Grey bo-baas teen Menlopark
Grey-kollege gaan vanjaar weer ‘n krag op skolevlak wees. Dit is die opinie van die Hoërskool Menlopark se afrigter, Wynand Moolman, na sy span Saterdag in die Rosestad teen Grey met 50-27 in die stof gebyt het.
Die tuisspan het in die eerste helfte teen ‘n sterk wind ingespeel en dit het bygedra dat Menlopark teen lemoentyd ‘n voorsprong van 20-12 geniet het. Die span van Bloemfontein het in die tweede helfte met die wind in sy seile tot ‘n hoer rat oorgeskakel om uiteindelik gemaklik as oorwinnaars van die veldt e stap. Die span van die Jakarandastad is waarskynlik die beste span in Pretoria vanjaar.
Grey se beste speler in die kragmeting was sy vleuel, Dian Gouws, wat met sy drie sy ongelooflike vaart ten toon gestel het. Voorlangs het die slot, George “Bakkies” Rossouw, uitstekende spel gelewer.
Grey se losskakel, Mario Vieira, het 20 punte tot sy span se oorwinning bygedra. Hy het een van sy span se sewe drieë afgerond, slegs een doelskop skeef gekorrel en ook ‘n strafdoel tussen deur die pale gejaag.
Menlopark se senterpaar, Wayne van der Bank en Stean Pienaar, het Grey vroeg problem besorg. Van der Bank het vroeg oorgeduik, maar moes kort daarna weens harsingskudding die veld verlaat. Die besoekers se losskakel, Brian Bouwer, het met ‘n indrukwekkende skepdoel van ongeveer 50 meter met die wind van agter geslaag.
Diamantveld het in ‘n nat wedstryd op sy tuisveld met 24-0 oor Duineveld van Upington geseëvier. Die span se vleuel, Etdeon Greyvenstein, het twee keer gaan druk. Diamonds het met die omdraaislag met 14-0 voorgeloop.
Noord-Kaap het op sy tuisveld vir in haglike weersomstandighede vir Landboudal van Jacobsdal met 19-7 getroef. ‘n Sterk wind en reën het verhoed dat Northerns se agterhoede sy normale spelpatroon kon volg.
Lanties het Noord-Kaap hard vir dié sege laat werk. Die wenspan se agtsteman, Gerhard Holtzhausen, was soos gewoontlik uitstaande. Northerns se derde span het Adamantia se eerstes met 34-12 verslaan.
Jim Fouché en Fichardtpark het met gemengde welsale uit Bethlehem na die Rosestad teruggekeer. JF het ‘n naelskraapse sege van 24-23 oor Witteberg behaal. Die span se losskakel, Tiaan Schutte, se akkurate stelskopwerk was sleutel tot die oorwinning. Witteberg se Tiaan Schoonraad het ook sy skopskoen die praatwerk laat doen.
Fichardtpark het met 22-5 die knie teen Voortrekker gebuig. Die Trekkers se Nico Charilaou het twee keer Fichies se doellyn oorgesteek. Die losvoorspelers, Eckhardt Kuhn en Hugo Maartins en die slot Adriaan Grabe was voorlangs goed vir die verloorspan, terwyl die senter Lohan Zeelie agterlangs meer as sy deel gedoen het.
Puntemakers:
Grey-kollege 50 (12) – Drieë: Sentle Lehoko, Mario Veira, Dawid Snyman, Dian Gouws, PR Serfontein, Gerrie Koegelenberg, Rewan Kruger. Doelskoppe: Veira (6). Strafdoel: Veira. Menlopark 27 (20) – Drieë: Wayne van der Bank, Stean Pienaar, Andell Loubser. Doelskoppe: Loubser (3). Strafdoel: Loubser. Skepdoel: Brian Bouwer.
Diamantveld 24 (14) – Drieë: Etdeon Greyvenstein (2), Nico Roets, Gerco Nortjé. Doelskoppe: Nortjé. Duineveld 0.
Noord-Kaap 19 (12) – Drieë: Zayne Farmer, Stefan Smit, Cameron Hufke. Doelskoppe: Hufke (2). Landboudal 7.
Voortrekker 22 – Drieë: Nico Charilaou (2), Michael Janse van Rensburg. Doelskoppe: Anthony Carpentiero (2). Strafdoel: Carpentiero. Fichardtpark 5 – Drie: Lohan Zeelie.
Jim Fouché 24 (0) – Drieë: Vandré Rolls, Poena Pretorius, Tiaan Trollip. Doelskoppe: Tiaan Schutte (3). Strafdoel: Schutte. Witteberg 23 (3) – Drieë: Dean Bubb, Liamzer James. Doelskoppe: Tiaan Schoonraad (2). Strafdoele: Schoonraad (3).




