Grey-kollege kan Saterdag eie Bok-rekord teen Skotland ewenaar
GREY-KOLLEGE kan Saterdag in Nelspruit sy eie Springbok-rekord van agt oudleerlinge van ’n skool in ’n rugbytoets ewenaar.
Agt oudleerlinge van die skool is gister in die Bokke se 23-tal vir dié toets teen Skotland in die Mbombela-stadion ingesluit. Drie oud-Greys – die skrumskakel Ruan Pienaar, stut Jannie du Plessis en haker Adriaan Strauss – is in die beginspan ingesluit. ’n Verdere vyf, die haker Bismarck du Plessis, die stut Coenie Oosthuizen, die slot Flip van der Merwe, die skrumskakel Piet van Zyl en die senter Jan Serfontein, sit almal op die plaasvervangerbank.
Grey het in 2010 teen die einste Skotland die rekord na agt spelers verbeter toe Frans Steyn (senter), Deon Stegmann (flank) en die Du Plessis-broers in die Springbokke se beginspan uitgedraf het. Strauss, CJ van der Linde (stut), Van der Merwe en Pienaar het toe speelkans van die bank af gekry in ’n toets wat die Skotte 21-17 gewen het.
Die vorige rekord het 114 jaar lank agter die naam van Diocesan-kollege van Kaapstad (Bishops) gestaan.
Sewe spelers van Bishops het op 30 Julie 1896 teen die toerspan van Brittanje op die veld gedraf. Hulle was Biddy Anderson, Charlie van Renen, Fairy Heatlie, Paul Scott, Frank Guthrie, Francis Myburgh en Percy Twentyman-Jones. Suid-Afrika het die toets 0-8 op Crusaders se veld (deesdae St. Georgepark) in Port Elizabeth verloor.
In 2010 teen Skotland was daar tien oudleerlinge van Bloemfontein in die wedstryd in aksie. Buiten die manne van Grey het die flank Juan Smith (JBM Hertzog) en losskakel Morné Steyn (Sand du Plessis) ook in dié wedstryd gespeel.
Steyn sal Saterdag ook teen Skotland uitdraf.
Verlede Saterdag teen Italië was ses oud-Greys naamlik Serfontein, Jannie du Plessis, Strauss, Pienaar, Van der Merwe en Oosthuizen in die Groen en Goud in aksie.
Verskeie skole het reeds vier spelers in ’n Bok-span gehad. Grey het in 1977 teen die Wêreldspan vier verteenwoordigers – Morné du Plessis, Theuns Stofberg, Dawie Snyman en Robbie Blair – gehad.
In 2004 het Paarl-Gimnasium vir Marius Joubert, Jean de Villiers, Schalk Burger en De Wet Barry in verskeie toetse saam op die veld gehad.
Nog ’n skool uit die sentrale streek, Kimberley Boys High, het vyf spelers tot die toetsspan in 1903 vir die toets teen die Britte in Kimberley bygedra. Hulle was Klondyke Raaff, Syd de Melker, Jackie Powell, Uncle Dobbin en Rajah Martheze.




