Grey-kollege bult spiere by Jean de Villiers o.16-rugbyfees
Grey-kollege van Bloemfontein het sy spiere behoorlik op die eerste dag van die jaarlikse Jean de Villiers o.16-rugbyfees in die Paarl gebult. Die span van die Rosestad het die gasheer, Paarl Gimnasium, met 33-3 in die hoofwedstryd kaf gedraf.
Grey kom Maandag op die tweede dag van die toernooi teen Potchefstroom Gimnasium te staan. Die Gimmies het op die eerste dag vir Framesby van Port Elizabeth met 35-28 verslaan.
Stellenberg se sege van 32-18 teen Monument sou die skool van Bellville se ondersteuners breed laat glimlag het. Stellenberg sal op die tweede dag van die toernooi teen Waterkloof te staan kom.
Die Klofies het op die eerste dag die knie met 6-28 teen Oakdale Landbou gebuig. Die span van Riversdal sal weer op sy beurt vir die Hoërskool Nelspruit in sy tweede wedstryd pak.
Paul Roos Gimnasium wat vanjaar self met ‘n bulspan spog het vir die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria met 15-3 verslaan. Menlopark het vir Outeniqua met 19-15 in ‘n klipharde tweestryd geklop.
Al die uitslae:
Grey-kollege 33, Paarl Gimnasium 3; Hoër Jongenskool Paarl 15, Noordheuwel 10; Paul Roos Gimnasium 15, Affies 3; Oakdale Landbou 28, Waterkloof 6; Stellenberg 32, Monument 18; Menlopark 19, Outeniqua 15; Nelspruit 20, Brandwag (Uitenhage) 13; Diamantveld 19, Marlow Landbou 14; Potchefstroom Gimnasium 35, Framesby 28; Rustenburg 41, Durbanville 7.
[powr-comments id=”9b9c2c97_1648457582459″]




