasium. Die span van Stellenbosch het steeds wonde gelek na ‘n vyf-paaltjie nederlaag twee dae vantevore, teen Afrikaanse Hoër Seunskool, en was oorgehaal om sake reg te stel. Luca Plekker het inderdaad só gemaak en met ‘n pragbeurt reeds vroeg die tuisspan se stempel afgedruk.
Soos teen Affies, het Plekker se hardloopwerk tussen die paaltjies uitgestaan, en het hy Paul Roos se kolfbeurt met ‘n onoorwonne 110 lopies afgesluit om sy span tot ‘n intimiderende totaal van 281/5 te lei. Sy beurt het 135 aflewerings geneem, en agt viere en ‘n ses ingesluit.
Hattingh, met sy span in die moeilikheid nadat Dion Slabber met 4/30 die besoekers op die planke gehad het, was uitstaande. Hy het sy beste beurt van die drie dae gespeel en Grey vir ‘n wyle op die voorvoet geplaas. Anders as die vorige dag, het hy weer teen ‘n treftempo van oor die 100 gekolf. Sy 80 lopies het van net 78 balle gekom, voordat hy uiteindelik vir die laaste keer, met ‘n totaal van 215 lopies oor die drie dae, terug pawiljoen toe gestuur is.
Die tuisspan se Jason Raal (2/15) en Roux Joubert (2/37) het Slabber bygestaan met die bal en, buiten vir Hattingh, die res van die Grey-kolwers laat bontstaan. Die besoekers kon uiteindelik slegs 199 aanteken voor die laaste paaltjie geval het, 83 lopies kort van die wenteiken.
Beknopte telkaarte:
Vrydag 21 Februarie:
Paarl Gimnasium 173/7 (30) (Franco Boonzaaier 47, Waldo de Jager 41*, Charles King 23; Otto Krause 2/28, Henru de Wet 2/28); Grey-kollege 164 (29.1) (Daniel Hattingh 59, Albert Liebenberg 28, Divan Bezuidenhout 27; Louis Koen 3/37, Wian Munnik 2/18, Zayd Abrahams 2/34). Paarl Gimnasium wen met nege lopies.
Saterdag 22 Februarie:
Hoër Jongenskool Paarl 183 (Ulrich Drotchie 34, Gideon du Toit 31, Pieter Gildenhuys 30, Ekstras 26, Neil Louw 22; Edrich Hanekom 3/27, Otto Krause 2/29, Daniel Hattingh 2/43); Grey-kollege 177 (Daniel Hattingh 76, Divan Bezuidenhout 29, Henru de Wet 23; Raeez Isaacs 3/40, AB Jacobs 2/28). Hoër Jongenskool Paarl wen met ses lopies.
Sondag 23 Februarie:
Paul Roos Gimnasium 281/5 (Luca Plekker 110*, Matthew Seymore 57, Liam Basson 54, Reuben Coetzee 21; Jano Venter 3/39); Grey-kollege 199 (Daniel Hattingh 80, Albert Liebenberg 29, Jaco Prinsloo 22; Dion Slabber 4/30, Jason Raal 2/15, Roux Joubert 2/37). Paul Roos Gimnasium wen met 83 lopies.